Hannibal

Met: Anthony Hopkins, Julianne Moore en Ray Liotta
Regisseur: Ridley Scott

Hannibal, die lang-verwagte opvolg op die 1991 Oscar-bekroonde The Silence of the Lambs, is ´n afstootlike ervaring met minstens een toneel wat so grusaam is dat dit jou maag sal laat draai. Nogtans sorg die nuwe fliek nie naastenby vir dieselfde dosis spanning as sy riller-voorganger nie.

Gegrond op Thomas Harris se 1999 blitsverkoper met dieselfde naam (behalwe vir die einde wat verander is), sit Hannibal die grieselrige verhaal voort van Dr Hannibal Lecter (Anthony Hopkins), tien jaar nadat hy van die FBI af weggekom het. Die duiwelse dokter leef nou onder ´n vals identiteit in Florence in Italië, waar hy die waarnemende kurator van ´n klassieke biblioteek is.

Maar wanneer Agent Clarice Starling (Julianne Moore), wat erkenning gekry het as een van die FBI se top agente, in onguns by die buro raak, verbreek Lecter die stilte van sy eie “aftrede” om vir haar ´n boodskap van steun te stuur wat sy identiteit bekend laat raak. Weens die optrede van die wraakgierige burokraat Paul Krendler (Ray Liotta), word Starling gedwing om te soek na die kannibalistiese moordenaar.

Dan kom Lecter se sesde en enigste oorlewende slagoffer, die aaklig-geskende billionêr Mason Verger (´n onherkenbare Gary Oldman) by wat Starling as aas gebruik om die mensvreter-dokter uit sy wegkruipplek te lok vir sy eie wraakplan. En natuurlik loop dit alles uit op ´n grillerige ete!

Hannibal draai om die onverbeterlike uitbeelding van afstootlikheid deur Anthony Hopkins. Die akteur se presiese frasering en onverwagte klem op sekere woorde maak elke sin dreigend, snaaks of gelaai met innuendo. Ongelukkig sorg die teks dat Hannibal te menslik word met die gevolg dat ons aan sy kant is wanneer mindere skurke hom pak.

Nog ´n swakplek is dat die kindertrauma wat veroorsaak het dat Hannibal die spoor byster geraak het en die vreemde romanse wat tussen hom en die getraumatiseerde Starling ontwikkel, verswyg word. Julianne Moore staan ook glad nie Jodie Foster se skoene vol nie en laasgenoemde het duidelik besef dat sy haarself skade sal doen deur by die opvolg betrokke te raak.

Die fliek sê dus niks oor die verhouding tussen die slagoffer en die aanvaller nie en dit werp ook nie lig op die mag van suiwer kwaad nie. Daar is min van die naels-kou spanning en fassinerende spel tussen die karakters oor wat die oorspronklike rolprent so ´n uniek-vreesaanjaende ondervinding gemaak het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply