Eseltjiesrus Donkey Sanctuary vier eersdaags 15 jaar van hul liefde vir boeke en die bevordering van ‘n
leeskultuur by die jaarlikse Boekefees. Hierdie is ’n geleentheid vir boekwurms, winskoopjagters en
diegene wat skaars en spesiale uitgifboeke soek. Die Storievertel- en Leesteater vir kinders wat verlede
jaar by die Boekefees begin is, sal seker maak dat niemand uitgesluit word van die vreugde en genot om
’n goeie boek te lees nie.


Die tafels gaan behoorlik kreun onder die gewig van duisende boeke van ’n groot verskeidenheid
onderwerpe teen winskooppryse. Of jy nou na kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels, nie-
fiksie of ’n rare en kosbare Afrikaanse kleinood soek, jy behoort dit tussen al die nuwe en kraakvars
tweedehandse boeke te vind. Nuwe voorraad word elke dag uitgepak.

Elke boek wat by die grootste Boekefees in die Wes-Kaap verkoop word, help met die versorging en
rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by Eseltjiesrus gehuisves word.
Eseltjiesrus Donkey Sanctuary is ’n permanente tuiste vir bejaarde, verwaarloosde en mishandelde
donkies net buite McGregor. Hier word hulle die geleentheid gegee om die res van hul lewens tussen
hul eie spesies deur te bring waar hulle met respek en waardigheid hanteer word. Elke donkie word
elke dag individueel versorg en gevoed na gelang van hulle ouderdom en behoeftes.

Eseltjiesrus het ook ’n bron van inligting geword en hanteer daagliks navrae van oor die hele land oor
goeie versorging. Die meeste probleme ontstaan as gevolg van onkunde of die wangeloof dat donkies
nie gereelde hantering en versorging nodig het nie. Hierdie hulp maak ’n beduidende verskil om die
status van donkies in die algemene publiek se oë te verbeter. Elke individuele donkie wat gehelp word,
is een minder wat pyn, ongemak of angs hoef te verduur.

Alhoewel die sukses van hierdie jaar se Boekefees in McGregor weer ‘n onontbeerlike rol sal speel in die
komende jaar se werksaamhede by Eseltjiesrus, sal die gemeenskap ook op verskeie maniere by die
projek baat. Werk word geskep, boeke word geskenk aan skole en biblioteke in die groter
Langebergarea en die Breede Vaardigheidsentrum sal al die boeke ontvang wat by die Storievertel- en
Leesteater vir kinders gelees word, sodat meer kinders in die weke daarna in die betowering van boeke
kan deel.

Boekliefhebbers van heinde en verre word genooi om 15 jaar van leesgenot in McGregor te kom vier. ’n
Koffiewinkel en sitplekke in die skadu belowe om die lekker kuier te verleng. Teken 17 – 19 Mei aan en
maak seker dat jy deel is van die opwinding by die 2019 Eseltjiesrus Boekefees.

Kontak: 023 625 1593; bookfair@donkeysanctuary.co.za; http://www.donkeysanctuary.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply