Shell was die week vol beloftes by monde van sy voorsitter in Suid-Afrika, Bonang Mohale.
Shell doen tans aansoek om te mag boor vir skaliegas deur die proses van hidroliese breking. Die projek word teengestaan deur verskeie aksiegroepe, sakelui, waaronder Johan Rupert asook boere in die omgewing. Prinses Irene van Nederland, wat ’n plaas naby Nieu-Bethesda besit, is ook teen die ontginning gekant.
Die staat New York in die VSA het onlangs ’n moratorium geplaas op die gebruik van hidroliese breking, gevolg deur Frankryk verlede week. ’n Ondersoek deur die The New York Times, wat verlede week gepubliseer is, het aan die lig gebring dat hidroliese breking baie meer skadelik is vir die mens en omgewing as wat voorheen vermoed is.
Bongale sê Shell sal almal wat skade ly vergoed – mits jy natuurlik gedokumenteerde bewyse het wat onomwonde bewys kan lewer dat dit as gevolg is van iets wat Shell gedoen het. En dalk moet jy jare in die hof spandeer om net miskien buite die hof te skik vir ’n bedrag en jou stilswye oor die giftige water op jou plaas. Intussen beweeg Shell aan na die volgende boorgat – steeds met reuse winste.
Shell wil ’n area van 90 000 km² in die Karoo ontgin.
Hopelik sal Shell uitvind dat die Karoo met geen geld te betaal is nie.
