Nommer Asseblief

Wat ‘n wonderlike tyd was die era van die handsentrales nie! Die poskantoor was toe meer menslik en simpatiek en het diens gelewer soos nooit daarna nie. Ek verlang vandag nog na die tyd toe jy die slinger gedraai het en die towerwoorde “Nommer asseblief” jou binne oomblikke in kontak kon bring met ouma Kaap en ouma Calvinia of die prof op Stellenbosch of met die verspreider in die Kaap want die Koöperasie “verwag” die voorraad al vir ‘n maand – maar die “geboorte” vind nie plaas as daar nie ‘n stukkie eie inisiatief aan die dag gelê is nie.

Elke operateur het sy eie styl van praat gehad: Oom Griesel met sy kuggende laggie wat deur die neus trek , wat my gou die nuutste wil vertel van die “ou vrou”; oom Jan met sy “Nommêr” – soms saaklik en streng, ander tye vertel hy van sy groentetuin en sy dahlias. Albie – professioneel en kortaf. Pieter was weer die man wat jou op hoogte kon bring met die visvangery die vorige nag! Dan was daar ‘n Tannie Marie – ek het soms gewonder of sy nie die pastoor vertel van al die siekes op die dorp wat die dokter skakel nie, want soms was hy voor my by daardie siekes!

As daar nood is, siekte of dood , kon jy maar jou lysie met nommers gee en soos jy die een gesprek voltooi, lui die volgende al! Dit was nou liefde om namens iemand anders dieselfde nommer oor en oor te skakel tot die stroppe getrek en met jou nommer verbind word. Dan was hulle ook uitstekende bloedhonde. As ek vir Willem skakel oor ‘n stukkie vleis, dan word daar maklik gesê dat hy nie op Melkhoutkraal is nie. “Nee, sien dominee, hy slag vandag by Boetman!” Of as ek wou huisbesoek doen in Witsand, het ek sommer net vir Dina, van die sentrale daar, gevra om dit te reël. Binne “twee kortes en een lange” word alles vir my gereël!

Ek salueer julle – operateurs – en bely dat ek nie dankbaar genoeg teenoor julle was nie. Mag julle in die hemel net beleefde inbellers en onbesette nommers kry! Dan was daar die afluisteraars wat die plaaslyntegnologie nie verstaan het nie, met ander woorde hulle wou dit nie glo dat ‘n plaaslyn dowwer word as daar meer as een gehoorstuk teen ‘n oor vasgenael is op een lyn nie. Daar word vertel van die tante (ek noem geen name nie) wat so knaend ingeluister het. Een van die medegebruikers was moeg van die ontkenning en sê toe vir die gespreksgenoot: “Tannie So-en-so is weer op die lyn! Ek hoor haar ganse op die werf!” Skielik was daar nog ‘n spookstem op die lyn: “Is nie my ganse nie want hulle is almal verlede week geslag!” Waarom hou ek nie daarvan as mense op my oproepe inluister nie? Is dit dalk oor wat ek sê of probeer ek my geheime bewaar? Sou dit impliseer dat ek ‘n dubbellewe leef – een voor die mense en ‘n ander wanneer ek nie voor die mense is nie?

En ons het so baie geheime, of kom ons noem dit: dinge waaroor ‘n mens nie praat nie – my skuld aan die koöperasie/bank, my ware opbrengs per hektaar, toetsuitslae, my kind wat afgedwaal het en oorsee sit, my depressie, my spanning met my geliefde en ander mense, my eie sonde, my finansiële krisis, ens. Ons soeke na privaatheid laat ons wegkruip soos Adam en Eva wat ‘n geheim wou wegsteek – hul ongehoorsaamheid aan God. In die bergrede sê Jesus dat alles wat in die geheim gedoen word, openbaar sal word. Jou besoeke aan die “dames van die nag”, homoseksuele verhoudings en perverse partytjies, jou bedrog en diefstal by die werk, jou taalgebruik, jou liefdeloosheid… Ironies dat God alles van my weet en ek vrees meer die mense as vir God wat alles weet en selfs oor my gaan oordeel. Daarom: moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. God sien selfs dit wat in die verborgene gedink en gedoen word. Pasop – vir jouself!

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Leave a Reply