Die eerste Britse besetting van die Kaap volg na die Franse Rewolusie en die versoek van die Prins van Oranje, Willem V, dat Brittanje die Kaap en ander Nederlandse besittings in die buiteland in besit neem.

Frankryk verklaar in 1793 oorlog teen Brittanje en Nederland. Teen Januarie 1795 is Frankryk so te sê in beheer van Nederland. Die Prins van Oranje vlug na Brittanje. Die Nederlanders is verdeel tussen ondersteuners van die Huis van Oranje en diegene wat die ideale van die Franse rewolusie ondersteun. Die nuwe Nederlandse Republiek skaar hulle by Frankryk.

Ook aan die Kaap is daar verdeeldheid as gevolg van die Franse Rewolusie. Die meeste van die top-beamptes van die Kaap se Oranjegesindes is pro-Brits terwyl die burgers in die distrikte pro-Frans is.

Dit is onder hierdie omstandighede dat prins Willem V amptelik die Britte versoek om die Kaap te beveilig. Die taak word opgelê aan admiraal George Keith Elphinstone en generaal-majoor James Henry Craig.

Admiraal George Keith Elphinstone

Die winterstorms rondom Kaapstad maak dit moeilik vir die Britse oorlogskepe om daar te vergader. Op voorstel van admiraal Elphinstone kom hulle bymekaar by Salvador aan die kus van Brasilië. Generaal-majoor Alured Clarke kom uit die Indiese Oseaan met sy eskader onder leiding van sy vlagskip Hector. Hulle moes by die oorlogsvloot aansluit, maar gooi eers anker hier op 7 Julie.

Admiraal Elphinstone se oorlogsvloot vertrek op 3 April 1795 vanaf Salvador. Hy is aan boord van sy vlagskip Monarch wat deur sy naamgenoot kaptein John Elphinstone aangevoer word. Ander skepe in die kontingent is die Arrogant, Victorious, Rattlesnake, Sphynx en die Arniston.

Die Arniston verlaat die eskader op 12 Mei en gaan vooruit met briewe vir die goewerneur van die eiland St. Helena, vir kaptein Essington van die Scepter en vir kommandoor John Blankett. Met die oorlogsvloot se aankoms by die eiland, is kommandoor Blankett se groep reeds weg.

Op 10 Junie 1795 gewaar die oorlogsvloot land in die omgewing van Kaapstad. Kort daarna gewaar hulle kommandoor Blankett se vier skepe op die horison.

’n Fregat, die Medenblik, wat in Valsbaai voor anker lê, is die eerste om die Britse vloot te sien. Hulle rapporteer egter dat dit lyk asof die skepe verby vaar op pad na die Ooste.

Op 11 Junie vaar die oorlogsvloot Valsbaai binne en gooi anker. Die Rattlesnake raak agter tydens die vaart en anker eers 15 Junie in Valsbaai.

Daar word op admiraal Elphinstone se vlagskip Monarch gevuur vanaf Simonstad, maar dit is as gevolg van ’n misverstand. Die skepe lê net buite bereik van die kanonkoeëls.

Die plaaslike regering stuur 200 infanteriste en 100 artilleriste na Simonstad om die garnisoen daar te versterk. Die garnisoen bestaan op daardie stadium uit 110 infanteriesoldate en 50 artilleriste. Die Engelse vloot word intussen toegelaat om voorrade aan boord te neem, maar mag nie soldate aan wal stuur nie.

Uit die burgermag word 48 perderuiters na Muizenberg gestuur om onder bevel van ene Pieter de Waal stelling in te neem aan die voet van die Steenberg. Op 13 Junie word 200 infanteriste en 130 artilleriste opdrag gegee om Simonstad te verlaat en ook stelling in te neem by Muizenberg. Kort daarna word die ruitery versterk tot 200 man en die artilleriste word ook aangevul.

Die Britse vloot in Valsbaai bestaan op hierdie stadium uit die Monarch, Arrogant, Victorious, America, Ruby, Stately, Sphynx, Echo en Rattlesnake.

Op 28 Junie seil twee klein vaartuie onder die Amerikaanse vlag Valsbaai binne. Een van hulle, die Columbia, het vanaf Amsterdam gekom met amptelike posstukke vir die Kaap. Die skepe word dadelik deur die Britse vloot in arres geplaas.

Die Britse vloot raak meer aggressief op 9 Julie. Drie Hollandse skepe in Valsbaai word in besit geneem en bewapen. Een van hulle word twee maande later herdoop tot die Princess.

Generaal-majoor James Henry Craig neem die Britse mag aan wal op 14 Julie met 450 soldate en 350 mariniers. Hulle beset Simonstad, wat so te sê verlate is teen die tyd. Kort op hulle hakke volg twee bataljons seesoldate wat die Britse mag aan wal op 1 800 te staan bring.

Kaapstad word intussen versterk met meer as 1 000 burgers uit die distrikte. ’n Paar word na Muizenberg gestuur terwyl sommige wagdiens doen tussen Muizenberg en Kaapstad.

Admiraal Elphinstone stuur intussen die Sphynx na St Helena met ’n versoek vir ekstra troepe. Op 5 Augustus kom die Orpheus in Valsbaai aan en op 9 Augustus die Swallow en Arniston. Die Sphynx is vanaf St Helena na Salvador met ’n boodskap vir generaal-majoor Alured Clarke om sou gou as moontlik sy troepe na die Kaap te bring. Die Chatham is saam met die Sphynx na Salvador.

Kaapse verkenners benader Simonstad vanaf Noordhoek se kant oor die berg op 2 Augustus. Britse skildwagte gewaar hulle en die eerste ware geweerskote klap naby Simonstad. Nog Britse troepe gaan die berg op, maar die verkenners ontsnap.

Dit keer nie die burger-offisier Jacobus van Rheenen en sy pandoere om ook die berg bokant Simonstad te verken nie. In die vuurgeveg met die Britse skildwagte is een matroos liggies in die voet gewond. Die pandoere was swart soldate aan die Kaap.

Die Slag van Muizenberg begin 7 Augustus 1795 om 12h00. Die America, die Stately en Rattlesnake, almal saam onder bevel van kommodoor Blankett, seil tot voor Muizenberg. Admiraal Elphinstone is aan boord van die America.

Die admiraal het vooraf, in die geheim, ’n klein bootjie, die Squib, laat omskep in ’n kanon-boot.  Die Squib, onder bevel van adelbors Charles Adam, se barge is ook met kanonne toegerus. Met die aanval seil hulle naby die kus vanaf Simonstad na Muizenberg en maak die pad vir die troepe skoon met kanonvuur. Teen 13h00 is hulle by Kalkbaai. Die 1 600 troepe op land is onder bevel van Generaal-majoor Craig. Die Kaapse soldate slaan op vlug en gaan sluit aan by die verdedigers in Muizenberg.

Die artillerie in Muizenberg begin vuur op die Britse skepe. Om 14h20 begin die kleiner Britse skepe vuur en teen 15h00 loop Muizenberg deur onder salvo’s vanaf die hele Britse aanvalsvloot. Teen 15h30 is die geveg verby en Muizenberg verower.

Slegs een kanonskoot vanaf die land tref die America. Twee matrose is dood en vier gewond. Op die Stately is ook ’n matroos dood.

Generaal-majoor Craig se troepe verdryf die laaste Kapenaars uit Muizenberg, maar hulle tref sterk weerstand aan bietjie meer as 3 km anderkant Muizenberg. Daar was baie min ongevalle in die skietgeveg.

Die Kapenaars neem op 7 en 8 Augustus stelling in by Dieprivier waar hulle aanvanklik teenstand bied. Die opperbevel besluit egter om terug te val tot by Wynberg.

Na enkele klein skermutselings en verskeie briewe heen en weer tussen die strydende partye loods burger-ruiters, met ondersteuning van ’n groep pandoere, ’n aanval op die Engelse voorposte op 1 September. Hulle verower aanvanklik twee poste en neem vyf Britse soldate gevange, maar word deur die Britse artillerie gedwing om terug te val.

Die aand van 3 September 1795 word die Kapenaars se moed gebreek. Die Britse mag word aansienlik vergroot met 15 groot oorlogskepe wat Valsbaai binne vaar met 2 500 troepe aan boord. Die skepe is die Northumberland, Exeter, Worcester, Osterley, Kent, Brunswick, Bombay Castle, Earl Cornwallis, Earl Howe, Deptford, General Coote, Warren Hastings, Prince William Henry, Prince of Wales en Schillerman, ’n Deense skip. Die troepe bestaan meesal uit Hooglanders (Bergskotte).

Die America, Rattlesnake, Bombay Castle en Echo vertrek op 13 September onder bevel van kommandoor Blankett uit Valsbaai en vaar in die rigting van Tafelbaai. Naby Houtbaai vuur die Echo kanonne af. Die idee is om die batterye te lok om te skiet en sodoende hul posisie te verklap. Die slenter werk. Dit word die middag naby Groenpunt herhaal. Dit het ook ten doel om die Kapenaars bang te maak. Die skepe het net genoeg bemanning aan boord om die seile te hanteer. Hulle is nie veel van ’n bedreiging nie.

Die oggend van 14 September begin die opmars van die Britse leer vanaf Muizenberg. Terselfdertyd begin kommandoor Blankett se eskader op Kaapstad losbrand. Die verdedigers by Wynberg val terug na Kaapstad.

Die oggend van 16 September 1795 word die oorgawe van die Kaap afgehandel. Generaal-majoor Craig en admiraal Elphinstone onderteken die nodige dokumente by Rustenburg. Die middag om 15h00 is die Kasteel in Kaapstad in Britse besit geneem onder bevel van generaal-majoor Craig. Die eerste Britse besetting van die Kaap is voltrek.

Vrede van Amiens. Kunstenaar: Jacob Ernst Marcus, 1802

Admiraal Elphinstone was ’n geslepe kalant. Na die oorname van die Kaap laat hy steeds die gebruiklike seine vanaf Leeukop stuur en lok sodoende verskeie skepe in ’n lokval.

Die admiraal en generaal-majoor Alured Clarke vertrek op 15 November na Indië. Generaal-majoor Craig bly aan die Kaap as militêre goewerneur en kommandoor Blankett as die bevelvoerder van die Kaapse eskader.

Tydens die Vrede van Amiens in 1802 word die Kaap terug oorhandig aan die Bataafse Republiek.

’n Kaart vir die Eerste Britse besetting