Sewentien minute voor vier op die warmste winter-oggend lui die skril voordeurklokkie van Staalmurg Sewe se vervalle tweeslaapkamerhuisie in die onderkant van Mikburg. Met ‘n woeste deurmekaar bos hare en net ‘n uitgewaste long-john aan maak die onnatuurlike groot Staalmurg die deur stadig oop. “Snykuif! Wat soek jy so vroeg huh?”
“Staal!” hyg Snykuif na sy asem, “Ons het hom gevang! Op heterdaad Staal! Jy moet nou kom!” “Ok, ok! Gee my net gou twee minute.”
Terwyl Snykuif sy asem terugkry, trippel hy opgewonde rond. “Stinkeiers!” dink hy, “Ek wonder wat gaan Staal doen as hy sien wie dit is! Hier kom groot moeilikheid!”
Skaars twee minute later verskyn Staal weer, aangetrek en sigaret in die mond. Terwyl hy die voordeur sluit sê hy vir Snykuif dat hy saam met hom ry. In die verbleikte ligblou volksie draai Staal die ruit af om die rook buitentoe te blaas. “So wie is dit?” vra hy kortaf.
Dit is al maande wat hy, Snykuif en Driesproet na die skobbejak soek wat teen die tyd bekend is as, Die Oogboef. Mikburg se polisiestasie het so vier jaar gelede al gesluit, a.g.v die geen misdaad rekord vir tien jaar en die polisielede was verplaas na groter stede waar hulle teenwoordigheid in groter aanvraag was. Sowat twee jaar gelede het Staal besluit om homself en sy twee beste pelle as die Dorpswagte aan te stel, net so dat die mense darem weet daar is beskerming indien dit sou benodig word. Minwetend dat daar so dag sou kom! Staal se verloofde was die eerste slagoffer.
Snykuif maak asof hy vir Staal glad nie gehoor het nie. Staal kyk vir Snykuif aan met ‘n brandende gluur wat regdeur mens se kop sal brand. “Dit was vanoggend so net na drie uur” begin Snykuif met ‘n gevlegde senuweeagtige stem te vertel. “Ek het by my oom-hulle geslaap, want ek en Wipkuifie het weer baklei oor die ou blerrie wasmasjien! Ek het wakker geskrik van een helse lawaai, geklink soos ‘n asblik wat omgestamp is. Ek het opgestaan om te kyk en daar sien ek die figuur wat langs die asblik lê, in tannie Roespot se erf. Ek haas my na buite en spring sommer oor die heining. Die man was bewusteloos. Ek roep deur die venster na tannie Roespot en word met ‘n gekreun geantwoord. Ek het die ambulans gebel en vir Driesproet. Jou sel was af? Tannie Roespot se linker-oog. Die oog is aan die man se persoon gevind. Tannie Roespot is stabiel. Die man is in Driesproet se motorhuis, vasgemaak op ‘n stoel.”
Soos Snykuif die laaste woorde loslaat, trek hulle by Driesproet se oprit in. Driesproet sit op die stoep met ‘n koppie koffie en ‘n sigaret. Staal is dadelik uit en stap met snelle vaart na die motorhuis wat so effens aan die agterkant van die erf is. “Staal!” roep Driesproet, “ek MOET eers met jou praat, asseblief!” Staal stop, huiwer so ‘n oomblik, maar draai om en gaan sit op die stoep. “Praat gou, ek het ‘n hofsaak wat wag!” Driesproet maak keelskoon, amper soos ‘n ratwisseling, van vriend na berader stemtoon. “Staal, al wat ek jou vra is dat gereg moet seevier op die regte manier. Geen geweld, geen bloed. Daar het alreeds genoeg bloed gevloei!”
“En wat van die mense se lewens wat vir altyd geskend is!!” vra Staal vererg. “Veertjie sal nooit weer die lewe in geheel kan aanskou nie, nooit ooit weer nie!” Driesproet gaan staan by Staal en rus sy hand op Staal se skouer. “Asseblief Staal, jy kan nie aan dit alles dink as jy nou daar gaan instap nie, jy sal moet neutraal wees. Ons gaan die man stad toe neem sodat hy toegesluit kan word en dit is dit. Ek vra jou mooi?” Staal kyk vêr die blou lug in en knik sy kop. Hy staan, kyk vir Driesproet in die oë en gee ‘n half ontwaardige skewe glimlag.
Staal gaan by die sydeur van die motorhuis in. Dit is so stowwerige muf donker en hy skakel die lig aan. Op ‘n verweerde houtstoel sit ‘n man kop-hangend, yl grys hare. Staal gaan staan voor die man en lig die man se ken so skuinserig op.
“PAAA!”
Staal se pa begin huil, diep hartseer snikke uit ‘n gebroke bors. “Wat de HEL PA?” In sy lewe was Staal nie hiervoor voorbereid nie, nog nooit eers so iets kon dink nie!
“Staal asseblief, jy moet verstaan! Ek het dit vir jou Ma gedoen, net een oog! Sodat sy weer kon sien, al is dit net vir die kort tyd wat sy nog oor het. Ek wou net hê sy moet weer die see en berge kon sien, sy is tog so lief vir die see en die berge. Trane bult in Staal se oë.
“Pa” sê Staal sag, “Ma is al ‘n jaar nie meer met ons nie Pa, al ‘n hele jaar”.

