deur Bert van der Walt
Die gevoel van sand in my oë en die droë wollerige tong bevestig dat ek nie eintlik ‘n drinker is nie. Ten minste nie ‘n heavy drinker nie. Goed, darem nie ‘n volslae alkie nie. Ek word baie moeilik wakker op die rusbank en my oë fokus stadig op die koffietafel vol leë bottels. Die lirieke van Pearl Jam se “Given to Fly” draai in my kop en ek besef ek sal iets moet doen om my lewe op koers te kry.
Ek besluit daar en dan om in die bakkie te klim en die vars lug van die see te gaan opsoek en daar te wag vir die wind en die golwe om my kop skoon te kry. Na twaalf uur op die pad bel ek my beste vriend Marko.
“Guten Tag. Melkbos Gasthaus.”
“Guten Tag Marko, drop nou maar die fake Duitse pose, Vries hier. Vries die werklose.
“Jirre Vries wat het jy nou weer aangevang? Waar’s jy?”
“My uitgewers het uiteindelik besef hulle kan my nie verder terughou nie; toe het hulle my uit liefde vrygelaat. Ons het seker maar uitgekuier geraak.”
“Wat van jou laaste boek?”
“Wel, dis klaar en die boekbekendstelling is volgende week in Johannesburg. Ek is dus tegnies werkloos. Ek draai nou van die R27 af in by Melkbos. Het jy plek tussen jou spul Duitsers?”
“Man jy kom of jy gestuur is. Ek het beter nuus, ons waai oor ‘n uur Sederberge toe vir sewe dae en aangesien ons met jou bakkie gaan ry, smaak dit my jy gaan saam.”
Ek merk haar dadelik op toe sy en die akteur hand aan hand naderstap. Nog effens ongemaklik tussen Marko se groep vriende bekyk ek die twee maar so onderlangs, hopelik ongemerk, terwyl almal haar luidrugtig groet. Sy is lenig en atleties gebou, haar donkerbruin, amper swart bos hare hang los op haar skouers en sy beweeg met ‘n gemaklike grasie. Aan hierdie kant van die vuur kan ek haar op my tyd beskou, en dit is haar donker wenkbroue, goudkleur oë en vol lippe wat my die meeste opval. Flippen akteurs kry altyd die mooi girls. Ek hoop nie dit sê iets van haar nie.
Marko verskyn uit die donker en sleep my na die ander kant van die vuur.
“Vries, jy het netnou al vir Kobus die akteur ontmoet. Hierdie is Kat.”
“Jy kan my Katryn noem, dis wat my vriende my noem.” Sy gluur Marko veelseggend aan.
Ek is verras deur haar ferm greep.
“Vries, aangenaam.”
Marko babbel voort: “Kat is ‘n kunstenaar slash juweelontwerper en Vries Aangenaam is ‘n… ‘n … wel, werklose swerweling.”
Daar is ‘n ongemaklike stilte en ek voel hoe Katryn my opsom. Dan uiteindelik vra sy: “Vries? Wat ‘n weird naam. Is jy Albert de Vries, die skrywer?”
Ek knik verleë. “Kan ek vir jou iets ingooi om te drink, ek gaan nou vir my wyn kry?” vra ek lomp.
“Rooi asseblief, net nie Pinotage nie. Wag, ek stap eerder saam en kyk dat jy nie rubbish ingooi nie. Ek moet erken ek het nog net een van jou boeke gelees, dit was heel okei.” Sy lag klokkiehelder,
Dit is te donker om haar gesigsuitdrukking te peil, selfs in die sterrelig, maar ek sweer sy het duiweltjies wat in daardie twee goue poele speel. Ek skink rooiwyn in en staan ongemaklik met die glase in my hande. Sy gaan sit op een van die stoele nie te ver van die vuur af nie en wys dat ek langs haar moet kom sit.
“Hoe ken jy vir Marko?,” vra sy. “Ons het Marko in Melkbos ontmoet toe ons daar oorgebly het met een van my broer se shoots.”
My skaapagtige uitdrukking moes my seker verklap het.
“My broer. Tweelingbroer. Kobus. Die akteur.”
“Aaah ek sien, Kobus is jou broer – ek sien nou die trekke. Jy is darem bietjie skoner van gelaat met minder baard.”
Sy lag spontaan en uitbundig, gemaklik met haarself. Ek lag sag saam.
Ons sit tot nanag op die klipstoep, gesels, drink wyn en bewonder die Sederberge se biljoene sterre. Ek wys vir haar waar haar sterreteken in die bybelswart hemel sit, soek met moeite myne waar dit gedeeltelik bo die bergpieke noord van ons uitloer.
Ek kan nie anders as om diep onder die indruk te kom van Katryn se intellek en absolute skoonheid nie, aangenaam en gemaklik in haar vel. Sy vertel interessant van haar juweelontwerpe en die prosesse om die silwer te smee terwyl ek die gesprek wegstuur van boeke en gruwelverhale. Tog trek sy dit behendig stuk-stuk uit my uit en sy luister met belangstelling hoe ek nog volgende week die bekendstelling van my nuutste speurroman moet bywoon.
Presies wat tussen ons gebeur het, is nog steeds nie vir my duidelik nie, maar ons gretigheid om mekaar te leer ken maak van elke oomblik saam ‘n kosbare asemteug. Dit is dus moeilik om ‘n paar dae later afskeid te neem sodat ek na Johannesburg kan vlieg vir die boekbekendstelling.
Op pad terug van die boekbekendstelling dink ek in die vliegtuig oor die afgelope vyf dae se gebeure. Kan dit moontlik wees dat ek binne een enkele dag so ‘n diepe liefde kon ervaar? Niemand glo tog in liefde met die eerste oogopslag nie, of hoe? Ek het al voorheen gat-oor-kop verlief geraak, maar ek wéét dat hierdie iets anders is as ‘n blote oppervlakkige emosie.
In die Kaapstadse aankomslokaal onthou ek dat ek nie vroeër Marko se oproep kon neem nie, ons was op pad om op te styg. Ek wonder vlugtig hoe Marko selfoonopvangs op die plaas gehad het, en skakel hom dadelik.
“Hallo, Vries,” antwoord Marko byna onmiddellik.
“Hi Marko, wat vang julle in die berge aan ou maat, julle mis my seker al?”
Daar is ‘n lang stilte.
“Pêlla, ek het slegte nuus. Ons het… ons is nou by… daar was… uhm, daar was ‘n ongeluk.”
“Waarvan praat jy Marko? Waar, wat het gebeur, vertel!”
Ek laat val die selfoon en gaan sit plat op die teer in die parkeerterrein en gryp my kop vas. Katryn, Katryn, Katryn maal dit deur my gedagtes. Dit begin stadig insink: Katryn en van die rotsklimmers in die groep het een van die sandsteenformasies uitgeklim, sy het haar greep verloor en geval. Dit was noodlottig. In my geestesoog vorm daar ‘n beeld van haar donker hare, klam oor haar bleek, pragtige, perfekte gesig, haar gebroke liggaam. Die goudbruin oë is toe, ek kan nie ‘n prentjie vorm van die spikkeltjies nie. Ek snak na asem. Katryn, Katryn!!! Iemand praat met my maar ek kan nie die woorde uitmaak nie, nog iemand hou water teen my lippe en ek sluk werktuiglik. Katryn!
Naskrif
Ek verlustig my in die sterrehemel bo die plaas. Ek het vroeër die maand okkupasie geneem van die plaas waar ek saam met Katryn die beste paar dae van my lewe deurgebring het. Die koopprys van die plaas kon ek bymekaarmaak deur die afgelope paar jaar soos ‘n besetene te werk en dit vervul my met bittersoet vreugde om hier stil te raak. Die stoel langs my op die stoep is leeg, maar dis hier waar Katryn na my toe kom. Ek sal altyd hier wees. En sy by my.
