Ons het ’n obsessie, ’n aangetrokkenheid, tot grond, plase, die natuur … almal wil ’n stukkie hê. Selfs ons taal is deurspek hiermee. Neem nou maar plaasdiere as ’n voorbeeld. Hier is ’n paar spreekwoorde waar hulle die botoon voer:

Bees

Moenie ’n bees koop voordat jy hom gesien het nie. (dink goed oor jou besluit)

Bok

Bokke aanja. (dronk wees)

So bang soos ’n bok vir skoot. (baie bang)

Hoe ouer die bok, hoe harder die horing. (oë ouer jy is, hoe meer ervare is jy)

’n Ou bok lus ook nog ’n groen blaartjie. (die ouer man hou ook nog van ’n jong meisie)

Ou bokke pluk die hoogste doringpeule. (ou mense oortref dikwels die jongeres)

’n Bok skiet. (lieg)

Hy is nes ’n bok, waar h vreet groei niks. (hy bring oral onheil)

Bul

Soos ’n bul in ’n glashuis voel. (ontuis voel)

Die bul by die horings pak. (dadelik met ’n taak begin)

Die bul aan die stert hê. (baie kwaad wees)

Soos ’n bul wat wil stoot. (kwaad wees)

Nou is dit bul teen bul. (nou is dit ’n erge stryd)

Donkie

’n Donkie se been afpraat. (aanhoudend praat)

As ’n donkie een keer groenvoer geëet het, is dit moeilik om hom 1. dááruit/2. daarúít te hou. (as mens een keer iets ongeoorloofs gedoen het en dit geniet het, is dit moeilik daarom nie weer te doen nie)

Van ’n donkie moet jy ’n skop verwag. (’n onbeskofte persoon sal jou altyd sleg behandel)

Net ’n donkie stamp hom twee keer teen dieselfde klip. (net ’n dom  persoon maak dieselfde fout twee keer)

Hoender

’n Hoender in die bank hê. (grootpraat)

Dis beter om vandag die hoender te hê as môre die eier. (iets wat jy het, is waardevoller as iets wat jy kan kry – die Afrikaanse weergawe van die bekende Engelse idioom “a bird in the hand is worth two in the bush”)

Iemand na die hoenders laat gaan. (nie omgee wat van iemand word nie)

Die hoenders in wees. (kwaad)

Die hoenders aan die jakkals toevertrou. (onskuldige persoon aan die genade van ’n skurk oorlaat)

Loop gee die hoenders kos. (kind beveel om die grootmense se geselskap te verlaat)

Lyk of die hoenders iemand se kos afgeneem het. (iemand lyk verleë)

Vlieg na die hoenders. (iemand wegjaag)

’n Gebraaide hoender vlieg niemand in die mond nie. (mens kry net met inspanning iets)

Lyk soos ’n natgereënde hoender. (verleë)

Rondloop soos ’n hoender wat nes soek. (doelloos rondloop)

Saam met die hoenders opstaan. (vroeg opstaan)

So siek soos ’n hoender. (baie siek)

Dit sal gebeur as die hoenders tande kry. (dit sal nooit gebeur nie)

Gaan vertel dit vir die hoenders. (jy praat snert)

In die hoenderhemel wees. (dronk wees)

Hoenderkop. (dronk wees)

Koei

’n Mens noem nie ’n koei bont as dit nie ’n vlekkie het nie. (daar is nie ’n praatjie sonder ’n oorsaak nie – die Afrikaanse weergawe van die bekende Engelse idioom “there is no smoke without fire”)

Die koeie het in die brand geloop. (daar is nie melk vir die koffie nie)

Dit is nie die koei wat die hardste bulk wat die meeste melk gee nie. (dit is nie die grootprater wat die meeste doen nie)

Ou koeie uit die sloot grawe. (onaangename sake uit die verlede opgrawe)

Kuiken

Nog sommer ’n kuiken. (nog jonk)

Die kuikens tel voor hulle gepik het. OF Die kuikens tel voor jy weet of die henne van die haan hou. (op iets staatmaak voor dit nog gebeur – die Afrikaanse weergawe van die bekende Engelse idioom “count one’s chickens before they are hatched”)

Kuikenmoord (gesê as ’n grote ’n kleintjie afknou)

Lam

Soos ’n lam na die slagpale gelei word. (sonder verset jou ondergang tegemoetgaan)

Perd

Moenie ’n gegewe perd in die bek kyk nie. (moenie ’n geskenk kritiseer nie)

Dis een perd se prys. (dit kos nie veel kragtens geld of moeite nie)

Die perd wat die voer verdien, kry dit nie. (verdienste word nie altyd beloon nie)

Die hinkende perd kom agterna. (die moeilikheid kom aan die einde)

Die gewillige perd moet die las dra. (die gewilliges moet altyd al die werk doen)

’n Verkeerde perd opsaal. (’n verkeerde ding doen)

Pure perd voel. (baie gesond voel)

Die maerste perde skop die seerste. (’n mens word dikwels teleurgestel deur iemand van wie jy dit die minste verwag)

Die perd ruik sy stal. (iemand begin vinniger loop)

Soos ’n steeks perd. (onwillig om iets te doen)

Die perd se stert afpraat. (onophoudelik babbel)

Die beste perd struikel ook. (elkeen kan ’n fout begaan)

Die Trojaanse perd inbring. (onbewus gevaar inbring)

Die verkeerde perd opsaal. (onbewus gevaar inbring)

Jy kan ’n perd na die water bring, maar hom nie dwing om te drink nie. (gesê as jy nie iets met dwang kan bewerkstellig nie)

Daar sal perde wees. (daar sal groot moeilikheid wees)

Gou op jou perdjie wees. (gou kwaad word)

Iemand perdedrolle vir vye verkoop. (iemand probeer verkul)

Skaap

Skape aanja. (dronk wees)

Die skape van die bokke skei. (die goeies van die slegtes skei)

Die skapies bymekaarjaag. OF Skapies in een kraal hê. (trou)

Jou skapies op die droë hê. (welgesteld wees)

Die swart skaap van die familie. (die een wat die familie in die skande steek)

As een skaap deur die hek is, volg die ander almal. (mense volg maklik iemand wat die voortou neem)

Baie mak skape gaan in een kraal. (vredeliewende mense woon maklik saam)

’n Skaap OF Skaapkop. (dom persoon)

So skeel soos ’n skaap. (baie skeel)

Een skurwe skaap kan die hele trop aansteek. (een slegte mens kan baie mense verkeerd beïnvloed)

Die swart skaap wees. (die een wat altyd die skuld kry)

Soos verdwaalde skape. (sonder iemand wat leiding gee)

Skaapogies gooi. (verlief aankyk)

Vark

Iemand se bont varkie is weg. (is effens mal)

Iemand het nie al sy varkies in ’n hok nie. (is effens mal)

Jaag varke aan. (dronk)

Soos ’n maer vark skree. (baie hard skree)

Varke skuur hul modder teen pilare af. (slegte mense affekteer ander deur assosiasie)

So gelukkig soos ’n vark in modder. (baie gelukkig)

Baie varke maak die spoelling dun. (waar baie is, kry elkeen ’n bietjie)

Iemand kan nie ’n vark vang nie. (het hoepelbene)

So vet soos ’n vark. (baie vet)

Vies varke word nie vet nie. (mens moet nie te kieskeurig wees nie)

Sien ook Afrikaanse spreekwoorde

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar