Wees ‘n ekstra in Die Waarsêer by Aardklop

Lus vir ‘n uitsonderlike ervaring? Dan is dit nou jou kans. Windgat Produksies bied aan jou die geleentheid om as ‘n ekstra deel te wees van ‘n vertoning van “Die Waarêer”, een van die grootste toneelproduksies by die Aardklop-kunstefees van 6 tot 10 Oktober in Potchefstroom.

Kom deel die verhoog met gesoute akteurs soos David Reese, Neels Clasen, Hannes Brümmer en Anna Davel. Ervaar die adrenelieninspuiting voor die gordyn oopgaan en die buiging en applous aan die einde van die vertoning.

Geen drama-agtergrond of -ondervinding is nodig nie. Bespreek net ‘n kaartjie vir enige van die 5 vertonings van Die Waarsêer en stuur jou inskrywingsvorm in. Deelnemers vorm deel van die groep dorpenaars wat bymekaar is in die rugbyklubhuis waar ‘n groot deel van die stuk afspeel. Kort of lank, dik of dun, oud of jonk (ouer as 16 en jonger as 90), manlik of vroulik is welkom om in te skryf. Indien verkies, kan persone as pare inskryf. Nooi jou vriend, niggie, neef, buurvrou of gade om saam met jou in te skryf.

Gaan na die webwerf www.windgat.co.za vir meer inligting en die inskrywingsvorm. Die persone wat gekies is sal op 1 Oktober daarvan in kennis gestel word.

Wees avontuurlustig en skryf sommer nou in. So ‘n unieke geleentheid kom nie baie keer voor nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply