‘n Heilige in Malawi

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Volgens sommige was dit per toeval dat hy ons pad gekruis het, maar ons weet van beter …

Toe ons die eerste oggend sou uitreik was hy reeds daar met sy dun hempie en beplakkiede kaalvoete, vriendelike glimlag, groot tande en al. As hy loop, kom ‘n mens dit agter dat hy ‘n stywe been het. Van die eerste dag af het hy op die agterste sitplek van die bakkie gaan sit en hierdie voet, tone en al, tussen die twee voorste sitplekke op die armleuning gestut as ons ry! “Nogal gemaklik né!” (by my selwers gedink).

Noudat ek terugdink oor die twee weke saam met Togo is ek spyt dat ek nie eerder sy voete gewas het nie – want hy was dit werd en dit sou vir my ‘n eer gewees het.

Later sou ons hoor dat die horrelbeen die oorsaak was van ‘n ongeluk toe ‘n buitelander onder die invloed van alkohol hom van sy fiets gery het. Maar daar is geen haat of verwyt in sy stem nie. By die eerste plek waar ons sou uitreik het Togo moeisaam uitgeklim en eenkant gaan staan. Ons is verwelkom en hande, wat wie weet waarvandaan kom, geskud.

Toe staan Togo nader! Afrika is ‘n plek van ritme, polsende ritme! Om te dans tot eer van God is so natuurlik soos jou eerste koppie koffie in die oggend. As die ritme reg is, dan rys die woorde van die lied in die ritme en in die woorde van die lied kook die aanbidding van God oor. Met stywe been en al lei hy die groep tot ‘n uitbundige gehuppel en die vroue jil tot eer van die God wat hulle so lief het! En God? God verkneuter Hom in sy seun “met die lendelam hoepelbeen”.

As die stof gaan lê, daal dit sagkens neer op die grond, op die uitbundige groepie gelowiges, op die tone en die plakkies – maar die stof het nie in die harte gaan lê nie want nou was die harte oorgehaal vir die seën wat net God kan bied.

Eendag tydens `n bybelstudie worstel ons met die vraag: hoe `n mens met jou vyand moet praat? Die een het gesê dat jy die reg om jou vyand te ignoreer. Die ander dat jy maar kru en hard en liefdeloos mag wees. En Togo? Hy het met groot nederigheid gesê dat hy met sy vyand sal praat soos wat hy met Christus sou praat. Want sy vyand is ook geskape na die beeld van God en dan is liefde die enigste manier om jou naaste (vyand?) na God te trek.

Togo, kom sit in my bakkie – op die agterste sitplek met jou stywe been op die voorste armleuning – jy behoort voor te sit sodat jy nog gemakliker kan saamry! Hoe kon ek jou voete, en tone, by my laat verbygaan en dit nie gewas het nie!

Medereisiger leer by my foute! Heilige voete is soos ‘n wasem …

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar