Die honger vrou

Daar woon ‘n vetsugtige vrou in ‘n klein huisie onder ‘n klein bergie. In teenstelling met haar lyk alles klein. Sy woon stoksielalleen. Sonder ‘n man. Sonder ‘n kind. Sonder ‘n kraai. Hulle het weggevlieg na Somerlande. Probeer wegvlug van hulle onrustige siele. Hol nou nog van hulle skuldige gewetens, want hulle het haar lus vir die lewe gesteel.


So het die, nou net herinneringe van ‘n mooilyf vrou, haar lus vir die lewe verloor. Sy het haar honger vir die lewe verloor en lus geraak vir kos. Baie kos. Haar maer lyf moes plek maak vir kos en hoe meer jy eet, hoe meer plek is daar. As sy nie eet nie, slaap sy, want as jy jou ritme vir die lewe verloor het, is dit makliker om te lệ.

Bedags bly sy binne. Skuil sy van die swetende son. Kruip sy weg van spottende, starende oё. Vermy sy katterige aanmerkings. Hou sy haar verborge teen die wrede wệreld.

Wanneer die son in die see wegsak, sien jy haar kus toe waggel. Haar tentrok kleef aan haar warm, sweterige lyf en jy kan hoor hoe haar bobene teen mekaar skuur. Ek loop ligvoet saam en kyk hoe sy met blink oё die see instap. Soos elke aand herinner dit my aan ‘n selfmoordtoneel: ‘n vet vrou wat die see inloop. Instap na ‘n plek waar die pyn sal wegvloei. Maar haar enigste doel is om in die see af te koel. En te was, want sy pas nie meer in die bad nie.

Ek woon in haar tuintjie. Snags nooi sy my om binne te kom slaap en sy gee vir my kos. Sy noem my Kiets, want sy het nog nooit vir my ‘n naam gegee nie. Die mense verwys na my as die vet-vrou-se-kat, maar hulle is verkeerd. Ek is nie haar kat nie en sy is nie my mens ma nie. Ons behoort nie aanmekaar nie en wat nie aan jou behoort nie, kan jy nie verloor nie. Ons eet saam. Ons slaap saam. Dis al.

Dit is al laat in die oggend wanneer sy my vertel dat dit haar verjaarsdag is. Ek kan nie veel daaromtrent doen nie, maar ek kan verstaan dat sy dit met iemand wil deel. Ek spring op haar sagte verekussingskoot en spin so hard soos ek kan. Uit die bloute begin sy haar blou tentrok met die blinkertjies aantrek. Daarna eet ons, slaap ons, eet ons, wag ons dat die son in die see moet wegsak.

Woman, deur Ceri Richards, 1932, Yale Center for British Art, geskenk deur John Russell
Woman, deur Ceri Richards, 1932, Yale Center for British Art, geskenk deur John Russell
Vanaand loop ons anderpad. Sy uitasem en natgesweet, maar dis asof daar ‘n doel in haar waggel is. Ek draf gretig saam, my stert onbeskaamd regop en stokstyf, doodnuuskierig soos ‘n wafferse jong katjie.

Sy stop voor ‘n restaurant, so vier bloke vanwaar ons woon. Die geur van kos hang swaar in die lug en my maag skree skielik hard. Sy sleep haar opgeswelde voete tot by die naaste oop tafel en sak neer op ‘n stoeltjie wat kraak onder haar gewig. Ek bly buite, want ek ken my plek.

Die giggelende kelnerin neem dadelik haar bestelling: “ ‘n 300 gram kruisskyf met aartappelskyfies, sampioensous, o ja en ‘n melkskommel. ‘n Pienke asseblief.” Sy kyk nie rond nie, net stip voor haar. Sy wag vir haar kos soos sy elke aand wag dat die son in die see moet wegsak. Bewus van al die oё wat haar aanstaar, vee sy die lastige sweetdruppels wat op haar gesig pệrel met ‘n klein sakdoekie af.

Haar verjaarsdagmaal word voor haar neergesit. Sy begin eet en haar oё blink soos dit elke aand blink wanneer sy die see instap. Met ‘n sku glimlag, knipoog sy in my rigting. ‘n Aanduiding dat sy nie van my honger maag vergeet nie.

Die paartjie direk langs haar staar skaamteloos hoe sy haar vet lyf onder die blou, blinkertjie tentrok voer. Sy kan hulle brandende oё op haar voel, want haar gesig raak rooi. Dit lyk of sy moeilik kou. Dan kliphard, soos ‘n aankondiging oor die radio, soos ‘n vonnis wat gevel word, tref die klanke wat woorde vorm ons ore: “Die vrou is klaar so vet en kyk hoe eet sy. “

Sy kry nie die kos in haar mond gesluk nie. Sy hou dit in haar kies, sodat haar regter kies nou ekstra groot is. Rats sukkel sy op. Sonder om te kyk. Sonder om asem te haal. Sonder om kos vir my te vat.

Ons beweeg huiswaarts, terug na ons skuilkelder. In die donker sien my katoё die lyne op haar gesig en haar oё blink, maar nie soos dit elke aand blink wanneer sy die see instap nie. En ek besef dis nie meer net sweet op haar rooi gesig nie, maar trane. Met my stert tussen my agterbene, sukkel ek ook om te loop.

En ek dink terug aan die tyd toe my naam nog Fiela was. ‘n Goedversorgde gesinskat in ‘n duur huis. Ek onthou my sorgvrye dae met strelende kinderhandjies , ‘n warm kaggelvuur en die hond se warm asem wanneer ons mekaar gejaag het. Ek onthou die opgewondenheid van ‘n gepakkery om te trek na ‘n ander huis. Die teleurstelling toe hulle sonder my ry. Die hartseer toe hulle na ‘n paar dae se gewag nie terugkom om my te kom haal nie. Die totale eensaamheid toe ek alleen bergwaarts loop.

Ek is nog ingedagte wanneer sy my onverwags by die voordeur optel, saggies streel en die huis binne gaan. Binne sit sy my dadelik neer en ek spring gelyktydig uit haar arms. Nie een van ons wil te geheg aanmekaar raak nie. Ons eet saam. Ons slaap saam. Dis al.

Nie een van ons sou die bekende, onafwendbare verraad kon verduur nie.

Sy begin vir ons kos maak. Baie kos. Sy eet meer as gewoonlik en haar oё blink soos dit elke aand blink wanneer sy die see instap. En hoe meer sy eet, hoe meer plek is daar. Daarna slaap ons, want as jy jou ritme vir die lewe verloor het, is dit makliker om te lệ.

Ons eet, ons slaap, eet weer, wag soos elke aand dat die son in die see moet wegsak. En haar oё blink soos dit elke aand blink wanneer sy die see instap.

Dan eet sy weer, want vet mense raak ook honger.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Sluit aan by die Gesprek

7 Kommentare

  1. n Mens het medelye met die vrou wat so vasgevang is in haar omstandighede en aanskynlik sonder enige hoop van losbreek uit die siklus.

  2. Dis vir my ‘n baie hartseer verhaal. ‘n mens wonder hoe sy kan uitbreek and die lewe verander. Baie leef mos so.

Lewer kommentaar