Huisbesoek

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

In die tyd toe ek en Hermien op Heidelberg ontvang is, was daar ‘n hele aantal vrome geloofsvaders en -moeders wat ons hande geval en ons begelei het. Dit was nou nie van die wal tot in die sloot nie, maar van die sloot tot op die wal. Hulle was die mense wat met die eenvoud van hul geloof vir jou as sogenaamde “Godsman” die pad aangedui het en soms ook betig het.

So het oom Rauben my eendag plaas toe laat kom. Ons is in sy bakkie en berg toe. Weg van alle mense het hy met liefde in sy oë vir my gesê: “Dominee, jy het Sondag gesê dat ons ou Jan maar moet laat staan, want daar is geen salf te smeer aan hom nie. Moet dit nooit weer van enige dwalende sê nie, want dit kan dalk net volgende keer ek wees wat jy aan my eie lot oorlaat – dit is jou taak om ons hemel toe te lei. Jy moet praat – tydig en ontydig – jy moet salf smeer terwyl jy nog kan.” Van toe af kon ek niemand geestelik afskryf nie.

Huisbesoek was dus ‘n manier om salf te smeer! Oom Stoney Steenkamp was ouderling en hy het my vertel van tannie Meraai Beukes wat neffens Brakkekuil gewoon het, wat nog besoek moes word. Hy was redelik onwillig om haar te besoek want sy het so ‘n baster brak (of al wat ek van die dier kan sê, is dat hy ‘n opregte hond was – sy pa en sy ma was wel honde maar die afkoms was onbepaalbaar) wat vreemdelinge wat op die werf kom, wil opvreet – en nie uit liefde nie!

As Daniel die leeukuil moes in oor sy geloof, dan moet ek seker die brak trotseer, in die geloof. Toe oom Stoney van my voorneme hoor, het hy homself saamgenooi en vir ons ‘n afspraak gemaak.

Ek het hom opgelaai en op pad daarheen het hy sy pyp vuurwarm getrek dat die vlamme staan. Op die werf het die hond ons kom begrom en beblaf. Ons het bly sit tot die hond agter slot en grendel was. Tannie Meraai was bedlêend en hardhorend wat veroorsaak het dat daar net een luide dialoog in die kamer was. Die bed het in die middel van die kamer gestaan en die sitplek was ‘n lae biduurbankie wat die volle lengte van die bed tussen die bed en die muur ingedruk is. Die ouderling het op die bankie, aan die koppenent van die bed se kant, gaan sit en sy respekte betoon. Die woord is toe die leraar oorgegee om die Woord te bedien.

Uit die hoek van my oog sien ek dat die vrome ouderling met iets anders besig is as om na die Woord te luister, maar ek het my fokus behou. Sou hom later vra.

Op pad huis toe was daar ‘n gees van verligting in my bakkie want ons is daar weg sonder enige wonde. Oom Stoney het die ys gebreek deur te vra of ek gesien het wat met hom gebeur het tydens die besoek. “Sien, toe ek gaan sit, kom die hond die kamer in en kruip onder die bed in. Die volgende oomblik steek hy sy kop tussen my bene deur en rus sy kop op my skoot. As hy sy bek oopmaak, is dit net tong en tande! Ek onthou toe gelukkig dat Barbara Woodhouse gesê het dat jy nooit aan ‘n hond se kop moet vryf nie, maar wel sy bors. Toe vryf ek vir my lewe!” sê oom Stoney terwyl hy weer die pyp suig dat blou dampe die bakkie se kajuit vul. (Dit was natuurlik die dae toe tabak ‘n gesonde vertroosting was!)

Tuis het tannie Ria vertel dat oom Stoney sy oudste plaasklere vir die besoek aangetrek en vir bewaring teen die hond met huisgodsdiens gebid het!

Glo ons werklik in gebedsverhoring? Is God se arm te kort om te help? Is Hy te ver om met jou en my betrokke te raak? Selfs al gaan ek deur donker dieptes, Hy is met my! Daarom glo en jy sal gered word! Met my God spring ek oor ‘n muur, loop ek ‘n bende storm! Het God nie die leeus se bekke vir Daniel gesluit nie? En Tannie Meraai se hond se bek …

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar