Die hiëna is ’n familie van roofdiere wat in Afrika en Asië voorkom. Daar is tans slegs vier lewende spesies, die gevlekte hiëna, die gestreepte hiëna, die strandwolf en die aardwolf.
Die gevlekte hiëna
Die gevlekte hiëna (Crocuta crocuta) is een van die kenmerkendste roofdiere van die Afrika-savanne. Die dier is bekend vir sy makabere gekekkel en gelag, wat ’n onmisbare klank van die Afrika-bos in die nag is – geen wonder dus dat hulle ook bekend staan as die laggende hiëna nie. Hulle het uitgesterf in die meeste gebiede van Suid Afrika, behalwe in die sentrale savanne en die Kruger- en Kalahari- Gemsbok Nasionale Park, die Noordelike Provinsie en die noordelike streke van KwaZulu-Natal.

Die groot kop, skuins rug en ’n skerp reuksin is uniek tot hierdie spesie. Wyfies domineer die sosiale hiërargie en is groter as die mannetjies. Wyfies het ’n skouerhoogte van 850 mm en weeg 70 kg, terwyl mannetjies 60 kg weeg. Die gevlekte hiëna is geel met donker kolle en ronde ore. Hulle is die enigste diere met ’n spysverteringstelsel wat bene, hoewe, horings en vel kan verteer. Vroulike hiënas het ’n groot klitoris wat soos ’n penis lyk, wat geslag identifikasie moeilik maak. Dit is die enigste soogdier spesie met ’n gebrek aan ’n duidelike eksterne vaginale opening.
Die gevlekte hiëna is nagdiere en lê gedurende die dag in digte bosse of gate wat gewoonlik leë erdvark gate is. Gevlekte hiënas bly in troppe en verdedig hulle grondgebied teen ander hiënas. Die troppe word gereeld opgebreek en nuwe troppe saam met hiënas van dieselfde of ander troppe gevorm.
Die dominante mannetjie sal met die meeste van die wyfies in die trop paar. Welpies word enige tyd van die jaar gebore. Die dratyd is 3 – 4 maande en daar word gewoonlik 2 welpies gebore, maar daar kan somtyds 1 tot 4 welpies wees. Die welpies weeg meer as 1,5 kg by geboorte en word nie voor 12 – 16 maande oud gespeen nie. Geen ander kos is nodig in hierdie tyd nie, aangesien hulle genoegsame voeding van die melk kry. Die gevlekte hiëna leef sowat 25 jaar.
Die strandwolf / strandjut / bruin hiëna
Die strandwolf (Hyaena brunnea) is ’n hiëna wat hoofsaaklik in die Kalahari en Namibwoestyne van suidelike Afrika voorkom. ‘n Volwasse strandwolf het ’n gemiddelde massa van 65 kg en ’n hoogte van ongeveer 70 cm.

Dit is hoofsaaklik ’n aasdier, maar sal ook klein diertjies jag. Omdat voedsel in die woestyn skaars is, eet strandwolwe ook soms vrugte en vang soms ook robwelpies langs die kus van Namibië. Strandwolwe is dikwels die slagoffers van leeus en gevlekte hiënas, wanneer hulle te naby aan dié diere se prooi kom. Die strandwolf het ’n moontlike lewensduur van 24 jaar.
Strandwolwe is snags aktief en bly bedags in gate in die grond. Soms grawe hulle die gate self (tot 150 cm diep), maar hulle gebruik ook erdvarke se gate of natuurlike gate wat tussen rotse voorkom.
Die wyfie is 3 maande dragtig en gee telkens aan 2 tot 4 kleintjies geboorte.
