Wie kan nog onthou hoe ons veertig jaar plus gelede moes warmwater prakseer? Dit was ’n gedoente wat aan die hedendaagse baksteen geboude braai laat dink. Dis in elk geval op dieselfde prinsiep gebaseer.
Eerstens is daar ‘n u-vorm muur omtrent 1,2 meter hoog gebou met bakstene met ’n soliede sementblad bo-op. Met ander woorde dit vorm dan nou holte waarin hout en steenkool gestoor kon word, in die pens as mens dit so kan noem. Bo-op hierdie blad is daar ’n twee-steen muurtjie gebou. Dit is dan in ’n halfsirkel gevorm aan die linker en regterkant. Hierin kan ’n 44 gallon drom netjies pas as dit horisontaal geplaas word.
Nou kom die drom aan die beurt. Daar is waterpyp koppelstukke aan die propkant bo en onder aangebring om water in te voer en dan weer uit te tap. Spesiale hittebestande pype word dan van die watertenk gelei na die bo-kant van die drom vir die voltap en ’n vlak moniteringstelsel in die vorm van ’n bal was aangebring sodat water nie oorloop nie. Aan die onderste koppelstuk is daar pype aangebring wat na die badkamer gelei het en gekoppel was aan die warmwaterkraan. Baie belangrik is dat daar ’n ontsnapklep heel bo-op drom aangebring moet word vir stoom om te ontsnap.
Daar moes dus elke dag vuur gemaak word onder hierdie drom, gewoonlik met hardekool hout wat lank kan brand en water het dan kookpunt bereik en is gebruik soos benodig.
Ek wonder hoeveel van vandag se tegnologie-kinders is bewus daarvan en sal dit kan bou indien die krag (Eskom) die gees gee.