Die 2018-benoemdes vir die kykNET-Rapportpryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe werk insluit, is pas bekend gemaak. Dit is die grootste en rykste jaarlikse boekpryse in Afrikaans.

Met sy tweede roman, Die derde spoel, bevind die skrywer SJ Naudé hom op die kortlys vir twee pryse – die kykNET-Rapportprys vir romans sowel as die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede fiksiewerk (romans, novelles en kortverhale).

Die prysgeld is vanjaar verhoog en beloop nou R250 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R125 000 vir die kykNET-Rapport-filmprys, en R125 000 vir die Jan Rabie-Rapportprys.

“Die verhoogde prysgeld gee welverdiende erkenning aan skrywers in Afrikaans wat die pols van die tydvak meet, dit registreer, en die leser die woorde gee om eie ervarings daaraan te meet en te verstaan,” sê die sameroeper van die kykNET-Rapportpryse, Hettie Scholtz.

Die kortlyste vir 2018 is, in alfabetiese volgorde:

KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
Die derde spoel, SJ Naudé (Umuzi)
Die wêreld van Charlie Oeng, Etienne van Heerden (Tafelberg)
Groen soos die hemel daarbo, Eben Venter (Tafelberg)

KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE
Spertyd, Elsa Joubert (Tafelberg)
Geloof alleen, André Pretorius (Naledi)
Op pad: ’n Reisjoernaal, Dana Snyman (Tafelberg)

KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM
Blou is nie ’n kleur nie, Carin Krahtz (Tafelberg)
Die laksman se dogter, Gerda Taljaard (Penguin)
Kamikaze, Rudie van Rensburg (Queillerie)

JAN RABIE-RAPPORTPRYS: ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE
As in die mond, Nicole Jaekel Strauss (Queillerie)
Die derde spoel, SJ Naudé (Umuzi)
Rooi haring, Schalk Schoombie (Human & Rousseau)

Die kortlyste vir die kykNET-Rapportpryse vir die beste Afrikaanse resensie oor Afrikaanse fiksie en niefiksie word binnekort uitgereik.

Die pryswenners word op Saterdagaand 22 September 2018 in Kaapstad bekend gemaak.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar