Gemaak om te presteer

Die Subaru Impreza WRX sedan is terug en bied aan entoesiastiese bestuurders ‘n onverdunde bestuurservaring tesame met die beste passiewe en aktiewe veiligheid en ‘n kajuit wat gefokus is op elke behoefte van die bestuurder.

Die verandering na ‘n vierdeurweergawe van die WRX is tekenend van die herposisionering van die Impreza-reeks, wat nou bestaan uit ‘n 2.0R-sedan, die WRXsedan en die STI-luikrug. Die opgekikkerde Impreza-reeks behels nou die 2,0R-sedanvyfgang- handrat, wat na verwagting teen R249 000 bekend gestel sal word, die 2,0R viergang- outomaties vanaf R259 000, die WRX-sedan vanaf R349 000 en die STI teen R545 000. Die prys sluit ’n volle instandhoudingsplan van drie jaar of 63 000 km in.

Die 2009 WRX kry ‘n wesenlik kragtiger 2.5 liter DOHC Boxer-enjin: die Kw-lesing klim van 169 tot 195 – nou teen 6 000 r/min – terwyl die wringkrag toeneem met 23 Nm. Daar is 343 Nm beskikbaar teen 4 000 r/min en daar is meer beskikbaar oor ‘n wyer toerestrek, met die uitsondering van ‘n klein band onder 2 500 r/min.

Krag en wringkragsyfers is op met 15.4 en 7.2 persent onderskeidelik. Die karakter van die enjin is opmerklik meer atleties en albei die belangrike bereik nou hul hoogtepunt verder teen die toerestrek, wat die oorkoepelende eienskappe meer bevredigend vir bestuursentoesiaste maak.

Die enjin hardloop hoër, aangejaag deur ‘n groter turboaanjaer, maar is desondanks danksy ‘n aantal verfynings deur die ingenieurs meer doelmatig met algehele verbetering in die brandstofverbruik en uitlaatgasse. Die gekombineerde siklus van brandstofverbruik is af met drie persent van 10.7 tot 10.4 liter per 100km, en 247 gram koolstofdioksied word per kilometer vrygestel.

Subaru Impreza WRX 2009Die sedan se bakprofiel en ‘n aantal ander detailveranderings gee aan die Impreza WRX ‘n bevredigende en doelgerigte voorkoms, en vang so weer die gees vas van ‘n kenteken wat sinoniem geraak het met ‘n afgeronde verrigtingspakket en kompakte afmetings.

Die as-afstand is dieselfde as die van die luikrug, maar daar is wesenlik meer oorhang agter, wat aan die ontwerpers die geleentheid gebied het om ‘n elegante stertkant te skep, wat in ‘n subtiele bagasiebakdrukvlerk eindig.

Belangrike veranderings aan die buitekant sluit in ‘n hersiene, chroom-vrye, diamantpatroon-tipe sierrooster soortgelyk aan die STI, wat die motor se neus transformeer, wyer bande (225/45/17 bande word nou gebruik) vir ‘n baie doelgerigter postuur en ‘n minder beperkende dubbele uitlaatpypstelsel, wat ook voorsiening maak vir die kenmerkende plat-vier-dreuning.

Onder die vel was die veranderings daarop gefokus om fermer, meer responsiewe hanteringseienskappe te bied, eienskappe wat nog altyd met die WRX vereenselwig was.

Die draai-hantering is verbeter met teenrolstawe wat nou 1 mm dikker is voor en agter, asook verbeterde veringseienskappe. Die plasing van die voorste stutte is verbeter deur dieselfde uiters stewige boonste hegstuk te gebruik as wat by die Impreza STI gebruik word. ‘n Stuurwieldemper is ook bygevoeg om die terugskop op stamperige paaie te verbeter.

Die WRX is nie net geposisioneer as ‘n sportsedan nie, maar as een met ‘n hoë vlak van afronding en gerief vir die moderne verrigtingsmotorfanatikus. Om dit te bereik is die ervaring van eienaarskap en waarde vir geld verder uitgebrei wat ’n wye reeks naverkopevoordele insluit, waaronder ‘n 24 uur-tydsiklus vir enige versienings- en herstelwerk.

Dit dra alles by tot ‘n reeks motors wat ‘n omvattende motorervaring bied en beslis ook een wat sleutelspelers in belangrike areas soos bestuursgenot en algehele veiligheid, die loef af steek.

Lewer kommentaar

Leave a Reply