Tesla en Toyota span kragte saam

Tesla Motors en die Toyota Motorkorporasie het verlede week ’n samewerkingsooreenkoms geteken vir die ontwikkeling van elektriese voertuie en meegaande parte. Die ooreenkoms dek ook die onderliggende ontwikkeling van vervaardigingstelsels en ingenieurs-ondersteuning vir die bou van elektriese voertuie. Die twee maatskappye het onderneem om ’n gesamentlike span spesialiste saam te roep om hierdie doelwitte te bereik.

Toyota het ook aangekondig dat hy $50 miljoen Tesla algemene aandele gaan koop in ’n private plasing van aandele. Hierdie ooreenkoms sal direk na Tesla se notering op ’n openbare aandelebeurs bekragtig word.

Toyota het reeds in 1997 die eerste generasie hibriede voertuig, die Prius, bekend gestel en hy het sedertdien sowat 2,5 miljoen van hierdie voertuie aan kopers verskaf. Verlede jaar het Toyota ook begin om inprop-hibriede Prius voertuie aan uitgesoekte bestuurders te verhuur. Hierdie weergawe van die Prius kan gelaai word deur enige standard-kragpunt, soos ’n huishoudelike kragprop. Die maatskappy beplan om elektriese voertuie aan die mark bekend te stel in 2012.

Tesla het ten doen die vervaardiging van elektriese voertuie wat al hoe meer bekostigbaar word vir potensiële kopers, deur die koste van elektriese voertuie stelselmatig te verlaag. Tesla, met sy hoofkantoor in Palo Alto, Kalifornië, het reeds meer as 1 000 Tesla Roadsters aan kopers in Noord Amerika, Europa en Asië gelewer. Tesla ontwerp en vervaardig elektriese voertuie en die meegaande komponente. Die maatskappy is tans die enigste voertuigvervaardiger in die VSA wat hoofweg-gesertifiseerde elektriese voertuie op groot skaal vervaardig.

Die Tesla Roadster versnel vinniger as die meeste sportmotors, maar hy het geen uitlaatgasse nie. Tesla se diens-personeel besoek dikwels eienaars by hul huise om Tesla Roadsters te versien.

Die Suid-Afrikaner Elon Musk is een van die stigters van Tesla Motors.

Tesla Roadster
Tesla Roadster

Lewer kommentaar

Leave a Reply