Ve’lang

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Dis Sondagmiddag. Ek lê op my eie bed en verlang na wie-weet-wat. My ma het altyd vir my gesê: “jy sit mos nou op jou eie agterstoep en ve’lang huis toe.”

Vader weet, dit was van kleins-af so. Vredehoek, Bredastraat, Lorraine, Rocklands, UPE, Parow, Stellenbosch, Oudtshoorn en nou hier op Kallieklip. Sondagmiddag doen dit net aan my.

Dis nie of ek niks te doen het nie. Vriende kom vanaand oorslaap en ek moet nog beddens regmaak. Of ek kan die kombuis aan die kant gaan maak.

Daar het ons gesit vanmiddag: Pa, Ma en twee uitgevrete seuns. Kos was lekker: gesond maar lekker. Mens moet mos deesdae na jou alles kyk, want slegte hormone en swaar metale en dinge wat nooit gepla het nie lê nou uit elke lekker stukkie kos vir jou en loer. Daantjie het weer oor die een-of-ander patent gepraat wat hy vanoggend in die vroeë ure lê en uitdink het.

“‘n Brainwave het my mos vannag geslaan!” is sy gunsteling sêding. Dan probeer ek entoesiasme uitwurg tussen die boontjiespruite en Ina-Paarman-sousie terwyl ek en die seuns onderlangs vir mekaar loer.

Nee, die skottelgoed kan wag. Ek strek my behaaglik uit op ons nuwe bed. Eerste maal in dertig jaar se getroude lewe dat ek ‘n meubelstuk kon uitkies: self die ontwerp geteken en sekergemaak Waheed kry elke detail reg. Met my nek-operasie in die nie-te-verrre-verlede moet ek versigtig wees hoe en hoe lank ek lê.

Ek dink aan my meisiekinders. Ek is ‘n meisie-ma, al het ek twee oulike dogters én twee oulike seuns. Eersgenoemdes het hul heil oorkant die waters gaan soek. Hoe lekker het ek en Ans op ons ou bed in die son lê en TV-krieket kyk. Dan maak ons tee en hou tea-party op die bed tot die son agter oor Caledonskloof sak. Of ek en Dedri – hoe het ons baklei oor haar kamer soos ‘n nuclear test site lyk, net om later in mekaar se arms op haar bed in ‘n sonstreep te lê.

Ek wonder oor hulle in London, en of daar son is. Dan, terwyl Sondagnag begin verslaan, lees ek Roekeloos, en ek weet: my Dedri-kind het haar strepie son gekry. En ek wonder of sy ook op haar bed lê en huis toe verlang.

skrywer: Minette Strydom

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar