Woensdag trek ek die een harder na die ander uit en langs my sit my nuwe vriend Rasta Boeta Bee besig om sy taranagi dagga se pitte te skei van die goeie ou goed.
“Nou ja boerjie, ek char mos da tien die heuwel wat djulle whiteys Somerset noem, verstaan djy? Much trusted, ekke en daarom is ek elke wieksdag by ander hoipoloi witmense. Kykie, want hulle trust my omdat onse Rasta stiel mos ni eintlik nie, maar roek net baie. Ek operate in die tuine siet djy en word royaly betaal want die skuldgevoel pak die bliksems biet. Sjie djy nou?”
“Vrydae werk ek by die Betterwills in Heldervue. Ingelse couple op die afdraaende. Praat nie met mekaar nie ma ek mind mos nie want die pay is goed en ek vat my orders van die mêdem af. Sy hou ha biesig met tennis, shopping en beginte vroeg gins te gooi. Saam met die ander mêdems. Roek lang slims en vriet neute uit Woolies. O ja en sy maak ou meubels reg as ‘n stokperdjie en rob dan anders whiteys soe. Sit vir hulle ‘n kop aan.”
“Nou die baas. Wel die baas, hy tjie tjie tjie net op die foun. Hiel dag en al dag. Ma laas Vrydag is die mêdem dorp toe en hy strip sy moer en skrou op die foun: ‘Fine, then it is over between us but you are going to have to give the Chico back you little bitch!’”
“Hy begin toe my kak te vertel oor my roekery en ek sê toe dat miskien moet hy ‘n pil vir die senuwees roek. Dis waar die ou naai toe aggro trek en met my nou gat hek toe te stap. En net da trek sy vrou in met die BMW 4 by 4.”
“‘What the hell are you doing with Boeta Bee, Christopher?’ shout sy. Hy probeer nog iets sê toe begin sy te werskaf da by die groot tafel in die garage en my jirre Francois da kom sy uit met die een poot. Soe groot soos Dingaan se grootste knopkierie. Stinkhout en swaar soes staal. En sy begin hom te klop en gil: ‘I have had enough of your wild moodswings, having Mathilda to clean the stains of your undies and mostly with your adulteration with that little au pair whore of yours! She is just after your little bloody money because you can’t even get it up without your blue pills!’”
“En toe begin die Sufferation want sy moer hom one time my bru. Hy keer nog met sy arms ma sy backhand hom terug en terug en hoor net die arms kraak my bru. Sy bliksem hom in die swimming pool in, met sy pak aan. Once. Toe spring sy agterna. Hele fokkin soapie scene my bru. Die man bloei die bad vol nadat ek dit gechloor het die oggend. ADT stop buite maar wil nie inkom nie want dis nie hulle huis nie. Ons is mos onder Somerset security, sie djy? Ek stiek toe ma ‘n stop op en later nadat die noi ha gin gegooi het kom die ambulance die bloeiende en bedrempelende Mr. Betterwills haal. En ek skoffel die beddings om. Verstaan djy? Minding my own business.”
“Bra Christopher lê nou da in die Medi Clinic. Moertoe. En dis hoekom ek Swazi Gold, Durban Poison en die kak roek. Om kalm te bly my lanie. Kalm te bly. Ek is daai 101 Calmations. Once.”
(foto: Daniele Vico)

Tog te lekker gelees, baie dankie!
geniet jou stories en styl van skryf …
Baie dankie Johan, dit word baie waardeer.