Die Suidoosterfees se Jakes Gerwel-gesprekke word vanjaar van 27 April tot 1 Mei in die Kunstekaap aangebied. Gesprekke word gevoer oor aktuele kwessies en belangrike nuwe boeke. Die fees is onlangs met ’n Fiësta bekroon vir die innoverende manier waarop hulle in 2020 aanbiedings op ’n veilige, genotvolle manier na die publiek gebring het, te midde van die Covid 19-pandemie.
Hoe het Einsten Eskom help skep? Hoe kan ’n Indonesiese vulkaan die Groot Trek verduidelik? En wat het koning Zwelethini en Charlemagne in gemeen? Dít is enkele van die rare vrae wat die ekonoom Johan Fourie ondersoek in sy nuwe boek, Our Long Walk to Economic Freedom. Hy gesels op 30 April om 15:30 met Nicoli Nattrass en Rachel Jafta.
Thembalethu Seyisi, ’n Matie-regstudent, het vir sy mondigwording 21 suksesvolle Suid-Afrikaners genader met die vraag: Watter lewenswaarheid wens jy het jy geken op 21? Die eindresultaat is ’n versameling stories van hoop en deursettingsvermoë deur merkwaardige persoonlikhede. Thuli Madonsela, Sandra Prinsloo, Rochelle Barrish en Susan Booyens is van dié inspirerende mense wat op 27 April om 13:00 gedagtes kom deel.
Die Covid-19-pandemie dwing die mensdom om opnuut oor ons verhouding met die natuur te besin. Adam Cruise, skrywer van It’s not about the Bats, praat hieroor op 28 April om 10:00 met David Bristrow, wie se boek, Big Pharma, Dirty Lies, Busy Bees and Eco Activists ook oor omgewingsake handel.
In sy ontroerende Seuns sonder pa’s skryf Julian Jansen dat meer as 60% van Suid-Afrikaanse kinders sonder vaderfigure grootword, en in Gangster ondersoek Carla van der Spuy die impak van afwesige vaders op geharde en gerehabiliteerde bendeleiers. Dié skrywers gesels op 28 April om 13:00 oor hulle onderskeie boeke.
Die bekende skrywer en joernalis, Marianne Thamm, praat op 29 April om 10:00 met Wahbie Long oor sy boek, Nation on the Couch, waarin die lewe in ons geliefde land deur ’n psigoanalitiese bril bekyk word. Hulle verskaf interessante insigte oor maniere waarop Suid-Afrikaners hulleself behoort te sien.
Vir misdaadlesers is daar ook goeie nuus. Die gewilde Rudie van Rensburg gesels met Hanlie Retief oor sy nuutste naelkouer, Hartedief, wat by die fees bekendgestel word. Hierdie gesprek vind om 13:00 op 29 April plaas.
Patric Tariq Mellet se The Lie of 1652 het onlangs opslae in die media gemaak. In dié omstrede boek lewer Mellet skerp kritiek teen die koloniale geskiedens. Hy plaas op 27 April om 10:00 die fokus op grond-onteiening, die verwoesting van lewens en die brutaliteit van slawerny in Suid-Afrika.
Poësie kry ook ’n plek op die program en op 30 April om 13:00 gesels twee nuwe digterstemme, Ashwin Arendse en Veronique Jephtas, met Danie Marais oor hulle onderskeie debute, Swatland en Soe rond ommie bos.
Jeremy Topley kom op op 1 Mei om 10:00 aan die woord saam met Michael le Cordeur en André Odendaal. Le Cordeur se boek, Davy Samaai – kampioen van die struggle, handel oor die lewe van die legendariese tenniskampioen. Odendaal, medeskrywer van Pitch Battles: Sport, racism and resistance, bespreek die onmenslike opofferings wat bruin en swart sporthelde onder apartheid moes maak.
Terwyl die grond-debat voortwoed, stel Ivor Price en Kobus Louwrens se Hartstories van ons land se boere lesers bekend aan die mense wat Suid-Afrika se kos verbou. Alfreda Mars en Whernit Dirks, Wes-Kaapse boere wie se stories in die boek opgeteken is, gesels op 1 Mei om 13:00 saam met die skrywers.
Al die gesprekke word gratis deur die Jakes Gerwel Stigting aangebied, maar dit is belangrik om jou sitplek te bespreek deur ’n e-pos aan Theo Kemp te stuur by theo@jgf.org.za. Meer inligting oor die Stigting se projekte is beskikbaar by www.jgf.org.za.