// jy lees ...

Teater

Mamma Medea

Na die sukses van Ten Oorlog, ´n 13 uur lange epiese stuk waarin Shakespeare se Oorlogsdramas verwerk en byeengevoeg is, gebruik Tom Lanoye weer klassieke werk as wegspringplek vir Mamma Medea.

Die Argenaute van Appolonios van Rhodos en Medea, Euripides se klassieke tragedie word opeenvolgend in Mamma Medea gebruik. Medea, koningsdogter van Kolchis raak verlief op die Griekse held, Jason. Jason en sy makkers is onderweg om die Goue Vlies te verower, wat hy met die hulp van Medea en haar goddelike kragte wel regkry. Medea verbreek haar familiebande en vlug saam met Jason na Griekeland. Daar word sy moeder van twee kinders voordat Jason haar verlaat om met ´n Griekse prinses te trou. In reaksie op Jason se verwerping maak Medea haar twee kinders dood en word gedwing om weer te vlug as eensame en uitgeworpene.

In Mamma Medea met sy eietydste karakter, stel Lanoye Jason en Medea as mekaar se gelykes. Juis binne die gelykstelling lê konflik: 2 kulture, 2 kontinente, 2 tydvakke word teenoormekaar gestel, barbaarsheid en beskawing word teenoor mekaar afgespeel. Verdere spanning en konflik is opgesluit in die liefdesverhouding en uiteindelike verraad tussen man en vrou. Die oorspronklike teks is in Vlaams en Nederlands geskryf, die Vlaams (in formele vyfvoetige jambes) en Nederlands (in prosa vorm). Die spanning en stryd rondom taal en voortbestaan van taal vorm ´n integrale deel van die stuk.

Die stuk is relevant binne Suid-Afrikaanse konteks juis vanweë die stryd om behoud van kultuur en taal. Antjie Krog slaag in haar vertaling om “standaard Afrikaans”, Namakwalandse Afrikaans en Kaapse Afrikaans in streng vyfvoetige jambes te gebruik. Dit word afgewissel met die sg. “Jip” Afrikaans, ´n jong Gautengse variant van Afrikaans en informele Afrikaans. Die eindproduk is ´n ryk geskakeerde teks wat Afrikaans in al haar vorme huldig.

Sedert die ontbinding van die streeksrade is Afrikaanse drama stief behandel in tradisionele teaters. Hoewel Kunstefeeste ´n platvorm bied vir Afrikaanse aanbiedings, word klassieke werke selde aangepak weens tegniese en logistieke beperkings en hoë kostes. Produksies is selde langer as 60 minute, met ´n rolverdeling van hoogstens 4 akteurs. Die relatiewe groot rolverdeling van Mamma Medea skep ´n unieke geleentheid waar ouer en jonger akteurs kan saamwerk. Mamma Medea is ´n seldsame produksie en geniet wye mediadekking weens die tema, omvang en grootsheid.

Koop nou / Buy now Mamma Medea

Related posts:

  1. Sokkies optrek …
  2. Ma se melk
  3. Die Melkbos Passie
  4. Coenie die nuwe gesig van ATKV
  5. Vinger-Alleen

Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.