Die idee vir Afrikamasutra is gebore uit ‘n gaping wat in die Afrikanerpsige of verwysingsraamwerk opgelet is. Jy is of ‘n getroude koek, of jy is ‘n ongetroude tert met losse sedes en geheel en al goddeloos.
Tradisionele sienings van godsdiens en seks het nooit vir Ilse Carla Groenewald reg gesit nie en as gevolg van haar alternatiewe denke, het sy van kleins af gevoel soos die anti-Chris. Haar lewe het vreemde en ook wonderlike paadjies deur die wêreld geloop en hier sit sy vandag met ‘n affair onder die belt (letterlik), en die Kama Sutra in Afrikaans, haar baba Afrikamasutra.
Volgens haar was die afgelope paar jaar die mees insiggewende en invloedryke jare van haar lewe en sy wil juis daardie insigte en ervarings deel. Sy voel deur Afrikamasutra kan sy iets sê. Hopelik mense raak.
Sy wil ‘n platvorm skep waar ons kan praat oor seksualiteit en spiritualiteit, sonder om veroordeel te word. ‘n Veilige spasie waar ons onsself kan verken, soek, ondersoek en dalk selfs vind. As jy jou koekie wil kielie (of jou tottie wil terg) terwyl jy een van die verhale op Afrikamasutra lees, sal niemand jou verdoem nie, hare gaan nie op jou hande groei nie en jy gaan beslis nie blind word of hel toe gaan nie!
Skrywer: Ilse Carla Groenewald
Illustrasies: Diek Grobler, Marna Schoeman en Hardus Koekemoer


Lewer kommentaar