Mense sê daar is ‘n vrou agter elke man. My katkop sê daar is ‘n kat agter elke spieël. In albei gevalle is daar niks. Deure is egter ‘n ander storie. Wanneer laas het jy ‘n deur, met niks daaragter nie, gesien?
Agter elke deur is daar ‘n ellelange storie. Katte hou van deure. Ons is van nature nuuskierig. Jou persoonlikheid bepaal egter hoe jy ‘n deur benader. Senuweeagtige katte draf vining in en uit, terwyl ander meer tydsaam is. Tydsame katte is of baie versigtig of baie windstert. Mense wie geneig is om deure agter hulle toe te slaan se katte beweeg noodgedwonge vinniger. Menige van my katvriende se sterte het al die onderspit gedelf. Dis ‘n slegte idee om deure agter jou toe te slaan …
Meeste deure is moeilik vir die kattegeslag om oop te maak. Ons is afhanklik van mense om dit vir ons oop te maak. Soms wanneer die geluk jou tref, los hulle dit oop.
My vorige huis se voordeur was ‘n tydsame deur, gans te spoggerig om net deur te draf. Die uitgebeitelde hout patrone was pragtig. Van buite. Agter die deur was daar ‘n eensame huis. Dit was vol mooi, duur besittings, maar dit was leeg. Die kaggel het gebrand, maar dit was koud. Daar was dikwels mense, maar ek was alleen. En ek was moeg en hartseer. So moeg gewag sedert daardie aand.
Hulle het dié aand weer erg vasgesit. Sy bottel whiskey het gesak en woorde van verwyt en dreigemente was rondgeslinger. Vloekend het hy haar tot voor hom gepluk. Toe slaan hy haar. Met sy groot hand deur haar gesig, oor haar lyf. Sy het gestruikel en toe sy val, het hy haar verwoed begin skop. Bloed het uit haar neus en mond gedrup en saam met haar trane oral oor haar gesmeer.
Kreunend het sy na die slaapkamer gestrompel, goed gegryp en in ‘n tas gegooi. Ek het in haar tas probeer klim. Huilend het sy my saggies uitgehaal en hopeloos te styf teen haar rukkende lyf vasgedruk. Totdat die laaste miaau wat sy ooit van my sou hoor soos my laaste asem uit my lyf geblaas het.
Soos sy die voordeur genader het, het hy uitgeskree “as jy by daai deur uitloop, kom jy nooit terug nie!” Saggies het sy gefluister, “my ma het my geleer om nooit deure agter my toe te maak nie.” Toe het sy die deur hard agter haar toegeslaan.
In die dag het ek naby die tuinhekkie gebly. Snags het ek op die vensterbank gelê en wag vir haar kar om die motoroprit in te ry. Vir maande lank het ek gewag. Bly hoop.
Een aand het hy my weer van die bank afgeklap. Ek het na die voordeur genael en aanhoudend en benoud gemiaau, totdat hy die deur oopgeruk het en my met sy voet uitgeskop het.
“Nou kan jy buite bly!” het hy my vir oulaas toegesnou.
Met swaar pootjies het ek die nag ingedraf. Eers stadig en verward. Toe vinniger en vinniger. Verder en verder. Ligter en ligter. Vryer en vryer …
Dae later het ek ‘n oop voordeur ontdek. Nie uit nuuskierigheid nie, maar desperaat het ek met my maag tot amper teen die teëls, voetjie vir voetjie ingesluip. “Hier’s ‘n kat in die huis!” het die dogtertjie opgewonde gegil. Ek het teen haar beentjies geskuur, bokspronge met my moeё lyf probeer maak. Oulik probeer lyk.
Hulle het vir my kos gegee en op die bank laat lê. Kort-kort in die verbyloop gestreel. Dae het weke geword en hulle het my nooit geklap of geskop nie. Hulle het nooit die deur agter my toegemaak nie. So het ek ‘n nuwe voordeur gekry. Een met ‘n regte huis daaragter.
Wyse mense sê jy moet nooit die deur agter jou toemaak nie. Maar soms gaan dit vanself agter jou toe. En soms is genoeg genoeg.
Ek dink nog soms aan my ou voordeur. Na háár verlang ek dikwels. En God ek hoop sy het ook ‘n oop voordeur gevind. Een met ‘n regte huis daaragter. Dalk een met ‘n ander kat …
Want as die deur agter jou toeslaan, moet jy oor begin.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

So hartseer…. so waar!
My in trane gehad.
Eg. Dankie.