(ook bogher of, soos die HAT verkies, bokker)
Die Nederlandse werkwoord boggeren het oorspronklik verwys na sodomie. Soos die Engelse bugger is dit ontleen aan die Franse bougre wat op sy beurt uit die Middeleeuse Latyn bugari ontwikkel het. Bugeri was die naam vir die Bulgare wat in die Middeleeue glo berug was as ketters, of, volgens sommige, groot aanhangers van sodomie was.
Later ontwikkel die woord tot ’n vloekwoord. Deesdae is dit egter gewoon ’n lae, gemene vent. Volgens die HAT: “iemand wie se dade afkeurenswaardig is”.
’n Paar aanhalings:
“Toe hy spierwit geskrik hier kom, was die klein bogger klaar uit, hy moes net die naelstring afbind.”
(Sarie Marais, 17 September 1971)
“Daar gaan die bokkers en daar is niks wat ons kan doen nie.”
(Huisgenoot, 11 Februarie 1977)
“Die bokker het my meisie afgevry!” (HAT, 2015)
