Beginners

‘n Man klim uit die kas op die ouderdom van 75 jaar. Dalk is dit nooit te laat om jouself te wees nie. Of is dit, want vier jaar later moet hy die knie buig voor kanker.

Hal (Christopher Plummer) begin nuwe verhoudings met ‘n ander geslag op 75. Sy seun Oliver (Ewan McGregor) het die een onsuksesvolle verhouding op die ander. Beide letterlik beginners op die speelveld van die liefde.

Beginners is semi-outobiografiese staaltjies uit die lewe van regisseur Mike Mills. Hy probeer nie te ernstig te wees oor die onderwerp nie en slaag daarin empatie te verwek vir sy karakters. Sy tegniek om die tydlyn in stukke te deel en gebeure dan te skommel wil egter nie altyd lekker vloei nie en laat die film by tye amateuragtig lyk.

Christopher Plummer is op sy sjarmantste as die ou gay man wat die lewe einde te laaste met alles omhels. Ewan McGregor is ook in goeie vorm en sal jou oortuig dat hy ‘n man is wat sy pa se dramatiese ommekeer kan omarm, maar steeds skepties is oor sy eie toekoms en nuwe verhouding met Anna (Mélanie Laurent). Die twee akteurs vertolk rolle wat teenoorgesteldes van mekaar is en hulle sukses dra die film.

Anna se karakter is ongelukkig nie goed ontwikkel nie en dit voel asof sy net as ‘n middel tot ‘n doel gebruik word.
Ander hoogtepunte van die film is Oliver se agtergrond kommentaar op die lewens van diegene om hom. Die teks is treffend en stem jou tot nadenke. Mary Page Keller is net ‘n kort tydjie op die skerm in die rol van Oliver se ma, maar dis al wat sy nodig het om die oorspronklike, snaakse karakter deel van die storie te maak. Ook Goran Visnjic laat omself geld, die klein tydjie wat hy het om dit te doen.

Beginners herinner jou daaraan om jouself te wees en dat dit die moeite werd is om emosioneel te belê in diegene naby aan jou. Dit film doen dit sonder om te preek. Gaan kyk dit gerus.

Beginners
Beginners

7 uit 10.

Met: Ewan McGregor, Christopher Plummer, Melanie Laurent & Mary Page Keller.

Regisseur: Mike Mills

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply