Die 2008-Tribeca het in die tweede week van Februarie in Subaru se vertoonlokale begin verskyn. Hoogtepunte van hierdie tweede-generasie van Subaru se vyf-plus-twee-sportnuts sluit in groot veranderinge aan sy sessilinder-horisontaal-teenoorgestelde enjin en transmissie, wat nou ‘n vyfgang is. Daarbenewens is sy stilering verfris met veranderinge aan die kajuit om gemak en gerief te verbeter.
Die voertuig lyk nou danksy sy heeltemal hersiene voorontwerp met ‘n sterker sierrooster en hoër enjinkaplyn heelwat meer konvensioneel, dog minder buitensporig as die oorspronklike model. Die gebruik van dakspore en opgekikkerde 18"-allooisierwiele is ook nuut.
Van die mees opsigtelike veranderings is aan die agterkant van die voertuig met die agterste kwartvensters wat ‘n hele 30% groter as voorheen is. Dit het tot baie beter sig na agter gelei en gee die insittendes in die derde ry sitplekke ook ‘n baie lugtiger gevoel.
Die agteraansig van die nuwe Tribeca is minder ingewikkeld as voorheen, met versigtige oorweging wat aan die ontwerp van die stertligte en die vorm en grootte van die stamper gegee is, wat gelei het tot iets wat beter geïntegreer is en aantrekliker lyk.
Die 2008-Tribeca word steeds deur die erkende H6 BoxerT-enjin aangedryf, maar dié kragbron het nou ‘n verplasingsinhoud van 3,6l en lewer 190 kW en 350 Nm. Die enjin ontwikkel teen 2 000 r/mn reeds 300 Nm – meer as die vorige enjin se wringkragpiek. Die enjin het net soos voorheen aktiewe klepbeheer (AVCS) sowel as veranderlike klepligwerking (VVL).

‘n Magdom detailverbeteringe is aan die enjin aangebring met die doel om verfyning te verbeter, brandstofverbruik te verminder en minder uitlate te bewerkstellig. Die 3,6l-weergawe kan ook loodvrye 93-okaan-brandstof gebruik.

Al die ratverhoudings van die outomatiese vyfgang-ratkas met die kodenaam E-5AT, wat ‘n elektronies beheerde middelewenaar inspan, het verander. Hersiene hidrouliese en elektroniese kontroles lei tot gladder en minder gereelde ratwisseling. Wanneer die bestuurder Sport-modus gebruik, word die enjintoere outomaties verstel sodra die ratkas na ‘n laer rat terugskakel om te verseker dat dit perfek by die pad- en enjinspoed pas. Die middelewenaar is ook ingestel om die wringkag in die verhouding 45,7/54,3 persent tussen die voor- en agterwiele te verdeel, hoewel dit outomaties aangepas word om die beste greep- en klouvermoë te bewerkstellig.
Die 2008-Tribeca het danksy sy uitgebreide arsenaal veiligheidskenmerke en waarskuwingstelsels ‘n vyfster-gradering in die Australiese en Nieu-Seelandse botstoetsprogram vir nuwe motors (ANCAP) losgeslaan. Dit behels lugverkoelde skywe op al die wiele, en ‘n hele arsenaal elektroniese en hidrouliese tegnologie om die bestuurder te help om in uiterste toestande ten volle in beheer van die motor te bly. Uit die aard van die saak sorg Subaru se tegnologie vir simmetriese aandrywing deur al vier wiele vir ‘n ingeboude voorsprong reg van die begin af.
Hierdie bykans perfekte balans en stabiliteit van die simmetriese aandrywing is nog verder verbeter deur die busse in die agtervering te vervang sonder om ritgemak in te boet. Die Tribeca se vermoë om rowwe en soepel oppervlakke met styl aan te durf, is danksy sy grondvryhoogte van 215 mm onveranderd.
Die ontwerpers kon nie veel doen om die Tribeca se bekroonde binneruim te verbeter nie, maar het nogtans probeer. Die grootste verandering is die gebruik van ‘n raakserm in die mddel van die voorpaneel, wat ‘n paar verskillende kieslyste vir die rekenaar met verskillende funksies en die motor se ingeboude vermaakstelsel bied. Die skerm skakel outomaties na die beeld van die parkeerkamera om sodra die bestuurder trurat kies, en maak kort mette van agteruit-parkering.
Die gehalte van die leerbekleedsel is ook verbeter, en dit is nou ook heelwat makliker om toegang tot die derde ry sitplekke te verkry danksy hefboomvere wat die tweede ry sitplekke makliker laat vorentoe skuif. Nuwe gryphandvatsels maak dit baie makliker om in- en uit te klim. Die groter glasoppervlak en nuwe vorm van die beslag aan die binnekant van die D-pilaar, wat dit moontlik gemaak het om die piepluidsprekers na die plafon te verskuif, sorg vir kritieke bykomende millimeters wat dwarsoor die kajuit beskikbaar gestel is.
Die Tribeca kombineer unieke eienskappe – waaronder sy 40 jaar ervaring op die gebied van aandrywing deur al vier wiele – om ‘n stedelike sportnuts van uitstaande vermoë te bied. Standaard-toerusting is buitengewoon en sluit in Xenon-kopligte, ‘n sondak, dubbelsone-klimaatbeheer sowel as afsonderlike waaierspoedbeheer vir die agterste insittendes, elektries verstelbare sitplekke en satelliet-kontroles op die stuurwiel – toerusting wat in baie van sy mededingers net teen bykomende koste beskikbaar is.
Die 2008-Tribeca se aanbevole kleinhandelprys is R 510 000 wat ‘n instandhoudingsplan vir drie jaar of 63 000 km en ‘n vervaardigerswaarborg van 3 jaar of 100 000 km insluit.
(Foto’s © Subaru@Motorpics)
