Die veterane, Nardus Alberts en Geoff Minnitt het ‘n lansie vir die ouer generasie gebreek toe hulle Klas A van die Spesiale Voertuigkategorie van die Toyota-handelaars 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag by Lydenburg geëindig het, gewen het.
Dit was die grootste verrassing van die seisoen met Alberts en Minnitt in die Wrapsa-BAT wat voor die Regent Racing-BAT van Mike Whitehouse en Mathew Carlson klaargemaak het. Whitehouse en Carlson was ongeveer vyf minute agter Alberts en Minnitt met Naeem Moosajee en Feroz Doddha Moultson (Tyre Rack-Jimco) wat hul 100 persent-klaarmaakrekord met ‘n derde plek volgehou het.
Vierde en vyfde was Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco-BAT met Mark Corbett en Rudi Balzer vyfde in die Century Racing-CR1 4×4. Dit was die eerste ren wat die CR1 na 15 probeerslae kon voltooi met Corbett en Balzer wat van ‘n katastrofiese voorren Vrydag, wat die wegspringvolgorde bepaal, herstel het.
Dit was ‘n groot verrassing dat die nuutgekroonde Suid-Afrikaanse kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann hul eerste ren van die seisoen in die mOtorite-Revo1 4×4 nie kon voltooi nie. Die nuwe kampioene het ‘n rots teen ‘n hoë snelheid getref en veringstelselskade opgedoen wat die einde van hul ren beteken het.
“Dit was totaal onverwags,” het Alberts, wat bykans verplig was om af te tree na ‘n ernstige rugbesering tydens ‘n ongeluk ‘n jaar gelede, gesê. “Dit was teen die einde van die tweede sirkelroete dat ons besef het ons staan ‘n kans om die ren te wen.
“Ons het ook iets ongeveer 20 kilometer voor die einde getref en het ‘n tikkie geluk nodig gehad om die einde te haal.”
Twee ander gunstelingspanne moes ook die handdoek ingooi. Ratkasprobleme het die Highveld 400-wenners, Gerhard du Plessis en Ferdi Seegers gekniehalter met meganiese probleme wat die Toyota 1000-Woestynrenwenners, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau in die Total-Porter, se einde beteken het.
Die Klas P-louere het aan die KwaZulu-Natal-paar, Don Thompson en Hjalmar van Gesselen (Zarco) behoort wat ‘n teleurstellende voorren oorkom het om voor die KEC-BAT van Johan van Staden en James Rossouw te eindig. Net 17 sekondes het dié twee spanne by die einde van die mekaar geskei.
Derde was die huidige kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout in die Adenco-BAT. Met David en Gary White (Ruwacon-BAT) wat tussen diégene was wat nie die ren kon voltooi nie, het dié resultaat beteken dat die Bezuidenhout-broers se kampioenskaphoop weer lewe gekry het.
Die Klas B-sege het aan Derrick du Toit en sy plaasvervangernavigator, Steve Harris in die Orange Tree-BAT behoort. Dit was Du Toit se vierde agtereenvolgende oorwinning met die Makenete-broers, Keith en Andrew wat 12 minute agter die wenner klaargemaak het.
Derde was John Telford en Jaco Swart in die Calcamite-Zarco Lite. Met een byeenkoms, die RFS 400 in die Magaliesberg nog oor, kan Du Toit nie in die klas B-kampioenskap geklop word nie.
bydrae: Charmaine Fortune
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
