deur Ferdi Wheeler

Hy sug. Kug. ‘n Rou droë hoesbui oorval hom en hy buig regop in ‘n sittende posisie op die bed. Dit bedaar. Net die geroggel van die slym in sy lugweë is hoorbaar en hy ontspan teen die kussings. Die suurstofmasjien ruis in die stilte en forseer lug deur die dun deurskynende plastiekpypie deur sy neusgate in sy longe in. Hy sluit sy oë want hy’s tot die dood toe vermoeid.

Die minute in die privaat kamer in die kliniek tik verby. Hy swym, maar hy slaap nie. Hy’s net liggies komateus. Hy verbeel hom hoor ‘n vrou saggies lag. Hy frons met toe oë. Die vrou lag weer. Die keer hoor hy dit duidelik en hy maak sy oë oop.

Hy sien haar duidelik in die gemakstoel in die hoek oorkant hom. Sy’s vreemd vir hom. Sy’t ‘n korterige rok van wit katoen aan. Haar knieë en welgevormde kuite wys. Haar swart hare hang in ‘n lang dik vlegsel teen haar slaap en oor een bors af. Sy speel met ‘n skraal hand met die vlegsel. Haar hoof is oor ‘n foto-album op haar skoot gebuig. Sy blaai daardeur met die ander hand. Dan hou sy op blaai, buig haar hoof vorentoe oor die album en lag weer. Die stem is diep en hees.

“Magtig!” dink hy, sonder om aan ‘n verklaring vir haar teenwoordigheid te kan dink. Sy’s nie verpleegster of dokter nie. Dis duidelik. Dit val hom op dat sy pragtig is. Groot bruin oë, fyn neus en hoë wangbene.

Dit gaan so vir minute aan. Sy ignoreer hom en fokus net op die foto-album blaaie. Hy probeer praat, maar eers is dit net ‘n geroggel.

“Wie’s jy?” vra hy dan uiteindelik sag.

“Ek moet jou hierdie foto’s wys,” antwoord sy laggend en staan op en loop na die kant van die bed toe. “Skuif bietjie op, dat ek langs jou kan sit, toe”

Hy wurm sy lyf swakkies na die anderkant van die bed toe. Sy lig haarself op met die tone en gaan sit op die kant van die bed. ‘n Vol warm dy druk teen sy ribbekas. Hy’s uiteraard verward. Hy kan die ronding van een vol bors sien, waar dit langs ‘n oksel uitdy.

“Wie’s jy?” vra hy weer.

“Noem my Anita.”

“Ek ken jou nie.”

“O, maar ek ken jou baie goed,” sê sy en vee met haar kneukels oor sy wang. Haar vel is sag en die aanraking plesierig. Die foto-album lê sy oop op sy bors neer. Die geur van blomme stu in sy neus op, maar hy kan die geur nie plaas nie. Miskien bloeisels van die een of ander aard.

“Kyk,  hier’s jy langs die treinspoor – jou doek wil afval, ou blonde krulkoppie.” Sy kyk glimlaggend na hom.

“Ek?”

“Ja jy. Amper het die rangeerlokomotief jou vermorsel.”

“Die foto?”

“Ek het dit geneem.”

“Jy?”

“Mm,” sê sy en blaai verder. “Onthou jy Turffontein toe jy ‘n joernalis was? Na middernag, as die koerant gesak het, het jy oor die treinbrug en deur die donker strate gestap… Kyk hier: jy het tussen die bendes deur gestap. Kyk na hierdie foto…” Sy lig die album op sodat hy beter kan sien. “Daar loop jy en hierdie man, hier teen die muur, het ‘n mes. Kan jy sien? Hy wou jou lem …”

“Lem?” vra-herhaal hy.

“Ja, maar ek het hom gekeer.”

Hy kyk in die kamer rond. Die situasie is verbysterend. Hy skat haar so dertig. Sy kon onmoontlik nie sewentig jaar gelede en toe weer vyftig jaar gelede hom gekiek het nie! Miskien moet hy die alarm knoppie druk, sodat ‘n verpleegster kan kom help.

“Skatjie!” roep sy sag uit. Sy vat sy hand en druk dit teen haar wang. “Jy moet jou nie ontstel nie. Ek is hier vir jou. Ontspan net.”

Sy oë dwaal oor haar. Sy’s begeerlik. Sy klik met haar tong en sit sy arm terug langs sy sy. “Jy!” sê sy, maar haar oë lag. Sy blaai weer deur die album.

“Onthou jy haar nog? Sy’t jou soos ‘n sak patats gelos en Skotland toe verkas.”

Twee blou oë staar uit die foto na hom. Hartseer wel in hom op.

Sy buk vooroor en soen hom op die voorkop. “Sy’t mos vir burgerskap daar met ‘n Skot getrou. ‘n Paar maande later was hy dood. Dit kon jy gewees het, maar ek het haar gekeer.”

Benoudheid stu in hom op en hy wend sy blik weg na die oorkantste muur toe.

“Ek voel sleg,” prewel hy.

“Ek weet. Dis alles vir die beste,” sê sy en vou die album toe en sit dit op die bedkassie langs hom neer.

‘n Alarm skree yl vanuit die werkstasie van die verpleegsters oorkant die gang.

Die vrou, Anita, klim van die bed af, vat die pant van sy laken en gooi dit terug en ontbloot sy uitgeteerde liggaam.

“Wat doen jy?” vra hy.

“Kom,” sê sy en hou ‘n hand na hom toe uit.

Weifelend neem hy die hand. Dis asof sy krag deur hom laat vloei en hy sit gemaklik regop.

“Staan nou op,” sê sy.

“Maar …”

“Als reg, als reg! Hou net my hand.”

Hy swaai sy bene van die bed af. Staan.

“Nou kom volg my. Jy’s klaar hier.”

Hy loop hand aan hand saam met haar. Hulle gaan by die deur uit. Die alarm skree nog steeds. Daar’s haastige voetstappe agter sy rug in die gang. Hy kyk om. Die verpleegsuster hardloop in die kamer in. ‘n Verpleegstertjie kom ook aangedraf en ontmoet die suster wat weer in die deur verskyn. “Dis te laat. Alles is verby,” sê die suster. “Hy’s weg.”

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Die kortstondigheid van ons bestaan. Briljant. Mag ons almal deur ‘n engel weg geneem word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply