Die donker ure

Dis ‘n onrustige stilte wat toeslaan wanneer Eskom “Eenie meenie miney mo” speel en jou dorp is die wenner. Veral daai tyd van die dag wanneer die aarde haar rug op die son draai.


Die ingepropte foon uiter ‘n wanhopige laaste piep. Die televisie sluk haar tong … “glup.” Enige musiek swyg … die laaste liedjie maak nog vir oulaas ‘n draai in jou kop. Spontaan voltooi die wasgoedbalie haar 360° wenteling. Kom tot stilstand. Hoor jy net die skuimende water heen en weer wieg. Die bredie op die plaat prut vir ‘n tydjie op eie krag voort. Dan gee dit ook op. Die yskas is net ‘n wit dop.

Hande voor my uitgestrek, skuifel ek voetjie vir voetjie na die boekrak. My vingers vroetel oral oor op soek na vuurhoutjies. Kry ek ‘n kers aangesteek. Loop met die bewende vlam soos ‘n aapstert na die kragboks. Miskien is die krageenhede op … dis natuurlik ook dood. Met ‘n dom hand voel ek hoopvol of die krag nie dalk net ge-trip het nie. Nee, al die skakelaars wys hemel toe. Sit ek die kombuislig aan om beter te kan sien. Sê ek ‘n baie lelike woord. Vind ek my volgelaaide energie lampie. Kry ‘n bietjie lig op die tafel.

Met gespitste ore kruip my katte agterdogtig rond. Kyk na die voordeur en ruik in die lug. Een na die ander spring hulle op die tafel. Kom snuif hulle aan die kosbare liggie. Draai om en om in sirkels en maak hulleself bo-op die inkopielys en rekeninge waarmee ek besig is, gemaklik. Die helfte van Dusty bedek die gloeilampie. Sy fyn haartjies staties regop teen die lig.

Hulle het vrede dat die liggie na ‘n halfuur verdof. Dat die vertrek verdonker soos ‘n wolk van eensaamheid die huis instroom. Is salig onbewus van ‘n stilte wat veel meer behels as die blote afwesigheid van geluid. Hulle verstaan nie.

Nes my drie-jarige kleinkind nou die dag. “Ouma, kan Mia seblief Barney kyk?” “Nee liefie, die krag is af.” “Dan sal Mia ma na Nemo kyk,” sug sy.

Ek en die katkinders skrik ons oor ‘n mik wanneer my selfoon die stilte breek. Wip ek amper van my stoel af wanneer sy op die deuntjie van Julia Michaels se liedjie, “Next to you”, begin sing.

Ek is so bly iemand bel my. Ek kyk na die nommer. Dis niemand wat ek ken nie … vier nulle op die einde. Seker iemand wat ‘n begrafnispolis aan my wil verkwansel.

Desperaat om net ‘n stem te hoor, druk ek die antwoord knoppie. “Hallo?” sệ ek oorvriendelik. “Ja, jy praat met die regte persoon.” Dis Foschini se hoofkantoor. Sy rammel haar rympie af. Bedank my vir my lojale ondersteuning. Wens my geluk dat ek my rekening so goed hanteer. Daarom het sy vir my ‘n spesiale aanbod. “Julle het my al gekontak oor die nuwe tydskrif, ek stel nie belang nie.” “Nee Mevrou, hierdie oproep gaan oor lugtyd. Mevrou kan 30% afslag op lugtyd verdien! Kan ek vyf minute van mevrou se tyd kry?”

Al wat ek hoor is die vyf minute. “Ja, natuurlik. Ek luister.” Sy vertel my in fyn besonderhede. Ek vra onnodige vrae. Enigiets om haar langer op die lyn te hou. Rek ek my vyf minute. Steel nog ‘n paar.

donker“Stel mevrou belang?” “Nee, jammer, ek het nie lugtyd nodig nie,” bieg ek. “Ek het ‘n landlyn en gebruik eintlik net my selfoon vir SMS’e. R29 lugtyd hou my ten minste ‘n maand of twee!”
“Wat van die ander mense in die huis? Dis rêrig ‘n goeie aanbod!” “Nee dis net ek.” “O, mevrou woon alleen?” “Nee? … ek deel ‘n huis met die katte. Hier bý die see. Maar vanaand is die see ook net ‘n groot donker gat.”

“Raak Mevrou dikwels eensaam?” “Nee … soms … soos vanaand. Maar dis omdat ek hier so in die donker sit.”
“Nou hoekom sit Mevrou so in die donker?”
“Want die krag is af?”

Sluit aan by die Gesprek

4 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply