Die Toyota-Motorkorporasie (TMK) het die ontwikkeling van die "Winglet", ‘n "persoonlike vervoer"-robot wat ‘n mens staan-staan ry, aangekondig.
Die Winglet – die naam is nog nie finaal nie – is een van die TMK se sogenaamde Toyota Partner Robots. Dis ontwerp, sê die maatskappy, "om tot die gemeenskap se welsyn by te dra deur mense in staat te stel om ‘n veilige en ten volle mobiele lewe te voer". Die Winglet is ‘n kompakte vervoermiddel vir elke dag se gebruik met die klem op gerief. Dit vergroot ook die gebruiker se mobiliteitsbestek.
Die "platform" van die Winglet, met ‘n voorgestelde oppervlakte die grootte van ‘n A3 vel papier, huisves ‘n elektriese motor, twee wiele en die interne sensor wat die ryer se posisie die hele tyd monitor en veranderinge aan die kraglewering aanbring om stabiliteit te verseker.
‘n Unieke parallelle skakelmeganisme stel die ryer in staat om vorentoe en agtertoe te ry en te draai bloot deur sy/haar posisie op die platform te verander. Dit maak die voertuig maklik en veilig om te gebruik, selfs in beknopte ruimtes en of omgewings waar daar ‘n drom van mense is.
Daar is drie modelle, naamlik die L, M en S, elk met sy eie hanteringseienskappe. Gevolglik kan gebruikers die model kies wat die beste by hul behoeftes aanpas – van "prakties" tot "loshande-sportief".
Die TMK beoog verskillende tegniese en verbruikerstoetslopies om terugvoer te kry voordat met vervaardiging begin word. Praktiese toetse om die nut van die Winglet as ‘n mobiliteitsmiddel te bepaal, begin eersdaags by die Sentraal-Japanse Internasionale Lughawe (Centrair) naby Nagoja en Lagoena Gamagori, ‘n mariene vakansiekompleks in die Aitji-prefektuur. Toetse van die bruikbaarheid van die voertuig in bedrywige omgewings en ander toestande, en hoe nie-gebruikers daarop reageer, sal aanstaande jaar by die Tressa Yokohama-winkelkompleks in Yokohama-stad uitgevoer word.
Die TMK strewe na volhoubaarheid in navorsing en ontwikkeling, vervaardiging en maatskaplike bydrae as deel van sy konsep om "volhoubaarheid op drie gebiede" te verwerklik en om te help om ‘n bydrae te lewer tot die gesondheid en gerief van die gemeenskap van die toekoms.
Die ontwikkeling van die Toyota Partner Robot word met die oog hierop onderneem en is ‘n toepassing van die TMK se monozoekoeri-benadering ("om dinge te maak"), wat die maatskappy se mobiliteits-, produksie- en ander tegnologieë insluit.
Die TMK is ernstig oor die gebruik van sy Toyota Partner Robots. Die maatskappy het verlede jaar die "MOBIRO"-robot, wat in ‘n sitposisie bestuur word, bekend gestel. Die maatskappy beoog om die praktiese gebruik van hierdie robotte begin 2010 te vervolmaak deur verdere ontwikkeling en deur samewerking met ander nywerheidsmaatskappye, die staat en opvoedkundige instellings te versterk.
Die Winglet: feite en syfers
"S" Model
Lengte (mm) – 265
Breedte (mm) – 464
Hoogte (mm) – 462
Massa (kg) – 9.9
Topsnelheid (km/h) – 6
Draaisirkel (m) – 0 (kan binne sy eie ruimte in die rondte draai)
Rybestek* (km) – 5
Herlaaityd – 1 uur (volle lading)
"M" model
Lengte (mm) – 265
Breedte (mm) – 464
Hoogte (mm) – 680
Massa (kg) – 12.3
Topsnelheid (km/h) – 6
Draaisirkel (m) – 0 (kan binne sy eie ruimte in die rondte draai)
Rybestek* (km) – 10
Herlaaityd – 1 uur (volle lading)
"L" model
Lengte (mm) – 265
Breedte (mm) – 464
Hoogte (mm) – 1,130
Massa (kg) – 12.3
Topsnelheid (km/h) – 6
Draaisirkel (m) – 0 (kan binne sy eie ruimte in die rondte draai)
Rybestek* (km) – 10
Herlaaityd – 1 uur (volle lading)
(*Hang af van oppervlakstoestande en massa van ryer)
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
