Hoe groter in Japan hoe gewilder in Suid-Afrika

Die groot afwagting op die nuwe-generasie Subaru Impreza STI het uiteindelik ‘n hoogtepunt bereik toe dié opwindende nuwe ryding met brullende enjins en vierwiel-vasvoetigheid op die Suid-Afrikaanse motortoneel aangekom het. Dié jongste toevoeging tot Fuji Heavy Industries van Japan se motorversameling pronk met ‘n algehele herontwerp wat sy voorkoms, onderstel en toerusting betref – net wat ‘n mens nodig het om die bloed soos olie deur jou are te laat pomp. Die STI bring dit wat groot in Japan is, na die witwarm Suid-Afrikaanse verrigtingsmotortoneel …

Wat die voertuig se uitlokkende geronde nuwe voorkoms betref, pronk die nuwe Subaru Impreza STI met ‘n breër romp en ‘n vaartbelynde binneruim met hoëgehalte afwerking. Die uitgeboude buite-ontwerp het die moderne neiging vir ‘n hoëverrigtingsvoorkoms in ag geneem, en ‘n oulik-parmantige en gewaagde drukvlerk agter waarborg ‘n groot afname in windweerstand. Fuji Heavy Industries het op sy uitgebreide kennis van lugdinamiese beginsels staatgemaak en die voorkoms in ‘n aerodinamies gekurwe vorm van die voorste stamper tot die agterste modderskerm verander, wat afwaartse druk vervolmaak. Dit het regstreeks tot beter stabiliteit van die voertuig in sy geheel teen hoë snelhede sowel as ‘n uitdagend elegante voorkoms gelei.

Nie een van die enjineienskappe waarvoor die baie gewilde Subaru Impreza STI so gesog is, is ingeboet nie. Trouens, hierdie gewaagde nuwe model het verbeterings ondergaan wat sy verrigting en rygenot danksy Subaru se voltydse aandrywing deur al vier wiele en simmetriese aandrywing absoluut vervolmaak. Hierdie kragtige voertuig se kraglewering is 221 kW teen 6 000 r/min en hy ontwikkel 407 Nm se wringkrag teen 4 000 r/min, wat die beste op die gebied van verrigting met die beste hantering kombineer.

Die bekendstelling van die Subaru Impreza STI in Japan het saamgeval met ‘n nuwe meesterstuk van Fuji Heavy Industries se lugvaartafdeling. Die eerste passasiersvlug van ‘n vliegtuig met die A380-stertontwerp was in Oktober 2007 van Singapoer na Sidney – nog ‘n veer in die hoed by die maatskappy se lang lys toekennings op die gebied van verrigtingsuitmuntendheid.

Die oordrag van lugvaarttegnologie na voertuigingenieursvernuf was voorheen ‘n waardevolle oorbruggingspunt vir baie ander ondernemings op die gebied van swaar bedrywe, waarvan Suid-Afrikaanse padgebruikers en bestuurders in 2008 steeds die voordele geniet. Die gedeelde kennis, ervaring, tyd en vaardighede wat beskikbaar gestel is vir die ontwikkeling van lugvaart- en motoraspekte binne een maatskappy is gewis ‘n intelligente manier om waardevolle en gereelde vordering op al twee gebiede te maak.

Die nuwe-generasie Subaru Impreza STI se aankoms in Suid-Afrika is iets wat uitbasuin moetword – met die sinergie van krag, beheer en veiligheid wat alles in een aantreklike en al te sportiewe bak verpak is, is dit ‘n voertuig wat jou aan die praat sal sit. Ry een en jy sal verstaan …

Lewer kommentaar

Leave a Reply