Alles behalwe agterlik

Die vierdegenerasie Outback XUV-nutsmotor het pas in vertoonlokale dwarsoor Suid-Afrika aangekom, en bou voort op sy voorganger se sukses van ’n voertuig met ’n unieke mengsel van weelde, veiligheid en sy vermoë om die wêreld plat te ry. Die Outback word steeds op die Legacy-platform gebou en slaan munt uit dieselfde ontwerpvereistes as sy voorganger – om die beste ruimte en gemak in sy klas, verbeterde brandstofdoeltreffendheid en ’n omvattende lys toerusting te bied.

Die nuweling bied dit alles tesame met ’n aantal groot tegniese nuwighede, dog verteenwoordig hy beter waarde as sy mededingers. Die Outback-reeks bestaan uit ’n 6-gang-handratweergawe wat R345 000 sal kos, sowel as ’n outomatiese model met Subaru se Lineartronic-palwisseltransmissie wat R358 000 kos – onderskeidelik R14 000 en R11 000 goedkoper as hul voorgangers.

“Hierdie prysstruktuur beteken in werklikheid dat die voertuig maar min mededingers het, en is aansienlik goedkoper as die voorste Europese modelle, terwyl hulle ook sagte veldryers op die gebied van ruimte en toerusting uitstof,” het Grant Bowring, Subaru Suider-Afrika se handelsnaam- en bemarkingsbestuurder, gesê. “Die nuwe reeks se eienskappe maak dit ’n unieke produk wat geposisioneer is om kopers van gewone stasiewa-tipe voertuie te lok wat op soek is na ’n voertuig wat hul leefstylkeuses aanvul.”

Die Outback was nog altyd in ’n unieke posisie in die motorwêreld en gee nie soos baie vooraangeskrewe dubbeldoelvoertuie enigiets prys op die gebied van rydinamika nie. Dit is te danke aan die dinamiese voordele weens die kombinasie van die natuurlike lae swaartekragmiddelpunt met ’n horisontaal-teenoorstaande Boxer-enjin en Subaru se simmetriese aandrywing deur al vier wiele, wat al die wiele permanent aandryf.

Die 2010-Outback span hierdie sterk eienskappe verder in om sy posisie as die intelligentste ontwikkelde nutsmotor op die mark te behou.

Ontwerp
Die Outback – wat van vroeg in die ontwerpstadium af ’n nutsmotor (Crossover Utility Vehicle, of XUV) genoem is – is ’n visuele vermenging van die kenmerkende sportiewe geaardheid van ’n Subaru en die taaiheid van ’n sportnutsvoertuig (SNV). Sy voorste sierrooster staan meer uit as dié van die Legacy, en het bykomende horisontale sparre wat dit meer doelgerig maak, maar steeds taai laat lyk. Die onderste gedeelte van die stamper het ’n nuwe vorm om sy invalshoek te verbeter, terwyl die misligte se metaalagtige voorkoms hulle groter laat lyk, hoewel hulle dieselfde deursnit van 80 mm as dié van die vierdeur-model het.

Subaru Outback
Subaru Outback

Die stasiewa se agteraansig het ’n doelgerigte voorkoms wat deur ’n dieper agterstamper bewerkstellig word waarin die stertpyp verskuil word, sowel as ’n sterk Dpilaar wat die Outback se skouerlyn beklemtoon. Die swart plastiese gedeelte onder die stamper is versink om die vertrekhoek te verbeter.

Die voertuig se afmetings is groter as voorheen, en sy algehele lengte is nou 4 775 mm (voorheen was dit 4 680 mm), sy breedte is 1 780 mm (1 730 mm) en die hoogte kom nou op 1 615 mm teenoor die gewese 1 545 mm te staan. Die wielspoor is 75 mm breër en staan nou op 2 745 mm. Die oorhange voor en agter is met 10 en 20 mm onderskeidelik verkort.

Die 2010-Outback staan nog hoër as voorheen en het nou ’n grondvryhoogte van 213 mm – iets wat ’n hele spul geharde veldryers groen van jaloesie sal maak. Beskermende wielnisstroke (wat nou dieselfde kleur as die voertuig is) help om die voertuig se modderskerms teen skrape en stampies te beskerm, terwyl die drumpels deur doeltreffende swart bedekkings beskerm word.

Vollengte relings is netjies in die dak versink om die veilige en maklike vervoer van leefstyltoebehore, wat ’n natuurlike deel van Outback-eienaarskap is, moontlik te maak. Laastens pronk die nuwe Outback met die jongste weergawe Yokohama Geolanderbande
van 225/60 wat op 17-duim-sierwiele gemonteer is.

Die Outback het ten spyte van sy groter bakwerk, ligter onderstel, groter rompstewigheid en verbeterde brandstofdoeltreffendheid aansienlik beter lugdinamiese eienskappe. Versigtige ontleding het tot beter gewigsverdeling gelei, terwyl die nuwe enjinkap van staal in die plek van aluminium (ten gunste van voetganger-veiligheid) deur ander gewigbesparings en eenvoudiger samestelling in kerndele aangevul word.

’n Belangrike aspek van die nuwe ontwerp is ’n enjinwieg (pleks van ’n subraam) wat geraas verminder, veiligheid verhoog en ’n bestendige rit in die hand werk. Die enjin is met behulp van vier vloeistof gevulde rubbermonterings aan die wieg geheg, wat hierdie vibrasies ten opsigte van hul spesifieke ligging in verhouding tot die enjin se natuurlike harmonie en frekwensies uitdoof voordat dit die kajuit bereik. Dit dien ook as hegpunt vir die voorvering se beheerarms en die stuurrak, wat grofheid en onwelkome terugvoer verminder sonder om die hantering te benadeel.

Binneruim
Dit is weens die nuwe Outback se groter afmetings nie juis ’n verrassing dat die kajuit heelwat groter as voorheen is nie, dog het versigtige beplanning dié voordeel vervolmaak en tot ’n werklike en waarneembare gevoel van ruimte gelei. Die afstand tussen die voorste en agterste heuppunte is byvoorbeeld 68 mm langer, terwyl die voorste sitplekke nou 30 mm verder uitmekaar is, wat ’n veel groter reghoek bruikbare ruimte skep.

Die detail-verbeterings val net soos die toename in die belangrikste afmetings met die eerste oogopslag op, veral vir diegene in die agterste kompartement. Die agterkant is danksy sy breë sitplek gewis ruim genoeg vir drie groot volwassenes, of twee wanneer die armleuning met sy ingeboude bekerhouers gebruik word. Die skouer- en kopruimte voor en agter is ’n groot verbetering teenoor die vorige model, en selfs met die bestuurder se sitplek so ver as moontlik agtertoe geskuif (die algehele beweging vorentoe en agtertoe is tot 260 mm verleng) en so laag as moontlik gestel is, is daar steeds genoeg been- en voetruimte vir die grootste onder die grotes – selfs met sy tweelingbroer agter die stuur. Al twee van hulle sal die groter deuropenings waardeer – veral dié van die agterdeure. Die bruikbare beenruimte is met 99 mm verleng danksy die nuwe ontwerp van die voorste sitplekke, wat nou nog minder plek in beslag neem. Die gevoel van ruimte word deur ’n voortdurende skuif na weelderiger materiale beklemtoon, met die algehele gevoel en gehalte hoog op die voorkeurlys.

’n Metaalagtige afwerking regdeur die voorpaneel en deure gee die visuele pas aan, wat ook deur die deftige beheerarms aan die stuurkolom en die gehaltevoorkoms en -gevoel van al die beheer- en kontrole-raakvlakke aangevul word. Die enjinkap sit hierdie neiging voort met gasgevulde stutte wat glad en moeiteloos werk.

Van die maatreëls wat ingespan word om meganiese geraas te demp, sluit die A-, B- en C-pilare in wat met ’n spesiale skuim gevul is wat uitsit weens die hitte wanneer die romp ná die verfproses gebak word. ’n Digter insuleermateriaal word aan die onderkant van die enjinkap gebruik. Die transmissietonnel het bykomende klankdempmateriaal bygekry wat die klank van die palwisseltransmissie verdoof.

Die vier hoof-instrumente en instrumentehuisie lyk met die eerste oogopslag dieselfde, maar die temperatuur van die enjinverkoeling word nou deur waarskuwingsliggies aangedui, terwyl ’n tweede meter aandui hoe ekonomies die voertuig gery word. Wanneer die naald in die groen is, is die voertuig suinig met die voggies, maar wanneer dit na die geel sone skuif, word brandstof onnodig vermors. Vloeikristal-wisselaanwysers in die middel van die instrumentehuisie help hiermee, terwyl die ritrekenaar die gemiddelde en oombliklike verbruik duidelik in ’n skerm aan die bokant van die voorpaneel vertoon.

Die gevoel van styl word in die stuurwiel met sy nuwe voorkoms weerspieël, wat in die geval van al die modelle satelliet-kontroles vir die klankstelsel en spoedbeheer het. Die stuurkolom se kantelhoek en reik is nou 20 mm, terwyl die gebruik van aluminiumkomponente die stuurwiel 10% ligter gemaak het.

Die Lineartronic CVT-palwisseltransmissie-weergawe het ratwisselpedale aan die stuurwiel, wat saam met die stuur beweeg en dus makliker gebruik kan word. Die ‘handrat’-verstelling vir die ratkierie is nou verwyder, en dit kan nou net met die pedale aan die stuurwiel gedoen word.

Die ruimte tussen die voorste sitplekke is deur die toevoeging van ’n elektriese parkeerrem vergroot en die tradisionele handrem is nou in die stoorkamer weggepak. Hierdie verandering maak plek vir ’n baie ruim dubbele middelkonsole met twee bekerhouers langs mekaar en die volmaakte elmboogsteun danksy die armleuning wat ook ’n ingeboude bergruimte het waarin tot 19 CD’s gebêre kan word. Dié bergruimte het ook ’n punt vir bykomende klanktoerusting sowel as ’n 12V-kragsok.

Die transmissietonnel het twee luguitlate vir die lugversorging na die agterkant, wat ook eenvoudiger drukknoppies het met ’n dubbelwerking-verstelling om die temperatuurverstellings aan die linker- en regterkant afsonderlik in te stel. Al die Outback-modelle het ’n Kenwood Sound Meister-radio en 6-skyf-CD-wisselaar as deel van hul standaard-toerusting, wat die klank deur ses luidsprekers terugspeel. Die nuut ontwerpte deur-luidsprekers sorg vir die volmaakte klank in die lae tot middelstrek-frekwensies. Die diafragma maak gebruik van ’n dikker keëlstruktuur om die resonansie beter te beheer, wat tot bestendiger klankfrekwensies met beperkte wisseling lei.

Die hoëtoon-luidsprekers is van die bokant van die deur na weerskante van die voorpaneel verskuif. Hierdie verandering verskuif die klankverhoog boontoe, wat vir ’n meer realistiese, omliggende klank sorg. Die radio maak gebruik van ’n lugdraad wat in die agtervenster ingebou is, sowel as ’n antenna-versterker wat vir bestendige ontvangs sorg, al is die sein swak. Die stelsel maak ook gebruik van Auto Gain Control (AGC), wat die ontvangs in gebiede met swak elektriese velde verhoog en bestendige ononderbroke ontvangs bied. Die volume word ook outomaties ingevolge die voertuig se spoed op die oop pad aangepas.

Elke Outback se agtersitplek is in die verhouding 60/40 verdeel om die laairuim ten beste te benut. Die laairuim het ’n hefboom waarmee die sitplekke platgevou kan word, wat beteken dit kan ook van die stertdeur af (of deur die agterdeure) gedoen word. Die stertdeur is nou van staal gemaak om dit meer botsbestand te maak en die voertuig beter te isoleer. Die Outback se laairuim slaan munt uit die groter platform en pronk met ’n indrukwekkende vragdravermoë. Die volume tot vensterhoogte is met 31 liter vergroot, terwyl die laaidiepte by die wielboë 19 mm dieper en by die beslag om die kwartvenster 35 mm dieper is.

Laaiwerk is nou makliker danksy die groter afmetings van die stertdeur, wat ook hoër opslaan en danksy die gasgevulde stutte makliker gelig kan word. Die agtersitplekke kan 20 grade agteroor leun om gemak te verhoog, terwyl die agterste kopstutte beter nekbeskerming bied. Die Outback se kajuit is identies aan dié van die Legacy wat praktiese gebruik betref, en het dieselfde uitstaande toerusting en gehalte.

Onderstel
Die Outback gebruik dieselfde McPherson-stuttipe voorvering en dubbelmik-agtervering as die Legacy-sedan, maar die veringwerking en -beweging is ingestel om die hoër ryhoogte in aanmerking te neem. Daarbenewens het die agtervering selfverstellende werking, wat verseker dat die romp gelyk bly, selfs wanneer die voertuig swaar gelaai is of vir sleepwerk ingespan word.

Remverrigting is aansienlik beter danksy die nuutontwerpte remversterker met ’n vinnigwerkende klep wat die remverrigting met nagenoeg 20% verbeter. Die elektriese parkeerrem word deur ’n skakelaar aan die regterkant van die stuurkolom in werking gestel. Dié rem word ontkoppel deur die skakelaar te trek, hoewel dit outomaties skiet sal gee as die bestuurder wegtrek en versnel, mits die sitplekgordel gebruik word en die bestuurder se deur toegemaak is.

Al die modelle het sluitwerende skyfremme vir al vier wiele, wat aan Subaru se elektroniese remkragverdeling (EBD) en remhulp (Brake Assist) gekoppel is. Die Outback het ook ’n stelsel wat die remme gebruik om die voertuig outomaties teen ’n helling steiler as vyf grade te hou sodat dit nie terugbeweeg wanneer die bestuurder wegtrek nie.

Transmissies
Die jongste Outback-model is met die lineêre palwisseltransmissie (CVT) of ’n nuwe 6-ganghandratkas beskikbaar. Die laestrek-oordraratkas wat voorheen saam met die 5-ganghandratkasweergawe gebruik is, is uitgegooi aangesien die bykomende ratverhoudings in die nuwe ratkas die regte verhouding vir die meeste gebruikspatrone moontlik maak.

Die groot nuus vir die 2010-Outback is die Lineartronic-palwisseltransmissie (CVT), ’n beknopte ratkas wat vir skitterende rybaarheid en brandstofekonomie sorg terwyl dit vinnige en soepel ratwisselings teenoor enige gewone outomatiese ratkas bied. Hierdie ketting-tipe palwisseltransmissie verbeter wringkraglewering en sorg vir minder wrywing, wat beter ekonomie as bandaangedrewe palwisseltransmissiestelsels bied.

Die gevorderde ontwerp sorg dat die enjin in sy doeltreffendste verrigtingstrek bly, wat beteken hierdie vervolmaakte balans tussen die wringkrag en enjinspoed lewer gladde, lineêre versnelling sonder die dreungevoel en traagheid wat ander CVT-transmissies lui en besluitloos laat voel. Die CVT-Outback-modelle het dieselfde lynvormige versnellinggevoel as tradisionele outomatiese modelle, en verfynde instelling beteken die bestuurder kry ’n vinniger gevoel van topversnelling nadat die versnellerpedaal platgetrap is. Die voertuig spring ook rats weg, terwyl ratwisseling in handratwerking (waardeur die bestuurder ses voorafbepaalde ratverhoudings het om van te kies) bykans oombliklik is met vertragings van net sowat 100 millisekondes, wat die sportgevoel en vinnige reaksie wat ’n kenwerk
van hierdie transmissie is, verhoog.

Handratwerking word in werking gestel deur die ratkierie na die bestuurder se kant te druk. Die stuurwiel-pedale kan egter makliker vir tydelike handratwisseling gebruik word, al is die ratkierie nie in die handrat-posisie nie. As die spoed dieselfde bly, sal die stelsel outomaties na die rymodus oorskakel.

Die CVT-palwisseltransmissie het geen instandhouding nodig wat olievervanging behels nie, tensy die voertuig voortdurend in veeleisende toestande gery word. Die stelsel het aanpasbare beheer wat help om die volmaakte ratverhouding te kies om by enige bestuurstyl of padtoestande in te skakel. ’n Doeltreffende 6-gang-handratkas word die eerste keer saam met die 2,5-literenkelbonokas-
enjin ingespan. Die kern van hierdie kompakte en ligte ontwerp (die ratkas is skaars groter of swaarder as die vorige 5-gang-weergawe) is die gebruik van ’n kabelwisselmeganisme, wat die wisselgevoel baie verbeter en geraas aansienlik verminder. Hierdie ratkas verskil aansienlik van die weergawe in die Impreza STI, wat danksy sy swaardiens-gebruik sowat 30 kilogram swaarder is.

Enjins
Die enjinkeuse vir die nuwe Outback is eenvoudig: die jongste ontwikkeling van die beproefde Boxer-enjin van 2,5 liter word onder die enjinkap aangetref. Dié enjin lewer 123 kW @ 5 600 r/min en ontwikkel 229 Nm @ 4 000 r/min.

Die laer enjinspoed waarteen sy wringkrag-hoogtepunt bereik word, is goed op die Outback van toepassing, en die voertuig is skitterend rybaar tussen 2 000 en 4 000 r/min. Die Outback 2,5i Lineartronic het ’n gekombineerde brandstofverbruiksyfer van 8,4 liter per 100 km terwyl die enjin net 198 gram koolstofdioksied vrystel (voorheen 9,5ℓ/100km en 223g). Die handrat-weergawe se verbruik het van 9.3ℓ/100km tot 8,9ℓ/100km gedaal, en stel 209 gram CO2 per kilometer teenoor 220g/km vry.

Ligter suiers, nuwe nokaslig- en tydverstellings en veranderde poorte is maar net van die interne veranderings wat aan die 2,5ℓ-Boxer-enjin aangebring is. Die 2,5i-enjin gebruik ligte inlaatspruitstukke van plastiek en enkel-knaldemperuitlate, wat vir groter doeltreffendheid en aansienlike gewigsbesparings sorg. Die enjinblok self is ook verander ten einde versoenbaarheid met die wiegraam en meegaande enjinmonterings in die hand te werk. En laastens is die elektriese stelsel verbeter om lading tot die minimum te beperk, en sodoende ook die uitwerking op enjindoeltreffendheid te verminder.

Eienaarskapservaring
Die nuwe Subaru Outback verteenwoordig skitterende waarde vir geld met sy mededingende prysstruktuur en omvattende toerusting. Die standaard- en geriefstoerusting wat regdeur die Outback-reeks aangetref word, is omvattend en sluit ’n ingeboude 6-skyf-CD-wisselaar in die voorpaneel vir die klankstelsel wat deur ses luidsprekers speel in, sowel as satellietkontroles op die leerbeklede stuurwiel vir die spoedbeheer en klankstelsel.

Die nuwe Outback het ook elektriese beheer vir sy vensters met enkeldrukwerking aan die bestuurder se kant, elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek (met twee geheueverstellings) en elektriese laerugsteunverstelling, elektries beheerde buite truspieëls, afstand beheerde sentrale sluiting met afsonderlike oopmaker vir die stertdeur aan die aansittersleutel, leerbekleedsel, elektries beheerde sondak, elektriese parkeerrem, klimaatbeheer met afsonderlike verstellings links en regs en luguitlate vir
die agterruim, sowel as ’n ritrekenaar met veelvuldige werking.

Die lys veiligheidstoerusting is ewe indrukwekkend met sewe lugsakke (wat knielugsakke vir die bestuurder insluit – die eerste keer vir Subaru) sowel as styftrekkers en slagbeperkers vir die voorste sitplekgordels, ankerpunte vir kindersitplekke, sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD) en remhulp, dinamiese voertuigbeheer (VDC), misligte voor en hellingwegtrekhulp. Hierdie en ander kenmerke het die Outback daartoe in staat gestel om ’n vyfster-gradering vir die veiligheid van die insittendes by die Australiaanse nuwemotor-botstoetsprogram (ANCAP), ’n vyfster-gradering algeheel in die Europese nuwemotor-botstoetsprogram (ENCAP) en ’n topveiligheidsgradering by die Amerikaanse versekeringstigting vir snelwegveiligheid (IIHS) los te slaan. Dit is die veiligste motor wat Subaru nog gebou het.

As ’n mens die laer brandstofverbruik en ’n standaard-instandhoudingsplan van 3 jaar of 63 000 km wat tot vyf jaar of 200 000 km verleng kan word, sowel as die dinamiese voordele van die simmetriese aandrywing deur al vier wiele in ag neem, is die 2010-Outback die voorkeur-keuse vir mense wat een motor wil hê wat aan hul uiteenlopende vereistes voldoen.

Outback 2,5i Premium – met die keuse van ’n 6-gang-handratkas of Lineartronic CVT-palwisseltransmissie, leerbekleedsel en elektriese beheer met geheuewerking vir die bestuurdersitplek, elektries beheerde sondak, 17-duimallooisierwiele en selfverstellende vering:

Pryse:
Outback 2,5i-handrat – R 345 000
Outback 2,5i CVT – R 358 000

Lewer kommentaar

Leave a Reply