Om te verdwaal

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Meer mans verdwaal as vrouens, word deur “gesaghebbende” bronne geskinder. Lede van die vroulike geslag, word beweer, verdwaal minder want hulle is bereid om hul trots in hul sak te steek en rigting te vra, selfs vir wildvreemdes. En mans …

Wat my die meeste opval is die feit dat as jy verdwaal, jy weg van jou bestemming verdwaal. Verdwaal het die manier om jou net nog verder van jou bestemming weg te laat beweeg. Dit gebeur ook soms dat ‘n uiters onlogiese verdwaal plaasvind – jy raak so deurmekaar van die verdwaal dat jy op die plek uitkom waarheen jy op pad was voordat jy begin het om te verdwaal! Dit noem ek GENADE!

Een van die dae is die verleentheid van verdwaal iets van die verlede as elke voertuig toegerus is met sy eie GPS, behalwe natuurlik vir die tegnologies-gestremdes wat geen selfvertroue het met die gevorderde elektronika nie. Sommige mense is vreeslik goed rigting ge-oriënteerd. My vrou kan jou presies vertel waar die son gaan opkom en aan watter kant van die motor jy moet sit om nie te braai in die son nie. Ek verdwaal nie juis in die skiereiland nie want Tafelberg bly my verwysing. Jy kyk net na die berg en met driehoeksmeting plaas jy jouself, waar jou bestemming lê, en jy ry in daardie rigting. As Van Hunk en die duiwel besig raak, dan is my rigting belemmer deur die mis(-wolke)!

So het ek een aand ‘n biduur gehou op ‘n plaas op die vlakte tussen Heidelberg en Witsand. Toe ek groet, vra die vriendelike broer of die nuwe predikantjie die pad huis toe sal kry. Net op daardie oomblik begin ek twyfel of die plaas aan die Swellendam se kant of die Riversdal se kant van die Heidelberg/Witsandpad lê. Maar ek is vir jou trots, te trots om te erken dat ek nie die vaagste benul het nie!

Ek ry toe met die eerste-die-beste plaaspad wat ek kry en redeneer as volg: kom ek by die teerpad, gaan ek net kyk na watter kant die meeste wielspore uitdraai – dit behoort my by die dorp uit te bring! Jy het reg geraai: in plaas van noord het ek toe suid gedraai, want daar was twee paaie van die plaas na die teerpad, elk met sy eie bestemming. Eers toe ek die soutpan op my regterkant sien, besef ek my fout – ja, ek was byna in Witsand en dit om twee redes: ek was te trots om raad te vra, en dan dat die meerderheid nie noodwendig die regte koers aandui nie!

Leer by ander en moenie te trots wees nie, net jy sal daaronder ly of die voordeel trek! (Het ek dit maar ook as kind geglo!) Jy hoef soms nie eens die vrae te vra nie, hou net jou oë en ore oop. Hierdie reël geld vir die oerwoud en die betonoerwoud!

Is die meerderheid altyd reg? Gaan dit om wat reg is of wat die meerderheid wil hê reg moet wees? Die duiwel het in die stem van die meerderheid daarin geslaag om soms wat reg en waar en goed is te verduister deur sy kragvertonings, verbaliteit en selfs deur dreigemente.

Histories gesproke was die Christendom se donkerste tye toe die Kerk beheer uitgeoefen het met byvoorbeeld die kruistogte of toe die Kerk gehoorsaam gebuig het onder die staat. Die Kerk van Jesus Christus moet altyd op ‘n kritiese afstand van die politiek staan en sy eie identiteit in Christus vind en dit laat geld of anders gestel “die sout van die aarde” wees.

`n Goeie kollega het altyd gesê: “As jy jou nie teen die duiwel vasloop nie, loop jy in dieselfde rigting as hy!” Christen-wees is per definisie anders-wees as die wêreld, dit behels heilig-wees! As jy heilig is, sal jy nie na die hoeveelheid wielspore op die pad kyk om vir die waarheid te soek nie – jy sal weet wat die regte koers is, want God het jou daarin gelei! En jy sal die hele gemeente op sleep neem.

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar