Kwaliteitsinskrywings in spesiale voertuig-veld vir Adenco 400

Daar is kwaliteitinskrywings in die Spesiale Voertuig-veld vir die Adenco 400, die eerste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Vrydag en Saterdag, 19 en 20 Maart in die Wes-Kaap plaasvind en dit dui vroeg reeds daarop dat die titels weer eens aan die einde van die seisoen afgehandel sal word.

Tydens die af-seisoen het verskeie veranderings wat spanpersoneel betref, plaasgevind en sommige bekende gesigte maak weer ‘n terugkeer. Een van die belangrikste veranderings is die huidige kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann wat weer in ‘n konvensionele tweewielaangedrewe Motorite-BAT is; Mike Whitehouse en Mathew Carlson wat by die Produksievoertuiggeledere aangesluit het en die terugkeer van Brandon Harcus wat die Darling-gebaseerde byeenkoms ‘n paar seisoene gelede met ‘n enkelsitplek-BAT gewen het.

Nuwe FIA-regulasies wat vereis dat vierwielaangedrewe voertuie se enjins voor in die voertuig geposisioneer word, het die Motorite-span verplig om die Revo1 waarmee Hutchison en Bergmann laas jaar se kampioenskap gewen het, weer af te stof. Terwyl Bergmann ‘n nuwe vierwielaangedrewe voertuig bou, sal die paar op die betroubare BAT Spec 3 staatmaak waarmee hulle die 2007-kampioenskap gewen het.

Hutchison en Bergmann sal weer eens uiters mededingend wees en kan sterk kompetisie van die voormalige Suid-Afrikaanse kampioen, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau in die Total-Porter verwag asook van die pa- en seun-kombinasie van Nick en Ryan Harper (Atlas Copco-BAT). Mens kan verwag dat die driemanskap altyd tussen die voorlopers sal wees, maar daar is ook ander moontlike wenners in die Klas A-veld.

Nardus Alberts, wat nou deur sy seun Louis in die Wrapsa-BAT bygestaan word, het gedurende laas seisoen gewen en Colin Matthews en Alan Smith, ook in ‘n BAT, sal ‘n bedreiging wees indien hulle hul betroubaarheidsprobleme uitgestryk kry. Harcus, wat deur Scott Wilson in die JMR Fleet Management-BAT bygestaan word, moet nie uit die prentjie gelaat word nie en so ook nie Herman en Wichard Sullwald in die Sulwalld Racing-SVR nie.

Die ervare Bevan Bertholdt en Danie Stassen (Porter) kan ‘n speek in die wiele wees terwyl Boela Botes en Johan Pretorius in die Botes Vervoer-BAT die vorige seisoen goeie verbetering getoon het. Die Lesotho-span, Keith du Toit en Ashley Thorn (Raceco) sal ook op podiumposisies staatmaak terwyl die vinnige, maar onvoorspelbare Jimmy Zahos en Stephan Coetzee terug is in die Cobalt Racing-Porter.

Die hoeveelheid Klas B-inskrywings word deur ‘n paar nuwelinge aangevul, maar die huidige jaerskampioen, Derick du Toit en die plaaslike besigheidsman, Adré Rheeder (Orange Tree-BAT) sal die span wees om te klop. Hul sterkste mededinging kan moontlik van die Makenete-broers, Keith en Andrew in die Zarco kom wie se deursettingsvermoë laas seisoen hul sterkpunt was.

Die veteraan, Stratford Voogt sal in ‘n nuwe Nanyi wees terwyl sy seun, Dwayne, langs Harry Steffen in ‘n soortgelyke voertuig sal sit. Die plaaslike paar, Marius Nicholson en Rod Jeffrey in ‘n Opel Sandmaster, sal ook plaaslike kennis beskik en kan moontlik vir ‘n opskudding sorg.

‘n Tweegeveg kan moontlik in Klas P ontstaan met Johan Bezuidenhout, wat vir ‘n derde agtereenvolgende jaerstitel mik en sy broer Deon wat hul hande vol sal hê. Wat die Adenco-BAT-paar betref, is daar geen tekort aan mededingers nie. Die ouer Bezuidenhout vervang die jonger broer, Etienne, wat na die Produksievoertuigkategorie oorgeskuif het waar hy agter die stuur sal inskuif.

Die 2009-Beginners van die Jaar, die Pretoria-kombinasie van Johan van Staden en James Rossouw (KEC-BAT) en die broers, David en Gary White (Ruwacon-BAT) lei ‘n lang lys van mededingers. Beide spanne is kampioenskapmateriaal en bestendigheid sal ‘n uiters belangrike rol regdeur die seisoen speel.
Die kollig sal ook op Mark Corbett en Rudi Balzer wees wat met die Century Racing CR3 uit Klas A skuif. Hulle is moontlike wenners saam met die veteraan, Ernest Corbett en Warwick Goosen wat laas jaar ‘n Sun City 400-sege in die Century Racing CR2 aangeteken het.

Drie ander veteraan-spanne, die voormalige SA-kampioene, Richard Schilling en Chris Davies (Aceco); Bodo Bertholdt/Phillip Herselman (Atlas Copco-BAT) en Archie Rutherford en Craig Doubtfire in ‘n Jimco beskik almal oor die potensiaal om vir ‘n opskudding te sorg. Nic Goslar is ook terug in die saal en sal weer saam met Richard Carolin in ‘n Zarco deelneem.

Die Donaldson-voorren wat die wegspringposisies bepaal, begin Vrydag om 13h30 terwyl die ren Saterdag om 08h00 afskop. Die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by die Darling-klub wees.

Daar is ‘n veskeie toeskouerpunte wat binne maklike bereik van die Darling-klub sal wees. Toegang tot dié punte asook die begin- en eindpunt is gratis.

bydrae: Charmaine Fortune


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar