As jy hou van unieke kombinasies, ’n gróót verskeidenheid kunstenaars en klanke wat so mooi is dat dit jou hoendervleis gee, is die feesgedeelte van Roots net reg vir jou.
Dié joligheid gebeur op 22 en 23 September by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in Bellville. Roots sluit ook ’n konferensie en ’n museumuitstalling in.
Die Roots-fees gaan fokus op die diversiteit van Afrikaans en die oorsprong en ontwikkeling van die taal, saam met ander Nederlandssprekende gebiede.
Feesgangers kan uitsien na ’n propvol, uiteenlopende feesprogram wat die Suider-Afrikaanse én internasionale verbintenisse van Afrikaans in verskillende genres gaan vier – en dis alles gratis!
Optredes vind tydens die middagete-uur en van laatmiddag tot in die aand plaas. Gevestigde en opkomende kunstenaars gaan deur middel van musiek, toneel, dans, visuele kuns en filmvertonings saamwerk om nuwe, opwindende energieë te skep.
Prof. Antjie Krog, buitengewone dosent aan die UWK se Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte en aan die stuur van sake wat die fees betref, is veral opgewonde oor die verskeidenheid wat die feesprogram bied. “Daar gaan vyf verhoë wees wat deurlopend verskillende items aanbied – jy kan dus self bepaal watter kunstenaars jy wanneer wil gaan kyk,” sê sy. “En waar anders kan jy kunstenaars soos Steve Hofmeyr, ’n Friesland-sangeres, Kayamandi se gumboot-dansers, ’n rockgroep van Nederland en ’n Kongo-danser almal op een dag ervaar?”
Behalwe Afrikaans, sal feesgangers ook die ooreenkomste en nuutgevormde kombinasies met tale soos Nederlands, Vlaams, Surinaams, Papiamentu, Sesotho, Xhosa, Fries en Swahili kan ervaar.
Die konferensie-gedeelte van Roots gaan deur middel van verskeie gesprekke kyk na die unieke verhouding en interaksie van Afrikaans met Nederlandssprekende wêreldstreke. Deel van die uniekheid van dié geleentheid is die groot aantal internasionale sprekers wat saam met Suider-Afrikaanse eweknieë hul perspektiewe rondom die tema gaan gee.
Die Roots-museumuitstalling is ’n eerste saamwerkprojek tussen Iziko Museums, die Afrikaanse Taalmuseum en Genadendal Sendingmuseum en beloof ’n visuele kragtoer oor die geskiedenis en ontwikkeling van Afrikaans.
Net soos die fees is toegang tot die uitstalling gratis, maar plekke vir die konferensie moet vooraf bespreek word. Vir inligting oor die fees, kontak Vicky Stemmet by taalprojek@uwc.ac.za of 021 959 2113. Vir meer inligting oor die konferensie, kontak Suzy Flanders by sflanders@uwc.ac.za of 021 959 2213.
* Roots word aangebied deur die UWK, die nasionale Departement van Kuns en Kultuur en Iziko Museums, met fondse bewillig deur die Nederlandse en Belgiese regerings.