Probleme op Markdag

(Met apologie hier en daar aan Kingsley Amis en ander dronkgatte)

Noudat Oom Hansie die laaste dubbel weggeslaan het, voel hy sommer heelwat beter. Hy sit die glas neer, groet sy pelle by die toonbank en mik deur toe terwyl Vlekkie blaffend vooruit bokspring. Vlekkie ry nie graag saam met die Oom as hy ´ paar brannewyne in sy lyf het nie, en hy spring en kef gewoonlik totdat die Oom teen sy beterwete in, besluit om oor te bly by die hotel. Vanaand steur Oom Hansie hom nie aan Vlekkie nie en roei by die swaaideur uit, snak na sy asem as die Saterdagmiddaglug hom in die gesig tref, maar beur tog moedig voort tot by sy bakkie. Na ´ kort bepeinsing stap hy fier en regop terug om sy sleutels te gaan haal. Hy is al gesout in hierdie dinge en weet dat hy op sy beste lyk as hy sy kop mooi kan stilhou en kordaat stap soos een van Koningin Liesbet se paleiswagte.

Onskuldige omstanders verkneukel hulle natuurlik oor die man wat lyk of hy in ´ roeiboot op die oopsee stap. Hulle sien net nie die besigheid uit Oom Hansie se oogpunt nie, dis al.

“Oom Hansie kan mos nie nou loop nie!” roep Kaatjie die kroegmeisie vriendelik van agter af.

“Ek kan loop net wanneer ek lus het en ek sal nie lat iemand vir my sê wanneer ek kan loop nie want ek kan loop net wanneer ek lus het.” brom Oom Hansie onderlangs. Vir die nugter oor klink dit of die Oom borrels blaas, maar die Oom is hoogs tevrede met sy gevatte antwoord.

“Nee, ek meen Oom Hansie het genoeg change oppie counter vir nogge dop”

“O, nou hoekom sê jy nie so nie kint” lag Oom Hansie en neem weer met groot moeite sy plek in langs Oom Frik wat al uitgepaas op sy arms lê, snor wat weerskante van sy gesig uitsteek soos Harley handlebars. Natuurlik is die stoel aansienlik kleiner as netnou en Oom Hansie konsentreer diep en innig totdat altwee sy boude op die stoeltjie is.

Toe Oom Hansie oomblikke daarna sy oë oopmaak, weet hy dat daar iets skort. Hy lê doodstil en beweeg sy oë om te sien wat dit is wat hom pla. Iemand het onlangs ´ staalpen in sy skedel gekap, van tussen sy wenkbroue regdeur tot erens agter sy kop uit en hy besluit daar en dan om gesondheidshalwe nooit weer sy oë te beweeg nie. Een of ander wollerige buidelrot of ander diertjie het deur die nag sy tong vir ´ liefdesnes gebruik nadat hy die wande van sy keel met growwe skuurpapier bygedam het. Oom Hansie voel sleg, slegter slegste. Om die waarheid te sê is daar beduidende erdwurmbolliekwaliteite in sy onmiddellike bestaan.

Hierdie dinge verg oordenking. Sonder om tot ´ besluit te kom, begin Oom Hansie instinktief om sy ledemate te roer. “Banp Phabew” prewel hy toe sy linkerhand effens reageer, sy regterhand met meer aanmoediging. Hy waag dit ook om sy oë weer oop te maak. Niks. Hy kyk versigtig na links en dan na regs sonder om sy kop of die staalpen te roer. “Blipfhem pof”. Die Oom voel-voel op die bedkassie langs hom tot hy sy valstande bykry en stamp die plastiekbekertjie waarin hulle was, terstond om. “Jiffiph” Onwillige hande glip sy tande in en haal hulle dan dadelik weer uit, ruil dit om en probeer weer.

Hy skuif nou versigtig sy regterbeen van die kant van die bed af en laat sy voet sak tot op die plankvloer waar sy tandewater van flussies nou lê. “Ai ou Hansie” Nou rus. Volg dieselfde prosedure met linkerbeen totdat daardie voet ook nat is. Stadig en met die grootste simpatie druk hy homself half orent op sy regterelmboog en sit dan regop. “Eina” Hy het vergeet om die staalpen uit sy kop te trek en hy voel-voel waar die ingangswond is. Toe hy die nie kry nie voel hy saggies om sy kop waar die uitgangswond is. Ook niks.

Steeds effens bedwelmd van die pyn veroorsaak deur die staalpen, stap die Oom in sy pajamas met ouderlingstreë na die kombuis waar Sina reeds besig is om mieliepap in sy bord te skep. “More meneer” glimlag sy tandeloos, dog vriendelik. Oom Hansie knik, nie te onvriendelik nie, terug “Gmphff hgrk”. Hy gaan nie sit nie, maar staan langs die tafel en kyk hoe die spek, eiers en pap hom plesierig beskou vanuit hul plaasbotterbad. Maag draai. Moet eet. Voor hy ry.

“Aggenee donner” prewel die ou by homself toe hy besef dat hy vandag sy uie moet mark toe vat.

Oom Hansie tel eers die een eier op tussen sy voorvingers en laat hom soos ´ oester in sy keel afgly. Toe niks gebeur nie, oester hy die tweede eier en laai drie repe spek gelyk in sy mond om die eier mee af te spoel. Sina staar met ongeloof na die tablo wat voor haar afspeel. Sy het so ´ spektakel nog nooit aanskou nie. Die Oom voel beter. Hy prop die res van die spek ook in sy mond, sluk sy koffie met een hou weg en stap uit.

“Hahaha Sina hahahaha kwits” mompel hy tevrede toe hy bakkie toe stap. Hy klim in en draai die venster af. “Sinaaaaa” skree hy. Hy trek sy kop tussen sy skouers in om die ergste klank te demp. “Bring die bakkie se sleutels en my hoed. Toe draf.”

skrywer: Bert van der Walt

Lewer kommentaar

Leave a Reply