Die algehele kampioenskap mag dalk afgehandel wees, maar daar is ander onafgehandelde sake in die Produksievoertuigkategorie van die RFS Magalies 400, die finale ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Vrydag en Saterdag by Tarlton International Raceway plaasvind.
Die RFS Toyota Hilux-paar van Chris Visser en Japie Badenhorst het die algehele kampioenskap laas maand met ‘n sege tydens die Human Auto 400 in die Vrystaat bevestig. Die veterane Hannes Grobler en Hennie ter Stege kan met dieselfde hoeveelheid punte as die nuwe kampioene eindig indien hulle wen en Visser/Badenhorst nie punte aanteken nie.
Indien dit sou gebeur sal die titel aan Visser en Badenhorst behoort wat oor meer oorwinnings beskik. As gevolg van die verskil in veldrenpuntetoekenning lyk die situasie effens anders in Klas SP waar Grobler en Ter Stege steeds ‘n kans staan om die titel voor Visser en Badenhorst op te raap.
Dit kan tot ‘n situasie lei waar Visser/Badenhorst die algehele kampioene is en Grober en Ter Stege die Klas SP-titelhouers. Maar daar is ander sake wat in beide die Klas D- en Klas E-kampioenskappe afgehandel moet word.
Met almal wat ‘n oorwinning tydens die laaste byeenkoms van die seisoen gaan najaag, sal Klas SP nie ‘n plek vir sissies wees nie. Daar is ‘n paar interessante kampioenskapstryde wat verder af op die punteleer gefinaliseer moet word en tesame met die Klas D- en E-situasies behoort die naweek uiters interessante renaksie op ‘n roete wat nuwe gedeeltes insluit, op te lewer.
Visser en Badenhorst is in die gelukkige posisie dat hulle hulself kan geniet – maak nie saak wat die resultaat is nie. Daar bestaan egter geen twyfel dat hul renbloed steeds sal kook nie en hulle sal poog om hul vyfde sege aan te teken.
Agter hulle skei slegs 11 punte Grobler/Ter Stege en die Team Castrol Toyota-paar van die uittredende jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie. Agter hulle is daar net ses punte verskil tussen Terence Marsh, wat weer saam met Buks Carolin in die Regent Racing Nissan Navara deelneem; Neil Woolridge/Kenny Skjöldhammer (Team Ford Ranger TDCi) en Gary Bertholdt en André Vermeulen in die Atlas Copco Toyota Hilux.
Van dié drie het nog net Bertholdt en Vermeulen nog nie dié seisoen gewen nie. Dié paar sal mik om hul seisoen op ‘n hoë noot af te sluit.
Anthony Taylor en Robin Houghton in ‘n tweede Team Castrol-inskrywing, sal ‘n bietjie respek by hul frustrerende seisoen wil voeg. Thomas Rundle en Juan Möhr (Barden Tyre Services Nissan Navara) en Mike Whitehouse/Matthew Carlson in ‘n tweede Regent Racing Nissan Navara is in dieselfde bootjie terwyl ‘n paar ander spanne hul goeie vertonings sal wil voortsit.
Tussen diégene is die Vrystaat-spanne George Bezuidenhout/David van Wyck (AIM Toyota Hilux); Louw de Bruin/Riaan Greyling (Ruwacon Ford Ranger); Pieter Ruthven/Rudi Britz (Ruwacon Toyota Hilux) en die pa- en seun-paar van Willem en Dana Vos in die Vossies Toyota Hilux. Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren wat hul beste resultaat van die seisoen met ‘n podiumposisie tydens die Human Auto 400 behaal het, kan ook by dié groep ingesluit word.
Nie minder nie as 17 Klas SP-spanne het ingeskryf met spanne soos Jaco Swanepoel/Keith Solomon (JAM TEC Toyota Hilux) en Graham en Trevor Leith in die Transcor Ford Ranger wat ‘n terugkeer maak. Gereelde deelnemers soos Kobus van Tonder en Freddie Kriel (Uni Freight Ford Ranger) kan by die lysie gevoeg word en dit beteken dat goeie renaksie regdeur die veld verwag kan word.
Die Klas D-stryd is ‘n geveg tussen die huidige leiers, Deon Venter en Ian Palmer (4×4 Mega Word RFS Toyota Hilux) en die huidige kampioene, Dewald van Breda en Johann du Toit in die Northam Toyota Hilux. Venter/Palmer het twee agtereenvolgende seges terwyl tegniese kwessie veroorsaak het dat die Northam Toyota in die Vrystaat in Klas SP moes meeding.
Die 4×4 Mega World-span het voordeel uit die situasie getrek om ‘n voorsprong van nege punte op te bou met Van Breda en Du Toit wat die voertuig waarmee hulle laas jaar se kampioenskap gewen het, vir dié ren afgestof het. Die voormalige kampioen, Cliff Weichelt, wat vir die eerste keer dié seisoen deelneem en Johan Smalberger (N1 4×4 Toyota Land Crusier) kan ‘n vlieg in die salf wees in ‘n voertuig wat reeds gewys het dat dit oor potensiaal beskik.
Die Land Rover-spanne van Jack en Sarel Oosthuizen asook Johan Steyn en Paul Jonker hoop om vir ‘n verrassing te sorg. Die twee Land Rover-spanne kan hulself ook in ‘n taai stryd met Johan Steyn en Wentzel Pretorius in ‘n Mitsubishi bevind.
Daar is ook nege punte verskil tussen die Klas E-kampioenskapvoorlopers, Lance Woolridge en Ward Huxtable (Team Ford Ranger) en Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus in die 4×4 Mega World RFS Toyota Hilux. Labuscagne en Erasmus het die kampioenskap laas jaar met ‘n enkele punt verloor en is in ‘n uitdagende posisie danksy die Human Auto 400-ongeluk wat die jong Woolridge en Huxtable uit die prentjie kan skuif.
Woolridge se rugbesering kan ‘n probleem wees tesame met die tweede 4×4 Mega World RFS Toyota Hilux-inskrywing van Hein Moolman en JD Wolfaardt. Gerald le Roux en Willem Pretorius (Ruwacon Ford Ranger) kan ook ‘n bedreiging wees tesame met Malcolm Kock en Johan Berger in nóg ‘n Toyota Hilux.
Die hoeveelheid Toyota-inskrywings wat teen die jong Woolridge en Huxtable kragte kan saamspan word deur die broers, Diederik en Danie Hattingh (Transcor Toyota Hilux) en Barrie Drenth en Natasha Muller (Ultimate 4×4 Toyota Hilux), wat van die Noordelike Streekskampioenskap opskuif, afgerond.
Die renhoofkantoor, die begin- en eindpunte en die aangewese dienspunt is by die Tarlton-kompleks naby Krugersdorp. Die Donaldson-voorren begin Vrydag om 12:00 terwyl die ren Saterdag om 08:30 afskop.
Die roete is toeskouervriendelik met heelwat goeie uitkykpunte. Publieke toegang tot Tarlton- en die toeskouerpunte is gratis.
bydrae: Charmaine Fortune
