Nuwe vlagskip vir Yaris-reeks

‘n Splinternuwe vlagskip vir die Yaris-modelreeks, die Yaris TS, is verlede maand bekend gestel. Die nuwe Yaris word aangedryf deur ‘n 1,8 liter-petrolenjin met Dual VVT-i wat gekoppel is aan ‘n sesspoedhandratkas. Hierdie kombinasie verseker uitstekende verrigting, gesofistikeerde verfyning en ‘n lae petrolverbruik.

Die nuwe Yaris TS is ‘n sportiewe, op en wakker weergawe van die gewilde Yaris-luikrug wat, volgens die ontwerpspan, “net vir grootmense is”. Dit het ‘n luukse-gevoel wat ‘n mens van die vlagskip-Yaris sou verwag. Die sportiewe stilering is subtiel eerder as aggressief, en Toyota reken die TS sal groot byval vind onder manlike sowel as vroulike kopers.

Van voor word die Yaris TS van sy mindere stalmaats onderskei deur ‘n sportiewe voorbuffer, kopligte en sierrooster. Die voorbuffer vloei lugdinamies deur tot die wielnisse om die sportiewe aard van die TS te beklemtoon, en die lugdinamiese verfyning word danksy gestileerde syskorte deurgevoer tot die agterkant van die motor. Agter spog die TS met ‘n lugvlerk op die rand van die dak en ‘n lugdinamiese agterbuffer wat aan die Yaris ‘n breë en lae voorkoms verleen. ‘n Uitlaatpyp met ‘n deursnee van 100 mm dra tot die sportiewe voorkoms by.

Die binnestilering beklemtoon die sportiewe aard van die Yaris TS verder, met deftige sporttipe sitplekke en ‘n heerlik gerieflike bestuursposisie onder die glanseienskappe. Die sporttema word deurgetrek na die instrumentasie, wat spog met Toyota se Optitron-syferinstrumente. Dit hou die bestuurder op die hoogte met die pad- en enjinsnelheid en ander benodigde inligting. Die rooi instrumentnaalde staan in kontras met die amberkleurige agtergrondverligting van die instrumente. Die TS is uitstekend toegerus, met onder meer lugreëling en ‘n radio/CD-kombinasie.

Yaris TS (foto toyota@motorpics)
Yaris TS (foto toyota@motorpics)

Die nuwe 1,8 liter-enjin vul die reeks van gevorderde een- en 1,3 liter-volaluminiumenjins in die Yaris-modelreeks aan. Die driesilinder-enjin van een liter met VVT-i (Variable Valve Timing-intelligent) lewer 51 kW @ 6 000 r/min en 93 Nm se wringkrag by 3 600 r/min. Brandstofverbruik is ‘n skrale 5,4 liter/100 km. Die groter 1,3 liter-viersilindereenheid, ook met VVT-i, ontwikkel 63 kW @ 6 000 r/min en ‘n top-wringkrag van 121 Nm @ 4 400 r/min.

Die Yaris TS se 1,8 liter-enjin met dubbele VVT-i lewer ‘n stewige 98 kW @ 6 000 r/min en 173 Nm se wringkrag by 4 400 r/min. Altesame 90 persent van die wringkrag is beskikbaar van 2 000 tot 6 000 r/min en gee aan die TS uitstekende trekkrag in die middeltoerebestek vir ‘n besonder genotvolle bestuursondervinding in die stad en op die oop pad.

Dit is alles te danke aan die nuwe Dual VVT-i-stelsel, ‘n evolusie van Toyota se besonder doeltreffende VVT-i-stelsel. Deur die tydreëling van die inlaat- sowel as die uitlaatkleppe terselfdertyd te wissel, verseker die Dual VVT-i-tegnologie optimum-verbrandingstoestande oor ‘n wye toerebestek.

Die dubbele VVT-i-stelsel gebruik hidrouliese druk, wat beheer word deur die enjin se sentrale prosesseringseenheid, om die tydreëling van die inlaat- sowel as die uitlaatnokas te vervroeg of te vertraag. ‘n Groter kleplighoogte, ook danksy die Dual VVT-i-stelsel, dra by tot groter kraglewering.

Die Dual VVT-i-stelsel bied nie net ‘n wye wringkragbestek nie, maar dit vergroot ook enjinkrag aan die bokant van die toerebestek, wat aan die TS ‘n lewendige gevoel met goeie versnelling gee. Die topsnelheid is in die omgewing van 200 km/h en versnelling van nul tot 100 km/h net oor die nege sekondes. Hierdie verrigting gaan gepaard met uitstekende brandstofverbruik – ‘n gemiddeld van net 7,0 liter/100 km en CO2-emissies van 164 gm/km.

Ander enjineienskappe wat bydra tot beter verbrandingsdoeltreffendheid is die oorhoeksespuit-ontwerp van die verbrandingskamers, ‘n langpoort-spruitstuk en langreik-vonkproppe, wat klopweereienskappe verbeter.

Die nuwe 1,8 liter-eenheid, een van Toyota se jongste geslag van petrolenjins, is kompak en lig. Toyota se ingenieurs het ook baie moeite gedoen om kragverlies vanweë wrywing, asook GVH (Geraas, Vibrasie en Hardheid) te verminder. Al hierdie eienskappe dra by tot ‘n flinker enjinreaksie, beter brandstofverbruik en groter bestuursgenot.

Die omvattende gebruik van rekenaargesteunde genieuring (RGG) het ‘n uiters rigiede aluminium-silinderblok verseker en bydra om die gewig van heen-en-weer bewegende onderdele te verminder. Verdere gewigsbesparings is verkry deur die gebruik van ‘n hars-tipe inlaatspruitstuk.

‘n Rollertuimelarmstelsel word gebruik om wrywing tussen die nokas en die klepgang te verminder. Outomatiese klepstellers, wat deur oliedruk geaktiveer word, verseker dat die klepspeling altyd teen die optimum gestel is en dat die stellers geen onderhoud vereis nie. Laespanningsuierringe en ‘n afwykkrukas dra verder by om wrywingsverliese te bekamp.

Voor word die bewese MacPherson-stutuitleg met L-arm wat in alle Yaris-modelle aangetref word, ingespan, maar dit is fyn gestel met die oog op die sportiewe aard van die Yaris TS. Die veerstelselontwerp is uiters rigied en kompak. Die veerstutte sit aan die binnekant van die wielnaaf, wat uitstekende stuurstabiliteit en ‘n soepel rit verseker.

Agter word die bewese Yaris-veerstelselkonsep van ‘n liggewig- en kompakte wringstaafstelsel ingespan. Afsonderlike hegpunte vir die vere en die skokbrekers dra by tot die lae, plat vloer en kort oorhang, eienskappe wat al die Yaris-modelle gemeen het.

Soos al die ander Yaris-modelle het die TS ook elektriese kragstuur, maar dit is verder opgradeer. ‘n Hoër stuurverhouding word gebruik vir presisiebeheer, terwyl die eienskappe van die elektriese kragstuur aangepas is vir die hoër stuurverhouding en die 17 duim-wiele geskoei met 205/45 R17-bande. Skyfremme met grootdeursneeskywe word aan al vier wiele gebruik – met geventileerde skywe voor en soliede skywe agter.

Yaris TS (foto's toyota@motorpics)
Yaris TS (foto's toyota@motorpics)

Die Yaris TS gee ‘n nuwe en eksklusiewe dimensie aan die gewilde Yaris-modelreeks, wat maand na maand onder Suid-Afrika se drie voorste verkopers pryk.

Lewer kommentaar

Leave a Reply