In die vroeë oggendure al kon die swaarbelaaide hemelruim dit nie meer inhou nie … dit sous skape en koeie. Aan die kant van die pad lê sneeu nog diep en die yslae wat deur die nag bo-op gevorm het, smelt in die vlae reën. Vorm bruin, modderige watervalletjies. Ek bibber. Januarie is ‘n bitter koue maand in Washington DC.
Ek is op pad na my eie ooievaarstee. Verwag ons eerste baba oor so twee weke. Die ruitveërs is op hulle vinnigste gestel, maar sig is swak. Ek ry stadig af in ‘n besige straat met baie bane. ‘n Verkeerslig slaan oranje. Rooi. Nes ek briek trap, sien ek die groot, donker poel … Dis olie wat nie met water meng nie, besef ek.
My kar ignoreer die rooi lig. Druk haar ore plat en draf haastig voort soos ‘n hond sonder ‘n leiband by die see. Heeltemal paniekbevange trap ek saggies weer briek. Dis ‘n fout. Die kar trek skeef en begin gly. Links, regs, weer links oor die vier bane. Ek bid kliphard, “asseblief God, daar’s ‘n baba in my maag?”
Die kar kom tot stilstand. Tientalle gedagtes dwarrel deur my kop … nee, ek het niks getref nie … Kyk angstig om my rond en sien net stilstaande motors. Lyk of almal koes. Niemand toet nie. Ek hou my een hand in die lug. Sê gelyktydig jammer en dankie. Trek stadig weg.
My hele lyf ruk. My knieë bewe. Ek is papnat onder my arms. Is naby trane.
In die vêrte sien ek my landteken. Herken net die kleure. ‘n Pap, wapperende vlag in die stortende reën en ysige wind. Ek stop voor die Suid Afrikaanse ambassade. Parkeer. Probeer myself tot verhaal bring. Klim die trappe op na die massiewe houtdeur. Stut ek my swaar maag met die een hand.
Vriendelike staf lyk soos Afrikaanssprekende pikkewyne in swart en wit uitrustings. Hulle begelei my na die teekamer. Stokstywe Protea en Strelitzia rangskikkings steek oral nek uit. Is mal oor albei blomme … in die veld en in die tuin. En ek hou ook nie van teepartytjies nie.
Ek blaas uit. Moet my kop regkry. Plak ‘n glimlag op my gesig. Die tee word immers vir my gehou. My voorreg as ‘n diplomaat se vrou. “Ja,” grap ek binnemonds, “my ooievaarstee is nie sommer in tant Anna se agterplaas nie.”
Die tafel lyk pragtig. Heerlike soet -en soutgoed. Tee of koffie word vir jou geskink in fyn, wit porselein stelletjies. Natuurlik met goue randjies. So onderlangs draai ‘n vrou haar piering om. Sukkel sy om die fyn skrif agterop sonder ‘n bril te lees.
Nes ek my koppie rooibostee neem, flits die trauma van die oggend se gebeure deur my kop. Kom rus die angsgevoel in my lyf. Voel ek die kar links en regs slinger. Bewe selfs my hart. Probeer ek die koppie op die piering balanseer. Die koppie klingel in die piering soos dit grond vat of nie. Die teelepel het genoeg gehad. Dit val aspris grond toe. Soos my bene vanself buk om dit op te tel, onthou ek gelukkig dat mens nooit in die ambassade goed van die vloer af optel nie. Staf sal die lepel vervang.
Ek vat die koppie styf vas. Druk dit met mening op die piering. Onthou dan ek het nie verniet ‘n maag wat lyk of ek ‘n waatlemoen heel ingesluk het nie. Dit strek horisontaal voor my uit. Die perfekte rusplek vir my tee … Dit help, ek bewe minder.
Pinkie in die lug, sodat ek nie by die ander dames afsteek nie, buk ek oor die tafel om ‘n sappige koeksister te neem. Dis toe dat my maag skielik in volume begin uitsit. Dit bol wyd soos my ongebore baba haar noordelike uitsig vir die suidelike verruil. Nes my kar vroeër die oggend, trek my maag links, regs en weer links.
My koppie verlaat die piering in slow motion. Reguit tafel toe. Land op die spierwit kant tafeldoek. Tee spat hoog. Soos branders wat rotse tref. Nes die see wat opkom en al verder en verder oor die wit sand spoel, sprei die bruin vloeistof soos die doek dorstig die tee opsuig. Koekies swem in borde … Dis ongelooflik hoe net een koppie tee soveel skade kan aanrig, het ek nog tyd om by myself te dink.
“Ek is so vreeslik, verskriklik … oneindig jammer,” is al wat platmonds uitkom. Getrou spring die pikkewyne rond en bont. Stoot lappe onder die nat doek in om die antieke houttafel te beskerm.
Daarna moet ek geskenke oopmaak. Dis maklik. My hande bewe so dat die presente vanself oopskeur.
Daai aand nog besluit ons ongebore baba sy is keelvol om ‘n skoot-tafel te wees. Met my voorafgepakte hospitaal-tassie in die kattebak en miljoene sneeuvlokkies wat die kar versier, ry ons na die Arlington hospitaal. Ek klink soos die wolf wat die drie varkies se huisies probeer omblaas.
Dis al vroegoggend wanneer ons dogtertjie haar stemmetjie dik maak.

Ek hou hiervan…!
Great story!!