Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Antjie Krog se eie keur uit haar gedigte. Honderd en vyftien gedigte uit al haar bundels is ingedeel volgens temas: liefdesgedigte, gesinsgedigte, skryfgedigte, politieke gedigte en gedigte uit Lady Anne.
Anna Elizabeth (Antjie) Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore. Sy is 18 jaar oud toe haar eerste digbundel Dogter van Jefta in 1970 verskyn. In 1972 verskyn Januarie-suite en dit is in 1973 met die Eugène Marais-prys bekroon. Sy behaal ‘n BA-graad en honneursgraad in Engels (1973) aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1976 verwerf sy ‘n MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Haar digbundel Jerusalemgangers is in 1987 met die Rapportprys bekroon en in 1990 ontvang Antjie die Hertzogprys vir poësie vir Lady Anne. In 1993 is sy aangestel by die tydskrif Die Suid-Afrikaan, en in 1995 begin sy as politieke verslaggewer by die SAUK te werk. Antjie lewer van 1996 tot 1998 verslag oor die Waarheids- en Versoeningskommissie. Sy verwoord haar ervarings oor die proses in Country of my Skull wat in 1998 gepubliseer is en wat met onder meer die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Oliver Schreiner-prys ontvang.
In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, wat haar Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit Suid-Afrikaanse inheemse tale, en een van die San-tale, bevat, aangewys as die wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Kwela Boeke publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê ‘tsau’ en dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. Kleur kom nooit alleen nie is in 2001 met die eerste RAU-prys vir skeppende skryfwerk bekroon.
Sy is sedert 2004 ‘n buitengewone professor in Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap.
Het jy geweet?
– Antjie kom uit ‘n skrywersfamilie en haar ma is die bekende Afrikaanse skrywer Dot Serfontein.
– ‘n Gedig wat sy as 18-jarige skoolmeisie geskryf het, het landwyd opslae gemaak: “Gee vir my ‘n land waar swart en wit hand aan hand/ vrede en liefde kan bring in my mooi land.”
– Haar bundels, Mannin en Beminde Antarktika het gelyktydig in 1975 verskyn.
– Sy het Country of my Skull aanvanklik in Afrikaans geskryf, maar het dit later saam met skrywer Ivan Vladislavic vertaal. Die boek is in verskeie lande gepubliseer. Dit is later verfilm met die titel In my Country met Juliette Binoche en Samuel L Jackson in die hoofrolle.
– Antjie se enigste toneelstuk, Waarom is die wat voor toyi-toyi altyd so vet? is in 1999 opgevoer met Marthinus Basson as regisseur. ‘n Ander Tongval is wel deur Saartjie Botha tot ‘n toneelstuk verwerk met Antoinette Kellermann en Nina Swart in die hoofrolle.
– Sy vertaal Nelson Mandela se biografie, Long Walk to Freedom, in Afrikaans as Lang pad na vryheid.
– In 1992 en 2004 word sy genooi om deel te neem aan die Poetry International-poësiefees in Rotterdam. – In 2003 word sy genooi om die Internasionale Letterkundefees Winternachten in Den Haag te open.
Boeke steeds in druk
‘n Ander Tongval, Tafelberg (2005)
Eerste gedigte, Human & Rousseau (2004)
Lady Anne, Human & Rousseau (2004)
Die sterre sê ‘tsau’, Kwela Boeke (2004)
The stars say ‘tsau’, Kwela Boeke (2004)
Met woorde soos met kerse, Kwela Boeke (2002)
Kleur kom nooit alleen nie, Kwela Boeke (2000)
Bekronings
Eugène Marais-prys (1973) – Januarie-suite
Reina Prinsen-Geerligsprys (1977) – Mannin en Beminde Antarktika
Rapportprys (1987) – Jerusalemgangers
Hertzogprys vir poësie (1990) – Lady Anne
Sunday times/Alan Paton-toekenning vir niefiksie (1999) – Country of my Skull
Bookseller’s Choice-toekenning (1999) – Country of my Skull
Hiroshima-stigting se toekenning vir vrede en kultuur (2000) – Country of my Skull
Oliver Shreiner-prys vir prosa (2001) – Country of my Skull
RAU-prys vir skeppende skryfwerk (2001) – Kleur kom nooit alleen nie
FNB Vita-poësietoekenning (2000) – Down to my last skin
Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse vertaalwedstryd (2003) – Met woorde soos met kerse
Bookseller’s Choice-toekenning (2004) – A Change of Tongue
Eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch (2004)
Eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat (2004)
Afrikaans Onbeperk-toekenning vir vernuwende denke van die KKNK (2004)
Protea-poësieprys (2007) – Verweerskrif
Lys van publikasies
Poësie
1970 Dogter van Jefta
1972 Januarie-suite
1975 Mannin
1975 Beminde Antarktika
1981 Otters in Bronslaai
1984 Eerste gedigte
1985 Jerusalemgangers
1989 Lady Anne
1995 Gedigte (1989-1995)
2000 Kleur kom nooit alleen nie
2000 Down to my Last Skin
2004 Die sterre sê ‘tsau’
2004 The stars say ‘tsau’
2006 Verweerskrif
2006 Body bereft
Kinderpoësie
1985 Mankepank en ander monsters
1992 Voëls van anderster vere
2007 Fynbosfeetjies
Prosa
1995 Relaas van ‘n moord
Niefiksie
1998 Country of my Skull
2003 A Change of Tongue
2005 ‘n Ander tongval
Vertaler
1989 Die rottevanger van Hameln
1999 Domein van glas (van die Nederlands Een mondvol Glas deur Henk van Woerden)
2001 Lang pad na vryheid: die outobiografie van Nelson Mandela (vertaling van Long Walk to Freedom)
2002 Met woorde soos met kerse
2002 Mamma Medea: na Apollonios van Rhodos en Euripides (vertaling van die Vlaamse toneelstuk Mamma Medea deur Tom Lanoye)
Samesteller
1992 Deurloop: keur uit die essays van Dot Serfontein.
1996 Losvoor: ‘n versameling van Afrikaanse poësie
1998 Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde (saam met Johann de Lange)
2005 Nuwe stemme 3 (saam met Alfred Schaffer)