Volgens opnames by skole is huise waar enkelouers aan die hoof is, deesdae verreweg in die meerderheid.
Tog is daar min ondersteuning en werklike begrip vir enkelouers en hulle daaglikse dilemmas. Dubbel-dosis liefde is ‘n Bybelse dagboek wat spesiaal geskryf is vir enkelvaders en -moeders met kinders van alle ouderdomme.Die skrywer Patricia Lorenz het reeds meer as 400 tydskrifartikels oor die onderwerp geskryf vir onder meer Reader´s Digest, Guideposts, Woman´s World, Working Mother en Single Parent Family. Sy is ook medeskrywer van vyf van die gewilde Chicken Soup for the Soul-boeke en is ook outeur van Stuff that matters for single parents.
Lorenz is self ‘n enkelouer. In Dubbel-dosis liefde gee sy praktiese raad aan enkelouers oor hoe om die lewe met moed aan te pak en nader aan God, hulle kinders en ander mense te groei. Sy skryf met groot warmte, humor en deernis en moedig lesers aan om struikelblokke te sien as geleenthede om geestelik te groei. Daarby bied sy vele praktiese voorstelle oor hoe om dit te doen.
