Toyota se Dynamic Lounge-beginsel voeg die jongste buite- en binnestilering in ’n praktiese vorm saam wat uitstaande binneruimte, gemak, praktiese bruikbaarheid en veelsydigheid bied. Die doeltreffendheid van die ontwerpkonsep strek tot uitstaande ritgehalte, akoestiese gemak (lae NVH), en dinamiese vermoë van die boonste rak.
Die ‘Dynamic’-element van die ontwerpbenadering word deur die kragtige eksterne en interne eienskappe en die gevorderde ry-dinamika van die nuwe Verso beklemtoon. Die ‘Lounge’-element vloei uit die gemak, gehalte, gerief, ruimte en omgewing wat die splinternuwe binneruimpakket bied.
Dubbelsone-buiteontwerp
Die nuwe Verso is 70mm langer as die model wat hy vervang en is altesaam 4440mm lank, terwyl die nuweling ook 20mm breër met ’n algehele wydte van 1790mm is. Sy hoogte bly op 1620mm dieselfde.
Die stilering vloei uit die dinamiese geaardheid van die vorige model en bevorder dit met ’n vars en unieke, moderne vertolking. Die vars, nuwe ontwerpbenadering verdeel die voertuig vir alle praktiese doeleindes in twee kenmerkende stileringsones om die kombinasie van funksionaliteit en dinamika te beklemtoon.
Hierdie dubbelsone-stilering is duidelik te sien wanneer ’n mens die nuwe Verso van die kant af bekyk, met sy sterk karakterlyn wat van die voorpunt van die voorste stamper af deur die onderste helfte van die deure vloei en dan deur die C-pilaarlyn opwaarts strek om die dak te beklemtoon. Dit skep twee kenmerkende stileringsones, waarvan die voorste die enjinkap- en kajuitomgewing behels, en die tweede die onderste deel van die romp en bagasieruim agter inneem. Die skerp gedefinieerde wielnisse vul die dubbelsone-karakterlyn netjies aan.
Van voor gesien word die nuwe Verso deur ’n kenmerkende enjinkaplyn onderskei wat van die onderkant van die A-pilare af vorentoe vloei. Die sierrooster krul af en om die opvallende Toyota-kenteken en word deur dubbele horisontale stawe beklemtoon. Die kopligsamestelle is diep tot in die voorste modderskerms in ’n soepel aerovorm gemonteer. Die diep lugskort voor beklemtoon ook die voertuig se gespierde voorkoms.
Die agterkant van die nuwe Verso word deur die praktiese stertdeur wat boontoe opslaan met groot, uiters sigbare stertligsamestelle aan weerskante gedefinieer. Die stertdeur strek tot in die agterste stamper.

Smart-wave-binneruimontwerp
Die gevoel vir die splinternuwe binneruim weerspieël die Verso se Dynamic Lounge-beginsel en word deur die ‘Smart Wave’-dinamika van die voorpaneelontwerp beklemtoon. Hierdie stileringseienskap behels skitterende ergonomie vir die skakelaars en kontroles, terwyl die ratkierie so na as moontlik aan die stuurwiel gemonteer is. Die praktiese bestuurdersomgewing se ernstige kant word van die meer ontspanne gemak van die voorste passasierskant deur ’n vertikale middelkonsole geskei.
Hierdie twee sones word verbind deur ’n skerp ‘golwende’ lyn wat deur die volle breedte van die voorpaneel strek, en inkorporeer die instrumentehuisie waarin die silindriese spoedmeter en toereteller saam met die ander meters en aanwysers wat terugvoer oor die werking van die voertuig verskaf, gegroepeer is. Die instrumentehuise wat skuins van die bestuurder geplaas is, sorg vir ’n onbelemmerde uitsig voor die bestuurder terwyl die instrumentehuisie steeds binne sy sigveld is.
Die keuse en gehalte van die materiale en die algehele gevoel van die binneruim is lewensnoodsaaklik vir die ‘Dynamic Lounge’-beginsel van die nuwe Verso. ’n Vermenging van sagte, tegniese greinoppervlakke vir die boonste gedeelte van die voorpaneel en leergreinafwerking vir die onderste dele daarvan beklemtoon die gevoel van omvattende ruimte in die kajuit. Hierdie kombinasie van hoëgehalte sagte afwerking word deur die titaanafwerking van die instrumenthulsels, middelkonsole en deurhandvatsels aangevul.
Beter sig vir die bestuurder
Die nuwe Verso het ’n hoogteverstelbare sitplek vir die bestuurder, wat in samewerking met die kantelbare stuurkolom vir die ideale sitposisie vir bestuurders van enige grootte sorg. Hierdie eienskappe span saam met ander verbeterings ten gunste van die sitposisie om die bestuurder se sig te help verbeter.
Die bestuurder se heuppunt aan weerskante is met 25mm tot ’n hoogte van altesaam 640mm gelig, wat die blinde kol onder die enjinkaprand (die omgewing reg voor die voertuig wat deur die enjinkap versteek word) aansienlik kleiner maak. Hierdie herontwerp het die kol met 1550mm verklein. Die toevoeging van ’n klein, vaste kwartvenstertjie sorg vir heelwat beter sig tydens maneuvreerwerk of wanneer die voertuig parkeer word. Die buite-truspieëls wat aan die deure gemonteer is, is 40% groter sonder om veel van ’n uitwerking aan die algehele breedte van die voertuig te hê. Die oppervlak wat die agterste ruitwasser en -veër dek, is met 10% vergroot.
’n Interessante kenmerk van die nuwe Verso is sy ingeboude “geselskapspieëltjie”. Dit stel die bestuurder in staat om die agterste insittendes te sien wanneer hulle gesels, en terselfdertyd ’n ogie op die kinders heel agter in die voertuig te hou.
Die skynpatroon van die kopligte is nou aansienlik breër en langer, wat vir baie beter sig in die donker sorg. Die voertuig het nou ligdiodes vir die remligte en derde remlig, wat vir ’n energiebesparing van bykans 90% in vergelyking met gloeilampe sorg, maar ook baie vinniger verlig. Die Verso se ligdiode-remligte gee die bestuurder ’n bykomende waarskutydperk van 180 millisekondes, wat op ‘n afstand van ses meter neerkom wanneer die voertuig 100km/h ry.
Toyota Easy Flat-7-sitplekindeling
Die Toyota Easy Flat-7-sitplekstelsel gee ’n mens tot 32 verskillende sitplek-indelings en word as die mees ingewende, praktiese en veelsydige veeldoelvoertuig-sitplekontwerpe erken. Die stelsel is effens vir die nuwe Verso hersien om munt te slaan uit die bykomende 30mm van die langer asafstand. Die individuele sitplekke vir die tweede en derde ry kan nou verder skuif, wat meer beenruimte vir al die sitplekke en groter gerief vir al die insittendes bied.
Die voorste sitplekke het beter skouersteun terwyl die sitgedeelte 20mm langer en ook 5mm dikker as dié van die vorige model is. Die sitplekkussing is 40mm hoër. Die groter binneruim word beklemtoon deur die 50mm-toename in die afstand tussen die heuppunte van die eerste en tweede ry se insittendes, wat nou 975mm uitmekaar die beste in hierdie klas voertuig is.
Die tweede ry sitplekke, met toegang deur openings wat identies aan dié vir die voorste sitplekke is, slaan ook munt uit die verbeterde steun en ’n sitplekkussing wat 20mm langer is. Die skuifafstand van die tweede ry sitplekke is 30mm langer om beter toegang tot die derde ry sitplekke te bewerkstellig, en sorg ook vir meer beenruimte. Elk van die drie individuele sitplekke in die tweede ry kan 195mm individueel skuif. ’n Geheueverstelling laat die sitplekke se rugleunings tot die oorspronklike posisie terugskuif wanneer dit verstel word om toegang tot die heel agterste ry sitplekke te bied.
Laeprofiel-kopstutte word vir al die tweede en derde ry sitplekke ingespan, wat beteken dit hoef nie meer verwyder te word wanneer die sitplekke platgevou word nie. Al die sitplekke in die tweede en derde ry kan ook afsonderlike platgevou word. Die heel agterste sitplekke vou nou ook makliker plat danksy die toevoeging van ’n lus-meganisme wat net met die een hand getrek kan word. Die derde ry sitplekke het nou ook ’n skuinsverstelling vir die rugleuning om gemak te verhoog.
Laairuim en bergplek
Toyota se Easy Flat-7-sitplekstelsel sorg vir ’n heeltemal plat laaivloer wanneer die tweede en derde ry sitplekke platgevou is. Die laairuim in die nuwe Verso is met 185mm verleng en is altesaam 1830mm lank, terwyl dit 240mm breër en altesaam 1585mm breed is. Die beskikbare laairuim met al die sitplekke in die tweede en derde ry in posisie is heelwat groter en met 63 liter tot altesaam 180 liter vergroot, wat dit van die bestes in sy klas maak.
Die nuwe Trunk Management-stelsel word onder die laaivloer aangetref en bied die ideale plek om waardevolle goed buite sig te berg. Hierdie ruimte het ook plek om die bagasieruimseiltjie te berg wanneer dit nie gebruik word nie.
Die nuwe Verso bied in pas met sy doel as veeldoelvoertuig talle bergruimtetjies regdeur die hele kajuit. Dit sluit in ’n dubbele paneelkissie met ’n verkoelde boonste kompartement, wat groot genoeg is om ’n drinkhouer van 1,5 liter te huisves, sowel as ’n groot middelkonsoleboks, ’n oorhoofse konsole, en ruim deursakke. ’n Laai onder die voorste passasiersitplek bied ook versteekte bergruimte wat binne maklike bereik is. Die bestuurder sowel as die voorste passasier se sitplekke het bykomende bergruimtes vir selfone of MP3-toestelle.
Die tweede ry sitplekke het kaartsakke onder hul vliegtuigtipe voubare tafeltjies met ingeboude bekerhouers, ruim deursakke en dubbele bergruimtes onder die vloer.
Geraas, vibrasie en grofheid
Die Verso se ontwerpspan het fyn aandag aan die indringing van geraas, vibrasies en grofheid verleen om te verseker dat die kajuit so stil as moontlik is. Dit was só suksesvol dat die nuwe Verso nie net die beste NVH-eienskappe in sy klas het nie, maar ook soortgelyke NVH-verrigting as baie passasiersmotors in die D-segment het.
Benewens die gebruik van tradisionele dempingsmateriale en tegnieke pronk die nuwe Verso ook met die heel eerste gebruik van ’n tweestuk-dempkleed aan die binnekant van die boonste en onderste dele van die afskorting tussen die kajuit en die enjinruim. Die materiaal is net op sekere kritieke punte vervolmaak om die onnodige toevoeging van gewig uit te skakel. ’n Tweede akoestiese dempkleed aan die enjinkant van die afskorting werk saam met ander dempingsmateriale in die snoet om die indringing van geraas nog verder te beperk.
Vloerpanele, wat ingestel is om irriterende frekwensies uit te skakel, is onder die sitplekke en in die noodwielholte aangebring. Die nuwe Verso maak ook gebruik van ’n nuwe akoestiese materiaal met ’n dempfilm wat Toyota die eerste keer inspan om geraas in die voetholte te demp.
Vibrasie van die voorpaneel word beperk deur kruisvormige verspanning te gebruik wat die voorpaneel-struktuur aan die A-pilare, die voorpaneel-dwarsbalk en die vloer koppel. ’n Tweede dwarsbalk, wat aan die vloer vas is, strek dwars onder die agtersitplekke deur die motor.
Modderskermvoerings help om die geraas van klippies in die wielholte te beperk, terwyl ’n demper tussen die A-pilaar en die binnekant van die voorste modderskerm verdere binnedringing van geraas beperk.
Die omvattende geraas-, vibrasie- en grofheidsmaatreëls werk saam met die doeltreffende lugdinamiese ontwerp – die nuwe Verso het ’n sleursyfer van net 0,295 – wat ook help om windgeraas te beperk, en verminder kajuitgeraas met ’n aansienlike 2,5 dBA in vergelyking met die vorige model.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
