Nuwe klein sportnutsvoertuig

Toyota het by vanjaar se Genève-Motorskou die motorwêreld ‘n kykie gegee na sy modelbeplanningstrategie vir die nabye toekoms. Deel van hierdie strategie sluit ‘n nuwe klein sportnutsvoertuig, die Urban Cruiser, in. Die Urban Cruiser wat in Genève vertoon is, is ‘n ontwerpprototipe van ‘n nuwe model wat na verwagting in die eerste helfte van 2009 bekend gestel sal word.

Die Urban Cruiser sal meeding in die klein SNV-mark, ‘n segment wat sedert 2002 in Europa feitlik verdubbel het in grootte. Die voertuig, wat gemik is op die stedelike mark vir veelsydige voertuie, voldoen aan al die vereistes vir ‘n SNV-tipe voertuig, maar spog met lae instandhoudings- en brandstofkoste en lae emissies.

Die nuwe SNV put uit Toyota se ryke erfenis in die geslaagde produksie en bemarking van sportnutsvoertuie, wat teruggryp na die bekendstelling van die legendariese Land Cruiser in 1951. Terselfdertyd verteenwoordig die Urban Cruiser die heel jongste in ‘n reeks kompakte sportnutsvoertuie, ‘n mark wat Toyota geskep het met die bekendstelling van die oorspronklike RAV4 in 1994.

Die Urban Cruiser sal ‘n gaping in die Toyota-produkreeks vul wat ontstaan het nadat produksie van die driedeur-weergawe van die RAV4 gestaak is. Die nuwe model se kompakte afmetings, doeltreffende verpakking, veelsydigheid en permanente vierwielaandrywing sal reg in die smaak val van kopers wat gewag het op ‘n plaasvervanger van die driedeur-RAV4.

Die nuwe Toyota, met ‘n geharde, gespierde voorkoms, bied vyfdeur-veelsydigheid in ‘n kompakte voertuig wat ideaal geskik is vir die dikwels knap ruimtes van ‘n stedelike omgewing. Dit is 3,93 meter lank, 1,725 meter breed en 1,54 meter hoog – met ander woorde, die afmetings is meer as voldoende vir die behoeftes van vyf mense plus hul bagasie.

Soos met alle nuwe Toyotas is die ontwerp ‘n verdere vergestalting van die filosofie van Klinkklare Helderheid – ‘n ontwerpfilosofie wat gegrond is op ‘n perfekte balans van proporsies. Dit verleen ‘n atletiese voorkoms aan die voertuig op die pad, asook ‘n goeie skoot stedelike sofistikasie.

Die Urban Cruiser is ‘n verdere uitbreiding van Toyota se kleinmotorprodukaanbieding vir die Europese markte. Al hierdie produkte word staan uit danksy hul brandstofdoeltreffendheid en lae emissies.

(foto © Toyota@Motorpics)


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply