Kootjie Petoors

So ´n stuk of honderd jaar gelede, was daar ´n jong penkop met die naam Kootjie Petoors. Kootjie Petoors het in die Wes-Transvaal gewoon op ´ plaas naby Swartruggens. Dit was moeilike tye, want die Transvaalse Republiek, die ZAR, was in ´n oorlog gewikkel met Groot Brittanje. Kootjie se pa was op kommando, terwyl Kootjie vir sy ma en sewe sussies moes sorg, al was hy net 12 jaar oud.

Kootjie se pa kom bitter min huis toe, maar as hy kom is hy gehawend vuil en moeg. Onder sy salpeterbevlekte hoed het hy die treurigste kyk en dan pla die kinders hom maar nie. In sulke tye sit Kootjie se pa en ma lank na donker nog in die kombuis by die tafel en praat met gedempte stemme oor die oorlog. Hulle praat ook baie oor die reent wat wegbly en die beeste wat op strepe vrek. Soms bring Kootjie se pa vir hom iets uit die slagveld, partykeer blink knope wat van Kakies se uniforms afgeval het en ander kere niks. Hy het ook eenkeer vir Kootjie ´ blikkie gebring met sulke vaal vet vleis in. Boeliebief of iets.

As hy daar is praat hy met Kootjie oor die oorlog en dan moet Kootjie vertel wat hy sal doen as die Kakies kom. Kootjie moet dan vertel hoe hy sy ma en sussies sal lei na die grot in die berg naby die opstal. Sy pa het hom al lank terug die plak gaan wys. Hy moet ook vertel hoe hy die koei sal saamvat en hoe hy die saalsakke met meel en biltong in op die koei se rug sal vasmaak.

Dan, na so twee of drie dae, groet Kootjie se pa weer en ry teen sononder die nag in op sy maer perd, vooroor gebuig soos ´ siek man. Al is sy pa vir hom soos ´ vreemdeling, kry hy sy pa altyd jammer.

Kootjie se pa vloek nooit nie, behalwe as hy oor een of ander Cronje oom en ´ Prinsloo oom praat. Die ooms het sonde gedoen maar Kootjie verstaan nie wat dit is wat hulle vir die Kakies gegee het nie. Kootjie hou in ieder geval niks van een van hulle nie en hy is seker President Kruger ook nie.

As Kootjie stap om die hoenders te gaan kosgee en hy sien ´ stofwolkie op die horison, hardloop hy tot by die windpomp en klouter rats na bo om te kyk of dit die Kakies is wat kom. Kootjie ken nie enige kragwoorde nie, en as hy val moet hy maar tevrede wees met ´ harde Halleluja of twee.

Die Kakies kom nooit nie, want as uiteindelik bo, is, sien hy dat dit die ouderling is met sy kapkar, op pad na hulle opstal. Kootjie is darem bly om die oom te sien, want vandat sy pa op kommando gegaan het, help die oom hulle baie mooi, om die waarheid te sê, hy is amper elke dag daar om te kom huisbesoek doen. En dan sommer vir ´ hele ruk ook. Regtig ´ gawe oom want hy bring altyd van daardie taai suikerklontjies in die Jood se winkel vir Kootjie. Kootjie se pa noem die ouderling ´ hensopper. Dit moet ´ deftige woord wees vir hulpvaardig.

As die ouderling voor die opstal stop, is Kootjie by, groet die oom met die hand en lei die donkies na die perdekamp om hulle daar uit te span en voer te gee. Die oom vee dan altyd sy welige weglêsnor mooi plat en skud die stof van sy kispak af voor hy ingaan by die huis.

Kootjie se ma weet seker as die oom kom en dan bak sy gou iets in die ou koolstoof, want as Kootjie later in die voorkamer kom, het sy ma sulke rooi wange soos as sy vir die basaar melktert bak. Die oom sit maar net daar langs haar op die riempiesbank en grinnik.

Sodra die oom en sy ma kamer toe gaan om te gaan bid, weet Kootjie dat hierdie grootmensgoeters is. Dan kry hy sy sussies in die tuin aan die speel en maak hom vinnig uit die voete om in die rivier te gaan swem. Daar sal die oom en sy ma hom nie kan pla nie, hy weet hulle bid altyd lank oor die oorlog.

Skrywer: Bert van der Walt

Lewer kommentaar

Leave a Reply