Spiere, sere, vuil toonnaels en pille

Die koning van die kragape was ‘n kort Skotsman met tatoes oral op sy lyf. Gordon het ‘n tabletop hamerkop gehad, en was so woes dat hy sy gewrigte altyd verbind was sodat sy hande nie sou afskeur as hy sy swaar gewigte optel nie. Hy was die man wat ons kon dophou vir tegniek en profesionele steungeluide. Hy was Meneer Bulte, en het gewerk by die Western Suburbs Gym. Die Western Suburbs Gym was geleë langs ou Kaapweg in Westering, Port Elizabeth. ‘n Klein familie besigheid, bo-op die hardeware winkel en reg langs Ann se Chinese kitskos kafee. Dit was bitter vêr se fietsry, maar die moeite werd vir ‘n laatie met baie drome oor eerstespan rugby en die aandag wat daarmee saamgaan.

Die magdom redes waarmee ek my pa oortuig het waarom dit R35 per maand wêrd was, is nou nog geldig. Vir atletiek, beenspiere. Vir rugby, borskas en skouers. Of dit nou wel gewerk het vir al die sport, weet ek nie – maar vir die ego het dit wondere gedoen. Die selfvertroue van ‘n puisiegesig tienerseun, gaan hemelshoog as daar so paar klein spierbulte op sy arms en maag verskyn.

Dit was baie vreemd om alles in die gym te leer ken. Vir die eerste twee weke volg ek en my kameraad, Paul, die uitgewerkte roetine bloediglik, totdat ons besef dat ons die enigste siele in die plek is wat ooit ons heupe losmaak op die draai-tafel. Dis nie koel nie. Deur al die ander spiertiere dop te hou, kon ons vinnig agterkom watter oefeninge “nodig” was. Ons het na ‘n paar weke ‘n lekker roetine gehad, en het ons eie mini Mr Olympia-kompetisies gehou. Paul se bene was vormloos, maar hy het elke liewe keer gewen met leg raises. Borskas was my gunsteling area, want ek kon vir my ouderdom nogal ‘n gewiggie bench-press. Tydens al die sweet en steun, het oom Arnie my dopgehou en sy kop goedkeurend geknik, vanaf sy 1989 Mr Universe poster bokant die tricep-pulldown aparaat.

Terwyl mens in die gym was, het daar altyd iets oor die luidsprekers geblêr. Ek onthou nog: “Life is a highway, I wanna ride it – all night long”, terwyl ek my lats geoefen het. Die doef-doef het my partykeer bietjie getoor, en dan het ek gans te veel herhaalings van een oefening gedoen, net om vir die volgende twee dae soos ‘n oerang-oetang te lyk met sulke hang arms, want dis te seer om hulle op te tel! Daar was ook ‘n baie weird rooikop Engelse meisie wat daar gewerk het, omtrent vier jaar ouer as ek. Sy het die gewoonte gehad om baie op die gym se telefoon te lê, en kaalvoet tussen die masjiene rond te hang by Gordon, die Skotsman. Sy het eintlik net die telefoon geantwoord in die middae na skool, en met vuil toonnaels almal laat gril.

Terwyl die swarttoon rooikop rondom Gordon gefuif het, was dit sy gewoonte om homself so op te blaas en dan in die spieël te kyk met so “Ohoppffffffff” geluid. Dit het gepaard gegaan met ‘n buig en bult en strek wat hom laat lyk het soos daai groen sterk ou in die comic boeke. Ek probeer ook – so voor die spieël, maar Paul se laguitbarsting het my laat besef ek lyk meer soos ‘n mank giraffe met maagpyn. Daar bly tot vandag nog dinge wat ek in daardie gym gesien het wat my puzzle. Soos die Chinese vriend van Gordon, wat hom altyd gehelp het om die tonne gewigte op sy borskas te laai voor ‘n stel benchpresses. Het hy uit blote simpatie ook die “Ohoppffffff” geluid maak, of was dit net om aandag vanuit die res van die gym op hulle te vestig?

Die kosmopolitaanse mengsel van nasies verteenwoording in die Western Suburbs Gym, het wel bygedra tot interresante gebeure. Nie juis dat daar gesprekke was nie, eerder sulke geblafde woorde tussen steune deur. Van onder ‘n masjien met baie ysters bewe die Skot se stem met vreemde aksent iets wat klink soos “sjchmorghh”. Sonder huiwering en soos gewoonte laai die Chinese karakter nog 5 kg elke kant. Meteens slaan die hele masjien met Skotsman, Chinees, kilogramme yster, sweet en waterbottels, toue en poelies om in ‘n oorverdowende gedruis. Met haas storm almal nader en begin gou die gewigte en Chinese een kant toe pak. Van diep onder die hoop, verskein ‘n baie bleek Skotsman, ter aanskoue van almal, veral die vuiltoon rooikop. “The bloddy soid-support arm broke off!” gevolg deur sulke skermutseling skel klanke wat ek net kan verklaar as vloekwoorde. Gelukkig het niemand seer gekry nie, en daar was baie duidelike reëls neergelê oor watter vorms van kommunikasie aanvaarbaar sou wees in die toekoms.

Daar was van tyd tot tyd, ander mense van ons skool wat ook kom oefen het, maar geeneen van hulle kon vergelyk met Kallie nie. Hy was kort, en het verskyn vanuit die rowwer agterstrate van Westering. Hy was lig van gewig, en ook van gelaat, krul rooi hare, en het volgens my gelei aan klein-mannetjie-sindroom. Hy was ook eers een soos ons, en het ook sy heupe losgemaak op die draai tafel. Met die dae, weke, maande – het daar dinge omtrent Kallie begin verander. Hy het meer gewig opgetel, nie net ysters nie, maar ook aan sy lyf. Sy hare is al hoe korter gesny, en het later so 5 mm stoppelkop geword. Iets het gekook, maar op daardie tydstip, was dinge nog nie duidelik nie.

Soos ‘n remake show op Oprah Winfrey, het Kallie homself “getransformeer”. Weg was die klein Kallie van vroeëer, en welkom die Kallie met mening, krag en karakter. Dit was eers nogal aangenaam om iemand te sien wat so lief geraak het vir die sport van spierebou. Teen hierdie tyd, het hy vir my en Paul ver verby gesteek wat krag betref, en wou hy ons gereeld uitdaag vir ‘n gewiglig stryd. Ons wou nie deelneem nie, en het maar alles toegeskryf aan sy nuwe uitdagender beeld. Dit was eers eendag in die kleedkamer wat ek snif in die neus gekry het, toe hy met sy pille botteljies gevroetel het in sy rugsak. In die geval van steroiedes is die wiskunde anders. Nie meer “1 + 1 = 2” nie. Hier verander dinge in “2 Pille * 2 Weke = 4kg”. Ons praat ook nie van vetrolle nie – maar hompe en knoppe spiere en bulte. Kallie het geval vir die aanloklikheid van groot resultate, en het daartydens sy (bietjie) persoonlikheid en humeur prysgegee.

Vir solank as ek nog gym toe gegaan het, was hy daar – oggend tot aand, en hy wou altyd kompetisie maak – en sy glimlag oë van vroeër was nou dood. Ek het myself die belofte gemaak, om nooit na iets te smag wat ek nie sou kon verdien nie.

Jare later, sien ek Kallie werk in die bank in Westring se klein arkade. Hy glimlag weer, en vra vriendelik uit oor my; ek sien ‘n moegheid in sy oë. Sy spiere is nie meer styf nie, en sy maag dra ook gewig. Al wat oorgebly het van daardie verlore jare, was die verdikking wat sy kop en skouers aan mekaar verbind, net so massa wat onder sy ore begin en op sy skouers eindig, en sy nek vervang het.

Ek wonder, of daar eendag miskien pille sal wees, wat ons dom besluite ongedaan kan maak.

skrywer: Conrad Muller

Lewer kommentaar

Leave a Reply