Ewenaar-bewoners.
By my aankoms hier het ek genoeg kennis van mense en hulle geite, giere, opdôner en aandôner.
Dis hier waar ek wakker skrik en tot my eerste slotsom kom dat, langs die ewenaar, ’n tweepotige spesie floreer op sothede en gekhede as stapelvoedsel. Die heersende mentaliteit is: toerusting breek, moertoe, los dit net daar, kla omdat daar nie genoeg is nie en wat is die maatskappy se storie dat hulle nie nuwes wil koop nie.
Met gebrekkige kommunikasie word ek telkemale tereggewys as ek oplossings aanbied. Die einde van die storie is ek moet die hulp en raad waardeer wat gratis en in oorvloed aan my geskenk word. As ek my dom hou word ek op die hande gedra, omdat ek ek sodoende erken ek is die een wat die raad en riglyne nodig het.
Vergewensgesind is die bewoners, maar my moedelose kreune van misverstande en opgekropte woede bly op dowe ore val en word op simpatieke wyse met kollegas en landgenote bespreek. Daar word in my rigting geloer met ’n gevolgtrekking dat dit moeilik gaan wees om vas te stel van watter dom, bleek land ek kom – om ’n kuur vir my agterstand uit te dink.
Kon die Porras nie toeka se tyd meer tyd spandeer het deur hul nageslag liewers iets te leer nie, behalwe die kakkerige fish-‘n-chips-taal. Emosies wat oorloop en kinders maak vier botoon saam met Kubaanse en Brasiliaanse invloede. Vergaderings swaai in ’n oogwink om in ’n moerse party met vingerhappies, swartmark Grants whiskey, louwarm bier, kak sigarette, parfuum wat jou asmaties laat snak en pruike met style wat wêreldbekende stiliste se skeppingsdrang sal laat blom. Vir ’n vreemdeling is dit iets om te aanskou, veral as die suggestiewe danse van Spaanse invloed afskop. Maar ek sien steeds die kopluise onder die pruike krioel en die lang beenhare. En ek ruik die ewenaar-sweet gemeng met goedkoop whiskey en maskara. Dit is hoe dit hier gaan.
Ek het ook uiteindelik my bydrae gelewer, met taallesse en tydskriffoto’s as hulpmiddel het ons iewers gekom, al verstaan ek niemand nie en sukkel ek met die twee seisoene; een nat, een droog.
Van gasvryheid en eerlikheid kan jy die mense niks leer nie, veral nie van vergewensgesindheid nie, maar ek gaan steeds nie belê in ’n aftreeoord hier nie.
Die Europeërs het hierdie lande net skade berokken en leeg gesuig. Niks kennis teruggeploeg nie en nou sit jy met generasie na generasie wat dieselfde siklus voltooi: word gebore, spyker, drink, werk en op 40 jaar skop jy die emmer want nie eers ’n stainless steel ball bearing kan al dié aanslae op liggaam en siel weerstaan nie.