Julanie J het geen bekenstelling meer nodig nie. Ons almal besef sy is hier om te bly. Sy het die afgelope 4 jaar haar merk gemaak in die Afrikaanse Musiek mark. Haar treffer ARM wat 20 weke op Jakaranda FM se CTM chart ge-top het, speel steeds daagliks op vele radio stasies. Haar onlangse lied Beheer het haar radio speeltyd met rasse skrede vermeerder.
Julanie J is ‘n liedjieskrywer deur en deur en daarom ook dat soveel kunstenaars haar vra om vir hulle te skryf. Sy het ‘n vermoë om ‘n storie met haar lirieke te vertel en haar melodieë neem jou op ‘n reis. Mense en hul alledaagse lewe inspireer Julanie. En dit is presies wat met die nuwe enkelsnit “Die girls gaan groot vanaand” gebeur het. ‘n Anthem vir die girls!! Julanie vertel:
“Na ń lang dag, wil net bietjie rustig raak, wil net met my girlies praat” is die eerste liriek-lyn maar ook letterlik die rede hoekom ‘Die Girls Gaan Groot Vanaand’ gebore is. J vertel “ Vroeër die jaar op ń dood gewone weeksaand, het ń vriendin gebel en gesê sy het haar vriendinne nodig. Tussen Pizza en Sushi, lag, huil, stories deel en genoeg Gin het ons , met ‘n Afrikaanse playlist in die agtergrond, besef dat die Manne heeltemal genoeg Jag, Skop, Skiet en Karatewater liedjies het en daar verseker te min “Girls Anthems” is, veral in Afrikaans! Ek was nog altyd ń liedjieskrywer wie se pen vloei uit my omstandighede so hierdie liedjie laat jou mooi verstaan wat soms in my en my vriendinne se koppe aangaan.”
Met sy opwindende vars klank en lekker op die tong lirieke, wou Julanie ook die mans betrek en hulle na die dansbaan nooi om met hul girls en vrouens lekker te sokkie-sokkie. Hierdie is beslis ‘n treffer om ons Suid Afrikaanse somer mee af te skop en wees gewaarsku … jou voete begin jeuk!