As kind moes Christo die papawers uit sy ouma se tuin ruk omdat sy oupa in die Volksblad gelees het dat dié blom ’n bron van opium is. Jare later sou Christo homself moes ruk uit die kloue van ’n kokaïene-verslawing.
In sy soms pynvol eerlike verhaal vertel hy van sy soeke na die liefde en aanvaarding wat sy pa nooit vir hom gegee het nie, van sy reis van toneelspeler en TV-ster tot vervaardiger van top-reekse soos Idols, Glitterati en Tonge Los.
Hy ontbloot sonder skroom wat agter die skerms van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf aangaan. Hy beskryf ook sy tekortkominge in sy drie langtermynverhoudings – wat telkens in skerwe eindig. En hy praat reguit oor sy verslawings aan kokaïene en Stilnox.
En dan is daar die skim van Alfredo – die man wat in sy donkerste ure deel van sy vernietiging was. Christo se reis neem hom van die donkerte tot ’n plek waar genesing kan begin – ’n nuwe lewe van selfaanvaarding.
Agter die skerms: my donker reis na die lig / deur Christo Gerlach — Tafelberg, 30 Maart 2012. — 176 p. ; sagteband. — ISBN 9780624054443 :

Taal: Afrikaans
Sleutelwoorde: Agter die skerms: my donker reis na die lig, Christo Gerlach
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
