Nissan wen weer Toyota-Handelaars 400

Die Donaldson-Nissan Navara-span is weer terug op die wenpad en die Suid-Afrikaanse kampioene, Duncan Vos en Ralph Pitchford het ‘n opwindende Klas SP-stryd in die Produksievoertuigkategorie van die Toyota-handelaars 400 gewen.

 

Nissan is tydens die vorige ren vir die eerste keer in ses renne by die Highveld 400 geklop, maar het na hul wenweë teruggekeer met Vos en Pitchford wat hul vyfde sege van die seisoen aangeteken het. Dit was die naaste sege van die jaar met die Nissan-paar wat net 24 sekondes voor die Castrol-Toyot Hilux-span van Hein Lategan en Chris Birkin klaargemaak het.

Ivar Tollefsen en Quin Evans in ‘n tweede Donaldson-Nissan Navara was derde met Anthony Taylor/Robin Houghton (Castrol-Toyota Hilux) en Hannes Grobler en Juan Möhr in die derde Donaldson-Nissan Navara wat onderskeidelik vierde en vyfde geëindig het. Die top agt is afgerond deur die fabrieks-diesel-Ford Racing Ranger van Neil Woolridge/Kenny Skjöldhammer; die SP Laser-Nissan Navara van Alfie Cox/Jurgen Schröder en die RFS-Toyota Hilux van Chris Visser en Japie Badenhorst.

Minder as ses minute het die voorste agt spanne van mekaar geskei en dit was die naaste sedert die ontstaan van Klas SP.

“Dít was ‘n ren,” het ‘n entoesiastiese Vos, wat saam met Pitchford reeds as vanjaar se algehele kampioene gekroon is, gesê. “Die druk was daar van die begin af en ons moes elke sekondes konsentreer.

“Ek en Ralph het ‘n klein bietjie geluk aan ons kant gehad deurdat ons ‘n skoon lopie gehad het sonder enige pap bande of klein probleempies wat ons gehinder het.”

Die ongelukkige span was Taylor en Houghton wat Vrydag se voorren, wat die wegspringvolgorde gepaal het, gewen het. Hulle was 46 sekondes voor die drie Donaldson-Nissans, maar het vinnig die voorloperposisie verloor toe hulle ‘n pap band opgedoen het.

Toe, op die laaste van die drie sirkelroetes waaruit die ren bestaan het, was Taylor en Houghton reg agter Vos en Pitchford. In ‘n verbete poging om by die Nissan verby te kom, het die Toyota nó ‘n pap band opgedoen.

“Dit was ons laaste poging op ‘n klipperige gedeelte waar daar geen stof was nie,” het Taylor gesê. “Die tweede pap band het ons kanse vernietig.”
“Nadat ons die wiel geruil het, wou die voertuig nie dadelik vat nie en ons het selfs verder teruggeval.”

Lategan en Birkin het ‘n laat aanval geloods wat Toyota se hoop laat opvlam het. Maar daar was reeds te min renkilometers oor vir hul beste vertoning van die seisoen.
Daar was ook ‘n naelbyteinde in Klas D waar Dewald van Breda en Johann du Toit in die Northam-Toyota Hilux D4D ‘n skrale 14 sekondes voor die plaaslike Mpumalanga-span van Johan en Werner Horn in die Malelane Toyota Land Cruise klaargemaak het. Dié sege beteken dat Van Bredan en Du Toit ‘n stap nader aan die Klas D-kampioenskap beweeg het.

Coetzee Labuscagne en Johan Gerber (Raysoncis-Nissan Hardbody) was derde met die vroeë kampioenskapvoorloper, Cliff Weichelt, wat nou deur Johann Smalberger in die N1 4×4-Toyota Hilux D4D bygestaan word, wat waardevolle jaerskampioenskappunte met ‘n vierde plek ingepalm het.

Slegs twee Klas E-spanne kon die ren voltooi met Leeroy Poulter en Rob Howie in die Ferodo-Nissan Hardbody, wat ‘n minuut voor die huidige kampioene, Jannie Visser en Joks le Roux indie RFS-Toyota Hilux geëindig het. Met die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux-inskrywings van Deon Venter/Ian Palmer wat die aftog moes blaas, het Visser en Le Roux nou die leiding in die kampioenskap oorgeneem met een ren wat nog op die kalender oor is.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply