Hilux maak die Suidpool mak

Daar is duidelik net mooi geen enkele uitdaging wat die magtige Suid-Afrikaans vervaardigde Hilux nie te bowe kan kom nie. Vier van hierdie legendariese bakkies, wat in Toyota SA se Prospecton-aanleg in Durban vervaardig en na Europese lande uitgevoer word, insluitende Brittanje, het pas ‘n ekspedisie dwarsoor Antarktika na die Suidpool met welslae onderneem. Dit is verdere bewys na die ontstuitbare vermoë wat die Hilux ook gehelp het om die eerste voertuig te word wat die Magnetiese Noordpool bereik. Laasgenoemde was in 2007 tydens die Jeremy Mansfield en sy span se befaamde Top Gear-Uitdaging na die ysvelde van die koue Noorde.

Die jongste ekspedisie na die Suidpool het ook getoon dat die Hilux in ekstreme sneeu- en ystoestande ‘n beter voertuigkeuse is as ‘n Snocat. Die Toyota ry nie net vinniger nie, maar dit gebruik ook minder brandstof en kan meer passasiers vervoer – en, wat meer is, in groter gerief. En danksy die gehalte van Toyota se 3.0 D-4D-dieselenjin is daar minder CO2-emissies op die koop toe.

Die Hilux-bakkies is gekies as steunvoertuie vir die Amundsen Omega3-Suidpoolskiren, ‘n ski-uitdaging oor sowat 770 km om die historiese ekspedisies van die twee mededingende poolreisigers, die Noor Roald Amundsen en die Engelsman Robert Scott, te gedenk.

Die Hilux-bakkies is vir die ekstreme pooltoestande voorberei deur die spesialisonderneming Arctic Trucks van Reykjavik in Ysland, wat ook die voorbereidingswerk vir die Noordpool-Hiluxe gedoen het.

Toyota Hilux
Toyota Hilux

Met spesiaal vervaardigde sleepwaens agter hulle moes die Hiluxe by geleentheid vragte van tot 2,5 ton vervoer – 1,5 ton meer as hul aangeslane loonvrag.

Die vier Hilux-bakkies het ‘n super-gedugte taak gehad. Hulle is gebruik om voorraad, wetenskaplikes en steungroepe vir die verskillende ski-spanne te vervoer en ook om verkenningstogte te onderneem oor die ongelooflikste terrein en in toestande waarin temperature tot -30C gedaal het. In die proses het hulle elk meer as 3 200 km afgelê.

Toyota Hilux
Toyota Hilux

Hilux-bakkies het hulle reeds bewys as die voorkeur-werkperdbakkie vir wetenskaplikes by Camp Novo en ander Antarktiese navorsingstasies en daar word nou na hulle gekyk as die oplossing vir toekomstige vervoervereistes op hierdie onherbergsame vasteland. Trouens, die Hilux het reeds bewys dat daar met sy vermoë om die allerstrafste toestande op aarde aan te durf, geheel en al niks verkeerd is nie.

Verdere inligting oor die wysigings wat Arctic Trucks aan die Hilux-bakkies aangebring het, is beskikbaar op www.arctictrucks.com.

Toyota Hilux
Toyota Hilux

Lewer kommentaar

Leave a Reply